Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Topmatrikulante van 2020 op pad na US
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 23/02/2021

Verskeie van Suid-Afrika se topmatrikulante van 2020 beplan om vanjaar die Universiteit Stellenbosch (US) hul tuiste te maak.

Reynhardt Buys van Hoërskool Pearson in Port Elizabeth in die Oos-Kaap is die toppresteerder vir 2020 en begin vanjaar met sy studies in aktuariële wetenskap aan die US.

Buys het die eerste plek in die kwintaal vlak 5-afdeling van die 2020-matriekeindeksamen behaal en het ook die derde plek landwyd in wiskunde opgeraap.

Volgens Buys het hy nie 'n spesifieke resep vir sukses gevolg nie, maar het eerder seker gemaak om dadelik te begin studeer wanneer hy tuisgekom het van die skool af. Hy meen dit het hom gehelp om die eerste plek te bereik.

“Ek is regtig trots op myself en al die ure se harde werk. Terwyl my vriende partytjie gehou het, was ek tuis voor my boeke, besig om getrou die werk te doen. So in daardie opsig is ek regtig trots op myself," het Buys gesê.

Nog n topmatrikulant wat vanjaar Maties haar tuiste gaan maak, is Sonica Roux van Hoërskool Outeniqua in George in die Wes-Kaap. Sy het die derde plek in die kwintaal vlak 5-afdeling van die 2020 matriekeindeksamen behaal.

Roux wil graag 'n dokter word en gaan medies aan die US studeer. “Ek het nog altyd belang gestel in die geneeskunde en om ander te help. Met die verloop van jare het die vakgebied baie ontwikkel en dis iets waaroor ek regtig opgewonde is. Ek sien uit daarna om aan een van die voorste universiteite in die land te studeer en kan nie wag om die ander studente te ontmoet nie," het Roux gesê.

Van die ander toppresteerders wat op pad is na die US, is Daniel Alwyn Gouws van Hoërskool Hermanus. Hy is die Wes-Kaap se topmatrikulant in wiskunde. Gouws beplan om elektroniese ingenieurswese te studeer. Die topmatrikulante uit die provinsies Noordwes en Limpopo sal ook vanjaar by die US aansluit. Jana Geyser van Potchefstroom in die Noordwes gaan medies studeer, terwyl Diana van Niekerk van Hoërskool​ Pietersburg in Polokwane, Limpopo, arbeidsterapie gaan studeer.

Twee toppresteerders van Durban, Ryan Wood en Ishan Jewnarain, wat albei sewe onderskeidings behaal het, begin ook vanjaar met hul studies aan die US. Wood, van Glendwood High School, gaan medies studeer en Jewnarain, van die Northwood-skool, gaan aktuariële wetenskap studeer.