Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika Sentrum vir MIV-/Vigsbestuur betreur afsterwe van prof Johan Augustyn
Outeur: Vuyiseka Dubula-Majola & Ronél Beukes
Gepubliseer: 03/12/2020

Dis met leedwese dat die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe die onverwagte afsterwe van prof Johan Augustyn ná 'n hartaanval by sy huis in Sandbaai aankondig. 

Prof Augustyn was 'n Matie in murg en been. Hy het sy hele tersiêre opleiding – wat sy PhD-graad in 1978 ingesluit het – by die Universiteit Stellenbosch voltooi en het verder as akademikus by verskeie geleenthede van 1970 tot sy aftrede in 2006 by sy alma mater gewerk.

Gedurende sy loopbaan by die Unviersiteit Stellenbosch was hy aan die Departement Bedryfsielkunde (1970 – 2002) verbonde en daarna aan die Afrika Sentrum vir MIV-/Vigsbestuur (2003 – 2006). As 'n gekwalifiseerde bedryfsielkundige het prof Johan ook as akademikus by die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) gewerk en as senior menslike hulpbronbestuurder by Metropolitan Life/Metropolitan Holdings in die 1980's.

Volgens mev Vuyiseka Dubula-Majola, direkteur van die Afrika Sentrum vir MIV-/Vigsbestuur, het hy sy werk as dosent, navorser en gemeenskapsaktivis ná sy amptelike aftrede in 2006 voortgesit. “Sy betrokkenheid by die Afrika Sentrum vir MIV-/Vigsbestuur – wat hy saam met prof Jan du Toit gestig het – het hom die afgelope 15 jaar besiger as ooit gehou. As medeprofessor en daarna buitengewone professor by die Afrika Sentrum, was prof Augustyn nie net die institusionele geheue van die Afrika Sentrum nie, maar ook 'n wyse en gerespekteerde ringkop.

“Hy sal geweldig gemis word."

  • Foto (verskaf): Prof Johan Augustyn (18 Julie 1946 – 29 November 2020)