Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Senaat keur beperkte afwyking van taal-implementeringsplanne goed
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 23/03/2021

Die Senaat van die US, die instelling se hoogste akademiese liggaam, het op 19 Maart 2021 ʼn aanbeveling van die Akademiese Beplanningskomitee, ʼn subkomitee van die Senaat, aanvaar dat daar vir die eerste semester van 2021 afgewyk word van fakulteite se taalimplementeringsplanne, in dié sin dat dosente nuwe leermateriaal net in Engels beskik hoef te stel, en nie ook Afrikaans soos bepaal in die huidige US Taalbeleid (2016) nie.

Dis is belangrik om daarop te let dat hierdie besluit net vir die eerste semester van 2021 geld, spesifiek weens die bykomende werkslading veroorsaak deur die verskuiwing na meer aanlyn onderrig weens COVID-19. Om dieselfde rede is dieselfde afwyking vir die tweede semester van 2020 toegestaan.

Ook belangrik is dat dit net nuwe leermateriaal raak. Dosente sal bestaande leermateriaal wat reeds in Afrikaans bestaan, steeds aan studente kan verskaf.  

In die aanbeveling word verwys na die praktiese realiteit dat daar tydsbeperkinge is om leermateriaal soos podsendings in beide Engels en Afrikaans op te neem. Wat egter ook goedgekeur is, is dat dosente sterk aangeraai word om steeds die US Taalsentrum te gebruik om hul Engelse podsendings in Afrikaans te vertaal waar prakties uitvoerbaar.

(Die Taalkomitee van die Raad het verlede jaar met waardering kennis geneem van die aanlyn inisiatiewe van die Taalsentrum met ’n bepaalde klem op die bevordering van meertaligheid gedurende noodafstandsonderrig. Ondanks vele uitdagings is daar groot suksesse behaal, wat goed deur sowel personeellede as studente ontvang is. Dít sluit in die vertaling van podsendings, aanlyn konsultasies deur die Skryflaboratorium, en innoverende nuwe aanlyn kursusse en digitale bemarking te midde van COVID-19.)

Voorts lui die goedgekeurde aanbeveling dat dosente steeds behoort voort te gaan om in ander vorme van leerfasilitering, soos aanlynbesprekingsforums en e-posse, student deur middel van nie net Engels nie maar ook Afrikaans te ondersteun, soos deur die betrokke modulespesifikasies vereis.

Wat nie deur hierdie aanbeveling geraak word nie, is assessering. Dit sal steeds in beide Engels en Afrikaans geskied. Met ander woorde, studente sal steeds hul werkopdragte in Afrikaans kan indien as hulle wil, en ook toetse en eksamens in Afrikaans kan aflê.

Die aanbeveling hou geen verband met die hersiening van die US se Taalbeleid nie. Klik hier vir meer inligting daaroor.