Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Drie eregrade; groot aantal kwalifikasies by US se hibriede Desember 2020-gradeplegtheid toegeken
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division
Gepubliseer: 11/12/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) ken vanjaar drie eredoktorsgrade toe by sy Desember 2020-gradeplegtigheid.

Die ontvangers is me Nasima Badsha, wat gehelp het om die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor te hervorm, prof Quarraisha Abdool Karim en die ontslape gestremdheidsaktivis, wyle me Rachel Kachaje, wie se graad postuum toegeken word en deur haar eggenoot, Gibson, in ontvangs geneem sal word.

Die US sal weens die COVID-19-pandemie 'n hibriede gradeplegtigheid hou, wat 12 klein seremonies in persoon vir die toekenning van doktorsgrade, eredoktorsgrade, Kanselierstoekennings en die Kanseliersmedalje in die Endlersaal sal insluit, asook virtuele fakulteitspesifieke gradeplegtighede. Die gradeplegtigheidseremonies sal van 14 tot 16 Desember 2020 gehou word.

EREGRADE

Me Badsha sal die graad Doktor in die Opvoedkunde (DEd), honoris causa, ontvang ter erkenning van haar visionêre, dapper en innoverende leierskap om rigting aan die hervorming van die hoëronderwysstelsel in Suid-Afrika te gee; vir haar intellektuele bydrae in die vorm van beleidsontwikkeling en -advies en vir haar toewyding aan toegang, billikheid en sosiale geregtigheid.

Prof Karim sal die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc), honoris causa, ontvang vir haar haar baanbrekersnavorsing op die gebied van HIV en as kampvegter vir die regte van mense wat met HIV saamleef of daardeur geraak word; vir haar toewyding om die gesondheid van jongvroue in Afrika en in die res van die wêreld te bevorder; vir haar leierskap in navorsing en wetenskaplike deurbrake; en vir haar ruimhartigheid om haar kennis deur wetenskaplike en burgerlik-gesentreerde ondernemings in Afrika en selfs verder te deel.

Me Kachaje, wat vroeër vanjaar oorlede is, sal die graad Doktor in die Filosofie (DPhil), postuum honoris causa, onder meer ontvang vir haar kreatiewe en visionêre leierskap om die debat oor gestremdheid van streeks- tot wêreldvlak te verhoog en vir haar moed om vooroordele oor gestremdheid uit te daag en die insluiting van mense met gestremdhede te bevorder.

KWALIFIKASIES

Die Universiteit ken hierdie Desember altesame 5 700 gesogte US-kwalifikasies aan studente toe – iets wat eenvoudig merkwaardig is gegewe die moeilike omstandighede wat hierdie jaar ingehou het. Hiervan is 3 400 eerste grade, diplomas en sertifikate, 502 meestersgrade en 138 doktorsgrade.

Die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, het dosente, ondersteuningspersoneel, tutors en studente geloof vir die feit dat hulle “die tweede myl, myl op myl, geloop het om ons akademiese projek op koers te hou."

“2020 sal nie maklik vergeet word nie. Wat as die spreekwoordelik as “die jaar van perfekte visie" begin het, het gou in ietwat van 'n nagmerrie ontaard weens die koronaviruspandemie. Ons moes almal baie diep in onsself gaan delf om op koers te bly met ons doelwitte," het hy gesê.

“Al die planne wat ons as Universiteit aan die begin van die jaar gehad het, is vinnig afgeskaal tot slegs twee oorhoofse oogmerke: om te sorg dat ons studente hul akademiese jaar kan voltooi en dat ons as instelling volhoubaar bly vir toekomstige innames. Ek dink ons het goed hierin geslaag – danksy die harde werk en opofferings van personeellede en studente."

Die Universiteit sal ook by die gradeplegtighede erkenning gee aan van sy akademici en personeellede van die US professionele en administratiewe ondersteuningdienste gee met die toekenning van die US Kanselierstoekennings.

Die 14 ontvangers van die 2020 Kanselierstoekennings sluit in:

  • Prof Arnold Schoonwinkel (Viserektor: Leer en Onderrig)
  • Prof Jimmy Volmink (Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe)
  • me Ellen Tise (Senior Direkteur: US Biblioteek- en Inligtingsdienste)
  • me Lazelle Bonthuys (Adjunkregistrateur)
  • me ​Carol Kat (Hoof: Kopiereg en Kortkursusse)
  • mnr André van der Merwe (Dirigent van die US-koor)
  • Prof JAC (Andre) Weideman (Professor in Toegepaste Wiskunde)
  • Prof Nuraan Davids (Professor of die Filosofie van Opvoedkunde)
  • mnr MJ Brooks (Fakulteitsdirekteur: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe)
  • Prof JF Görgens (Direkteur van die Sentrum vir Prosesingenieurswese)
  • Anel de Beer (Departementele bestuurder: Bedryfsingenieurswese)
  • mnr Rodney Davidse (Siviele Ingenieurswese)
  • Prof GPAG (Gideon) van Zijl (Sentrum vir die Ontwikkeling van Volhoubare Infrastruktuur)
  • Prof Marian Kruger (Uitvoerende hoof: Departement Pediatrie en Kindergesondheid)

Skedule vir Desember-gradeplegtighede:

Die seremonies in persoon sal van 14 tot 16 Desember 2020 plaasvind. Vier seremonies sal per dag gehou word. Klik hier vir toegang tot die skedule.

Sewe virtuele seremonies sal gehou word. Klik hier vir toegang tot die skedule.

Al die gradeplegtighede kan op die internet gevolg word by www.sun.ac.za/streaming.

 

MEER OOR DIE ONTVANGERS VAN DIE EREDOKTORSGRADE:

Me ​Nasima Badsha: Doktor in Opvoedkunde (DEd), honoris causa  (to be awarded on 14 December: 18:00)

Gebore in Pietermaritzburg in 1951, behaal sy 'n BSc-honneursgraad aan die Universiteit van Londen en 'n nagraadse onderwyssertifikaat in onderwys aan die Universiteit van Leeds. In 1976 keer sy na Suid-Afrika terug as dosent, voordat sy tot akademiese ontwikkeling en studentesake toetree by onderskeidelik die universiteite van Kaapstad en Wes-Kaap.

In 1994 word Badsha deur voormalige president Nelson Mandela aangestel om in die Nasionale Kommissie vir Hoër Onderwys (NKHO) te dien. Hier speel sy 'n sleutelrol in die konseptualisering van 'n nuwe hoëronderwysbedeling. Sy word in 1997 as adjunk-direkteurgeneraal van die Departement van Onderwys aangestel en help om die Wet op Hoër Onderwys van 1997, die Wet op die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente en die Standaard Institusionele Statuut op te stel. Badsha was in beheer van die inwerkingstelling van die Onderwyswitskrif 3 van 1997 en die Nasionale Plan vir Hoër Onderwys, wat tot grootskaalse herstrukturering van die hoëronderwyslandskap van 2002 tot 2005 gelei het.

Sy dien van 2007 tot haar aftrede in 2018 as die hoof-uitvoerende beampte van die Kaapse Hoëronderwyskonsortium. Suid-Afrika trek steeds voordeel uit haar kundigheid deur haar betrokkenheid by universiteits- en stigtingsrade.

 

Prof ​​Quarraisha Abdool Karim: Dokter in die Natuurwetenskappe (DSc), honoris causa (to be awarded on 15 December: 09:00)

Met haar doel om die nasionale en internasionale fokus op MIV-voorkoming – veral onder tienermeisies en jong vroue in Afrika suid van die Sahara – te verhoog, was prof Quarraisha Abdool Karim die afgelope 28 jaar aan die voorpunt van MIV-navorsing wêreldwyd.

Dit was haar span by die Sentrum vir Vigsnavorsing in Suid-Afrika (CAPRISA), waar sy mededirekteur van navorsing is, wat die Tenofovir-jel CAPRISA 004-toets gedoen het. Hierdie baanbrekerstudie het vir die eerste keer getoon dat antiretrovirale middels MIV-infeksie kan voorkom.

As A-gegradeerde Suid-Afrikaanse navorser en epidemioloog in aansteeklike siektes is Abdool Karim ook professor in Kliniese Epidemiologie by die Mailman Skool van Openbare Gesondheid by Columbia Universiteit, New York, en pro-visekanselier vir Afrikagesondheid by die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Sy word wêreldwyd erken vir haar wetenskaplike bydraes om die behoefte aan vroue-geïnisieerde tegnologieë en die integrasie van MIV-voorkomingspogings in dienste vir seksuele voortplantingsgesondheid aan te spreek.

Hierdie werk het haar reeds meer as 30 toekennings besorg, insluitende die Orde van Mapungubwe, die hoogste erkenning aan landsburgers deur die president van Suid-Afrika, en die vooraanstaande L'Oreal-UNESCO Vroue in die Wetenskap-toekenning vir Afrika en die Midde-Ooste.  Abdool Karim is die Spesiale Ambassadeur vir tieners en MIV van UNAIDS (die Verenigde Nasies se Vigs-program) en die wetenskaplike adviseur aan die uitvoerende direkteur van UNAIDS.

 

Me Rachel Kachaje: Doktor in Filiosofie (DPhil), postuum honaris causa (to be awarded on 14 December: 09:00)​

Rachel Kachaje was vir meer as 25 jaar 'n gestremdheidsaktivis en voorstaander vir gelyke geleenthede en regte vir mense met gestremdhede in Malawi, die Afrika-streek en internasionaal. Kachaje was bekend vir haar vermoë om jong mense met gestremdhede te inspireer, vir haar aktiewe betoning van medelye, respek, uitnemendheid, verantwoordelikheid en gelykheid.   

Kachaje, wat op driejarige ouderdom gestremd geraak het weens polio, het by die Nasionale Bank van Malawi gewerk toe sy vir die eerste keer by die gestremdheidsbeweging in Malawi aangesluit het. In die negentigerjare word Kachaje medestigter van die Federasie van Gestremdheidsorganisasies (FEDOMA) en verteenwoordig FEDOMA hierna in die Suider-Afrika Gestremdheidsfederasie (SAFOD).

Sy word as Minister van Gestremdheid- en Bejaardesake in Malawi aangestel en in 2004 ontvang sy 'n Malawi-menseregtetoekenning asook 'n diversiteitsleiertoekenning. Kachaje was deel van die VN-konvensie se baanbrekersonderhandelinge oor die regte van mense met gestremdhede (UNCRPD) en het bygedra tot besprekings rondom die Millennium-ontwikkelingsdoelwitte (MOD'e).

Kachaje het daarop gefokus om die agendas van mense met gestremdhede in die algemeen, en veral vroue en meisies, te bevorder en dit was haar missie om te bewys dat sukses deur 'n positiewe ingesteldheid bepaal word. ​