Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Telematiese Skole Projek is besig om van krag tot krag te gaan
Outeur: Christina Harvett
Gepubliseer: 13/11/2020

​Die Telematiese Skole-projek is 'n gesamentlike projek van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en die Universiteit Stellenbosch met die doel om tegnologie te gebruik om onderwys te ondersteun.

Die Telematiese Skole-projek is in 2009 in 10 skole met vyf vakke geloods en het uitgebrei na 1 300 skole met geïnstalleerde satelliettoerusting en 15 vakke wat in beide Afrikaans en Engels aangebied word. 

Die Telematiese Skole-projek het ontwikkel en gegroei tot 'n omvattende aanlyn- en intydse hulpbron waardeur interaktiewe lesse oor verskillende kanale uitgesaai word en waar leerders enige tyd van die dag of nag toegang het tot 'n webtuiste sonder datakoste met video's and leermateriaal.

Leerders word bemagtig deur te kan registreer vir toegang tot die modern webwerf, waar hulle teen hulle eie pas deur die video's en leermateriaal kan werk.

Belangrike skakels:

Webwerf: schools.sun.ac.za
Facebook: Telematic Schools Project
WhatsApp: 083 792 1239

 

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en die Universiteit Stellenbosch poog om voortdurend die projek te verbeter. Die vennootskap en vaardighede van beide partye en die harde werk van die ondersteuningspanne is verantwoordelik vir die koste-effektiewe bestuur en verreikende impak en sukses van die projek. Die toekomstige doel is om selfs 'n groter verskil in die onderwys-omgewing te maak deur ondersteuning in meer vakke aan te bied, met moontlik die insluiting van ander grade, om leerders te ondersteun met vaardighede soos studiemetodes en deur psigosomatiese kwessies aan te spreek, sowel as meer professionele ontwikkeling vir onderwysers.

 

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en die Universiteit Stellenbosch is daaraan verbind om leerders te help om hulle potensiaal te bereik. Toe die projek afgeskop het, was die uiteindelike doel van die ingryping om die Graad 12 jaar-eindresultate van onderpresterende en agtergeblewe skole te verbeter.

Alhoewel alle skole nou toegang tot die projek het en daarby kan baat vind, is die doel nog steeds om dit toeganklik te maak vir kwesbare leerders in onderpresterende skole, asook om die toppresteerders te ondersteun.