Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 30 November 2020)
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 04/12/2020

​Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Maandag 30 November byeengekom vir sy vierde en laaste geskeduleerde vergadering van 2020, 'n jaar wat ingrypend deur die wêreldwye koronaviruspandemie geraak is. Die vergadering het in hibridiese vorm plaasgevind – sommige lede het vanuit die Van der Sterr-gebou deelgeneem (met streng nakoming van alle tersaaklike regulasies en gesondheidsprotokolle), terwyl ander aanlyn ingeskakel het.

Die Raad het sy diepe waardering uitgespreek teenoor personeellede en studente van die Universiteit vir hul veerkragtigheid en aanpasbaarheid in hierdie buitengewone jaar, en vir hul bydrae sodat die instelling die vele uitdagings verbonde aan die COVID-19-krisis die hoof kon bied.

Ons het die Universiteit se begroting vir 2021 goedgekeur, waaronder aanpassings aan personeelvergoeding en studentegeld. Daarbenewens het ons twee van die US se viserektore
– proff Nico Koopman en Hester Klopper – opnuut aangestel met die ondersteuning van die Institusionele Forum en die Senaat. Hulle sal dus onderskeidelik 'n tweede termyn dien aan die stuur van die Universiteit se portefeuljes Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, en Strategie en Internasionalisering.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het sy kwartaallikse bestuursverslag voorgelê (klik hier) en die Viserektor: Leer en Onderrig (L&O), prof Arnold Schoonwinkel – wat aan die einde van die jaar aftree – het 'n oorsig gebied van die afgelope agt jaar se prestasies in sy verantwoordelikheidsentrum.

Leer verder vir meer oor besprekings en besluite by die vergadering.

Alle sterkte met die laaste take van die jaar. Ná 'n moeilike 2020 is ek seker dit sal ons almal opbeur om te sien hoe duisende US-studente van 14 tot 16 Desember gradueer (besonderhede). Geniet die ruskans wat voorlê, en keer veilig terug in 2021, wanneer die US beplan om die meeste van sy kampusaktiwiteite so ver moontlik te hervat, indien COVID-19 dit toelaat.

Vriendelike groete

George Steyn
Voorsitter: US Raad

Rektor se bestuursverslag aan die Raad

In sy bestuursverslag (skakel na volledige dokument verskyn hierbo, en klik hier vir 'n PDF van die PowerPoint-aanbieding) het prof De Villiers gesê dit het skerp sig vereis om koers te hou met die Universiteit se strategiese rigting toe die koronaviruspandemie aan die begin van 2020 uitgebreek het. Ál die instelling se planne was skielik op slegs twee prioriteite afgestem – om die akademiese jaar te voltooi en die US se volhoubaarheid te verseker – en die Universiteit het in albei opsigte goed gevaar.

Hy het in hierdie verband twee kernsuksesfaktore uitgelig. Die eerste was die Universiteit se vermoë om flink na noodafstandsonderrig, -leer en -assessering oor te skakel toe kontakonderrig in Maart gestaak is. Die tweede was die sameroeping van 'n Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV), wat 'n goed gekoördineerde en soepel Universiteitsreaksie verseker het.

Die Raad het 'n eenparige mosie aanvaar om die Rektor en sy bestuurspan geluk te wens met “hul leierskap, toewyding en volharding die afgelope jaar om as deel van die Universiteit se reaksie op die COVID-19-pandemie die akademiese program op koers te hou en stabiliteit te handhaaf".

Begroting 2021

Die Raad het op aanbeveling van sy Uitvoerende Komitee die Universiteit se geïntegreerde begroting vir 2021 en finansiële beplanning vir die tydperk 2022 tot 2026 goedgekeur. Volgens die Bedryfshoof, prof Stan du Plessis, was die begrotingsproses deelnemend, en verseker die begrotingsmodel voorspelbaarheid en deursigtigheid.

Die hooftrekke van aanstaande jaar se begroting is soos volg:

  • Studiegeld styg met 3,66% vir sowel voor- as nagraadse studente, wat internasionale inskrywings insluit. Dit verteenwoordig 'n inflasieverwante aanpassing om die jaarlikse styging in koste by die Universiteit te dek, en is minder as die 4,7% wat die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie voorgestel het.
  • Studentehuisvestingsgeld styg met 5,9% in die lig van die hoër kostefaktore verbonde aan hierdie lynitem, wat selfonderhoudend moet wees en afsonderlik hanteer moet word, soos vereis deur die regering. Die minister het 6,7% voorgestel.
  • 'n Algemene styging van 3,2% in personeelvergoeding sal op aanbeveling van die Raad se Vergoedingskomitee geïmplementeer word. (Dít was die inflasiekoers in Julie, toe die begrotingsproses begin het.) Die Raad het ook goedkeuring verleen vir 'n eenmalige betaling aan personeel gelykstaande aan 1% van hul totale koste van indiensname, as 'n blyk van waardering vir personeel se werk onder moeilike omstandighede in 2020. Dié betaling sal aan die begin van 2021 gemaak word.

Die hoofbegroting beloop R3,26 miljard, waarvan 49,4% aan fakulteite gaan, 26,9% aan die institusionele komponent, 21,1% aan professionele administratiewe steundienste, en 2,6% aan strategiese inisiatiewe.

Die US se totale geïntegreerde begroting vir 2021 beloop R6,94 miljard. Dít sluit kontraknavorsing, skenkings en kommersiële aktiwiteite in, waaruit die Universiteit die meeste van sy totale inkomste (47,1%) verdien. Die US se staatsubsidie maak 27,2% van geïntegreerde begrotingsinkomste uit, en studie- en huisvestingsgeld 23,2%. Ander inkomstebronne dra 2,5% tot die begroting by.

Die finansiële impak van COVID-19

Sedert Maart 2020, toe 'n landwye ramptoestand afgekondig is om die verspreiding van COVID-19 te stuit, funksioneer die US te midde van ongekende onsekerheid. Om die Universiteit teen onvoorsiene uitgawes te beskerm, het die Raad goedkeuring verleen dat bykans R105 miljoen opsygesit word.

Wat staatsfinansiering betref, het die US 'n aanvanklike R7,7 miljoen in COVID-19-toelaagfinansiering vir onderrig en leer ontvang, en in Oktober 'n verdere R14,9 miljoen vir kampusgereedheid. In dieselfde maand is die US se gewone staatsubsidie vir 2020 egter met R20,5 miljoen besnoei.

Vernaamste COVID-19-verwante kostes

  • Aankoop van 1 800 skootrekenaars vir studente: R13,7 miljoen
  • Databondels vir studente van April tot Desember: R14,4 miljoen
  • Betaalreëlings en bystandsmaatreëls: R0,9 miljoen
  • “Betaal net as jy bly"-beginsel in US-koshuise: R205,8 miljoen se inkomsteverlies

Die Raad het sy kommer uitgespreek oor die regering se sorgwekkende fiskale stand, wat duidelik uit die mediumtermynbegrotingsverklaring aan die einde van Oktober geblyk het. Die US se hoofbegroting is opgestel met inagneming van die huidige skerp resessie in Suid-Afrika, sowel as twee beduidende sektorrisiko's, naamlik die volhoubaarheid van die staatsubsidie en die moontlike regulering van studiegeld.

Die goedkeuring van die begroting is onderworpe aan finale bevestiging van die staatsubsidie teen die einde van 2020. Derhalwe het die Raad oudergewoonte ingestem dat die Rektor en die voorsitter en ondervoorsitter van die Raad enige begrotingswysigings goedkeur wat moontlik uit die bevestiging van die staatsubsidie kan spruit, ná oorlegpleging met die voorsitter van die Oudit- en Risikokomitee. Indien die wysigings beduidend is, moet 'n Raadsvergadering egter belê word.

Verslag van die Viserektor: Leer en Onderrig

Die Viserektor: Leer en Onderrig (L&O), prof Arnold Schoonwinkel, het sy jaarlikse verslagdoeningsgeleentheid benut om die Raad 'n oorsig van prestasies in sy verantwoordelikheidsentrum (VS) te bied – nie net oor die afgelope jaar nie, maar vir di​e agt jaar wat hy in hierdie hoedanigheid gedien het (2012–2020). Hy tree aan die einde van die jaar ná 'n loopbaan van 28 jaar by die US af. Voor sy twee termyne as Viserektor: L&O het hy twee termyne as dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese gedien (2002–2012), en was hy ook 'n kernlid van die span wat verantwoordelik was vir SUNSAT, Afrika se eerste plaaslik ontwikkelde satelliet wat in 1999 suksesvol in die aarde se wentelbaan geplaas is.

In sy bestuursverslag (klik hier vir die volledige dokument, en hier vir 'n PDF van die PowerPoint-aanbieding) het prof Schoonwinkel die vyf grootste nalatenskappe van die span in sy VS gedurende sy ampstermyn uitgelig, naamlik:

  1. die Raadsgefinansierde projek “Inligting- en Kommunikasietegnologie (IKT) in Leer en Onderrig", wat in 2014 van stapel gestuur is;
  2. die hantering van die #FeesMustFall-protesaksie in 2015;
  3. die US se meertalige Taalbeleid van 2016;
  4. die inwerkingstelling van 'n bedryfsplan vir hibridiese leer; en
  5. die voltooiing van die akademiese jaar 2020 ondanks COVID-19.

Die Raad het prof Schoonwinkel vir sy laaste verslag bedank en hom in 'n eenparige mosie gelukgewens met “sy leierskap in hierdie amp, en met die vordering wat gemaak en die sukses wat behaal is in pas met die US se strategie".

Hoogtepunte in prof ​Schoonwinkel se VS verskyn hieronder per kern strategiese temas van die US:

'n Florerende US

  • Nie minder nie as 95 departemente/programme het van 2012 tot 2020 'n eksterne evaluering ondergaan, wat 'n stewige grondslag lê vir akademiese uitnemendheid deur gehalteversekering en -verbetering.
  • Personeeldiversiteit in die VS L&O verbeter stelselmatig. Die persentasie bruin, swart Afrikaan-, Indiër- en Asiërpersoneellede het van 37% in 2013 tot 53% in 2020 toegeneem.
  • Inkomste uit leer en onderrig maak meer as 75% van die US se hoofbegroting uit.

Transformerende studente-ervaring

  • Ook die US se studentegemeenskap raak al hoe meer divers. Altesaam 27% van voorgraadse en 50% van nagraadse studente was in 2012 uit die bruin, swart Afrikaan-, Indiër- en Asiërbevolkingsgroepe, teenoor onderskeidelik 40% en 52% vanjaar.
  • Die US is een van weinig universiteite in Suid-Afrika wat deur 'n meertalige akademiese aanbod toegang verbreed. Meer as 60% van voorgraadse modules (geweeg volgens krediete) word in dubbelmedium (Engels en Afrikaans) aangebied, en bykans 20% in parallelmedium.
  • Die US bied sy studente 'n ryke verskeidenheid ervaringsleergeleenthede deur 'n groot aantal ko-kurrikulêre programme, waarvan 30 in 2020 formeel geakkrediteer was. Meer as 1 250 studente sal vanjaar op hul transkripte erkenning vir ko-kurrikulêre aktiwiteite ontvang.

Doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke

  • US-geadministreerde finansiële bystand vir studente (wat nie net uit institusionele geld bekom word nie, maar ook uit skenkings en eksterne geld vir voorgraadse beurse en lenings) het van sowat R200 miljoen in 2010 tot meer as R600 miljoen in 2020 toegeneem.
  • Medebelegging deur die Raad, die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) en eksterne skenkers stel die US in staat om wêreldklasfasiliteite vir leer en onderrig sowel as studenteverblyf van die hoogste gehalte te voorsien.

Genetwerkte en samewerkende onderrig en leer

  • Om akademiese uitnemendheid van 'n hoë, internasionaal vergelykbare standaard by die US te verseker, word akademiese programme voortdurend hersien en vernuwe. Altesaam 124 nuwe en herskikte programme is van 2012 tot 2020 by die US bekend gestel (byna die helfte daarvan op magistervlak).
  • Volgens die deursettabelle van die DHOO is die US die land se toppresteerder wat studentesukses betref. Die jongste kohorte toon selfs verdere verbetering ten opsigte van alle aanwysers. Vir drie jaar lange voorgraadse programme is die gradueringsyfer nou 72,5%, vir vier jaar lange voorgraadse programme 75,4%, en vir honneursgrade 88,7%. Die voorgraadse modulesuksessyfer (d.w.s. studente wat hul modules slaag) het die hoogtepunt van 87,2% bereik.
  • Daar word goeie vordering gemaak met die implementering van die US se bedryfsplan vir hibridiese leer (HL), wat in 2019 as een van die US se kernstrategieë vir L&O goedgekeur is. Die Universiteit is op koers om die persentasie studente wat vir HL ingeskryf is van 10,8% in 2018 tot 25% teen 2025 te verhoog. HL kombineer kort tydperke van kontakonderrig met aanlyn leer en is veral bedoel vir studente wat nie voltyds kan studeer nie. Die US se HL-aanbod konsentreer vir eers op kortkursusse sowel as nagraadse diplomas, baccalaureushonneurs- en magistergrade met 'n lesingkomponent – in bedryfs- en bestuurswetenskappe, geneeskunde en gesondheidswetenskappe sowel as voortgesette onderwyseropleiding.

Navorsing vir impak

  • Die US se jaarlikse Akademieskap van Onderrig en Leer- (AvOL-)konferensie bied dosente die geleentheid om hul navorsing aan te bied en ontluikende vakkundiges te inspireer. Vanjaar se geleentheid, wat ten volle aanlyn aangebied is en op leer en onderrig in die tyd van COVID-19 gekonsentreer het, het meer as 200 deelnemers gelok.

Voorkeurwerkgewer

  • Die US het verskeie inisiatiewe om akademici tot hul reg te laat kom as opvoeders, en om dosente te erken en te beloon. 'n Goeie voorbeeld is die jaarlikse Toekennings vir Voortreflike Onderrig. Agt dosente het vanjaar erkenning ontvang vir hul toewyding, professionaliteit, innovasie en selfbesinning.

Navorsingsuitset

Die Raad het met waardering kennis geneem dat die US se navorsingsproduktiwiteit (getal artikels gepubliseer) vir die jaar tot dusver hoër is as vir die ooreenstemmende tydperk in 2019, aldus data vanaf die Scopus-databasis. Altesaam 2 613 artikels wat op Scopus gelys is, is van Januarie tot Oktober 2019 gepubliseer, vergeleke met 2 763 vanjaar. Die meer as 300 COVID-19-verwante artikels wat ons Biblioteek- en Inligtingsdiens van April tot Oktober op Google Scholar opgemerk het, het gewis 'n rol in hierdie prestasie gespeel.

Nagraadse beurse

Die Rektor het verslag gedoen dat die US oor die volgende drie jaar R120 miljoen in nagraadse beurse sal belê om te sorg dat die instelling voortgaan om navorsing vir impak te onderneem. Dít behoort te vergoed vir die onlangse afname in beursfinansiering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS). Die beurse sal ook sorg dat die US se sentrums van uitnemendheid en SARChI-leerstoele voortgaan om hoogs gekwalifiseerde nagraadse studente vir die bedryf op te lewer, en ook steeds relevante navorsing onderneem wat die samelewing baat. Die beurse sal op 'n mededingende grondslag beskikbaar wees vir enige student in Suid-Afrika wat aan die US wil studeer.

Die US op die ranglyste

Die Raad het die nuus verwelk​​​om dat die US, ondanks al die uitdagings van die jaar, sy plek internasionaal verder verstewig het. Die US het sedert Augustus die merkwaardige prestasie behaal om op drie verskillende internasionale ranglyste – Sjanghai, Times Higher Education en die US News & World Report – onder die voorste universiteite ter wêreld getel te word.

Die Rektor het beklemtoon dat, hoewel die Universiteit allereers op akademiese en navorsingsuitnemendheid konsentreer, die belang van ranglyste in die algehele opvatting van 'n instelling se statuur nie geïgnoreer kan word nie. Terselfdertyd bly ranglyste 'n gekompliseerde en dikwels omstrede saak, wat omvattend in 'n verslag aan die Raad ondersoek is.​​

In 'n verbandhoudende ontwikkeling is die Raad ingelig van 'n dinamiese statistiese profiel oor verskeie aspekte van die instelling wat nou as 'n nuwe funksie op die US se webtuiste beskikbaar is. Die profiel bied geouditeerde statistiek en volledige uiteensettings van onder meer studente-inskrywings en kwalifikasies toegeken vir die afgelope tien jaar. Klik hier om toegang te bekom.

Wysiging van Dissiplinêre Kode vir Studente​

Die Raad het 'n aantal wysigings aan die Dissiplinêre Kode vir Stude​nte van die Universiteit Stellenbosch goedgekeur om sekere punte te hanteer wat na vore gekom het sedert die kode in 2017 geïmplementeer is. Die wysigings is aangebring ná 'n hersiening van die kode, en oorlegpleging met belanghebbendes en strukture oor die hele instelling. Die Institusionele Forum, Senaat sowel as die Raad se Sosiale en Besigheidsetiek- en Oudit- en Risikokomitee het almal die veranderinge goedgekeur. Die wysigings het onder meer betrekking op klousules oor akademiese wangedrag, die tydelike skorsing van 'n student in afwagting van 'n dissiplinêre verhoor, en die funksionering van die Sentrale Dissiplinêre Komitee.

Taalkomitee van die Raad

Die Raad het weer ʼn verslag van die jaar van sy Taalkomitee ontvang. Die Raad het kennis geneem van die argument dat die groter benutting van e-leer weens die impak van COVID-19 'n geleentheid bied om meertaligheid verder te bevorder. Die komitee het bevestig dat 'n navorsingsvoorstel in dié verband ontwikkel word.

Die komitee het fakulteite geloof vir die “innoverende maniere waarop hulle meertaligheid in hul omgewings bevorder", en die professionele administratiewe steundienste - (PASD-)omgewings vir hul “weloorwoë toepassing van die Taalbeleid" van die Universiteit.

Kampusvernuwing

Raadslede het voor Maandag se vergadering 'n toer van nuwe fasiliteite op Stellenboschkampus onderneem. Dit is duidelik dat kampusvernuwing goed op dreef is, met erkenning aan Fasiliteitsbestuur. Van die opwindende ontwikkelings in dié verband is soos volg (raadpleeg die Rektor se verslag vir verdere besonderhede):

  • 'n Kunsinstallasie om die Grondwet van Suid-Afrika te vier is voor die Ou Hoofgebou onthul. Dit maak deel uit van pogings om die Universiteit Stellenbosch meer inklusief te maak.
  • Die nuwe Jan Mouton Leersentrum, 'n ultramoderne gebou in die hartjie van Stellenboschkampus wat vir alle fakulteite beskikbaar is, sal in die akademiese jaar 2021 in gebruik geneem word. Met twee meerdoelige lesingsale met 260 sitplekke elk, twee elektroniese klaskamers met 135 werkstasies elk, en twee konferensieouditoriums met 350 sitplekke elk, is die sentrum uitgeknip om hibridiese leer by die US uit te brei.
  • ʼn Groot fotovoltaïese (FV) installasie vir sonkragopwekking op die dak van die Neelsie-studentesentrum sal in Januarie 2021 voltooi wees. Die panele sal 391 kWp (kilowatt by piekprestasie) lewer, wat direk aan die toevoerkant van die gebou ingevoer sal word. Die stelsel sal elektrisiteitsverbruik by die Neelsie en die Jan Mouton Leersentrum aansienlik verminder en beduidende besparings vir die Universiteit meebring.
  • Die projek vir niegemotoriseerde vervoer in Victoriastraat is die eerste van sy soort op die Stellenboschkampus en sal voetpaaie, getekstureerde plaveisel vir persone met aangetaste sig én fietsbane voorsien – alles in een.
  • 'n Nuwe oorspoelfasiliteit is in Hammanshandweg oorkant die Ingenieurswese-kompleks opgerig om as tydelike kantoorruimte te dien vir personeellede wat hul geboue vir opknappingswerk moet ontruim. Dié moderne gebou met die heel jongste toebehore het plek vir meer as 210 mense. Volop buiteparkering word voorsien.

Handelsmerkprojek

Die Raad het 'n verslag oor die US-handelsmerkprojek van prof Hester Klopper ontvang.

Wat vroeg in 2019 as 'n opknapping van die US se handelsmerk begin het, het nou in die skep van 'n algeheel nuwe handelsmerkidentiteit ontwikkel. Die handelsmerkroete is sedert die vorige Raadsvergadering in September aangepas om wyer institusionele deelname te verseker. Gestruktureerde inligtingsuitruiling- en skakelingsessies, gefasiliteerde werksessies en 'n aanlyn opname is in die voorontwerpfase in Oktober 2020 voltooi, alles met die oog daarop om die vernaamste institusionele belangegroepe te raadpleeg.

Die hooftemas uit die oorlegpleging tot dusver is aan die Raad voorgelê (klik hier vir 'n aanbieding). Dít sal die grondslag uitmaak vir die ontwerpopdrag wat die aangestelde professionele handelsmerkagentskap as 'n riglyn vir die skep van 'n nuwe visuele identiteit sal gebruik. Daarna sal nóg 'n rondte oorlegpleging met belanghebbendes, waaronder lede van die Institusionele Forum, die Senaat en die Raad, volg. Die opsies op die uiteindelike kortlys sal by interaktiewe forumtipe sessies aangebied word, en 'n elektroniese peiling word ook beplan.

Die voorgestelde logo sal dan aan statutêre liggame voorgelê word, waarna dit vir finale goedkeuring voor die Raad sal dien.

Versnelde diensbillikheid by die US

Die Raad het die maatreëls verwelkom wat die bestuur ontwikkel het om diensbillikheid by die US te bevorder. Dít sluit in die versnelde implementering van die Kode vir Diensbillikheid en Diversiteit, wat vroeër vanjaar goedgekeur is. Omgewings sal voortaan opvolgingsbeplanning doen en werwingsprosesse van stapel stuur wat met die kode strook.

Moniteringsmeganismes sal ontwikkel en geïmplementeer word om groter diversiteit in die personeelkorps te help skep. Die transformasie en vernuwing van die US se institusionele kultuur deur die pas hersiene program Siyakhula (“Ons groei") word ook ondersteun.

Gebiede waar huidige regulasies vir die aanstelling en heraanstelling van senior PASD-personeel verbeter moet word, sal geïdentifiseer word. Dít sal insluit die bekendstelling van riglyne om te sorg dat die Senior Aanstellingskomitee op gepaste wyse gediversifiseer word.

Raadstrukture en -lede

Die Raad het mnr Xola Njengele en me Ayesha Abou-Zeid verwelkom by hul eerste vergadering as lede wat vir die termyn 21 September 2020 tot 26 September 2021 deur die SR aangewys is.

Prof Arnold Schoonwinkel en mnr Charl Cillié het hul laaste Raadsvergadering bygewoon, en is onderskeidelik vir hul diens sedert 2012 en 2018 bedank. Soos reeds genoem is, tree prof Schoonwinkel aan die einde van die jaar af, terwyl mnr Cillié in 2021 weer as student sal inskryf en só ʼn lewenslange droom om medies te studeer, verwesenlik.

Die Raad het sy Uitvoerende Komitee se besluit bekragtig dat die termyn van huidige Raadskomitees as 'n oorbruggingsmaatreël tot die einde van die jaar verleng word. Raadslede wat by die vergadering as nuwe lede in die verskillende Raadskomitees aangestel is, sal op 1 Januarie 2021 met hul termyn van twee jaar begin.

Planne vir 2021

Die Raad het kennis geneem dat die US beplan om volgende jaar die meeste van sy kampusaktiwiteite so ver moontlik te hervat, indien COVID-19 dit toelaat. Die Universiteit sal op 4 Januarie 2021 heropen, en planne word opgestel om personeellede op die gepaste tydstip na die kantoor te laat terugkeer, mits dit vir hulle moontlik is én in oorleg met hul lynbestuurders. Die verwelkomingsprogram vir nuwelingeerstejaars begin op 4 Maart met die studente se aankoms op kampus en by koshuise, en alle voorgraadse klasse begin op 15 Maart. (Nagraadse studente en sekere akademiese programme het vroeër aanvangsdatums.) Die doel is om weer met kontakonderrig te begin, aangevul met ʼn mate van aanlyn leer, in pas met COVID-19-regulasies oor klasgroottes en fisiese distansiëring. Datums vir 2021 is te kry in die US Almanak op die US-tuisblad (klik hier), en die jongste nuus word op die US se toegewyde COVID-19-webblad geplaas (klik hier).

Volgende vergadering

Die volgende Raadsvergadering is vir Dinsdag 13 April 2021 belê.

(ONDERSKRIF: Lede van die US Raad besigtig ʼn lesinglokaal in die nuwe ultramoderne Jan Mouton Leersentrum as deel van hul kampustoer voor hul vergadering Maandagoggend, 30 November 2020. FOTO: STEFAN ELS)