Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bly groei as dosent by die US
Outeur: Gerda Dullaart
Gepubliseer: 29/07/2020

Bly groei as dosent by die US
 

Teaching Fellowships

Die US Onderriggenootskappe bied voortreflike opvoeders en vakkundiges in onderrig en leer die geleentheid om meer dikwels vir volgehoue tydperke, en met verskillende vorme van ondersteuning, op aspekte van kurrikulumvernuwing, die verkenning van onderrig en leer, en die verspreiding van goeie onderrig- en leerpraktyk in departemente en fakulteite te fokus. Meer inligting oor die 2021 Onderriggenootskappe is beskikbaar by dr Karin Cattell-Holden, kcattell@sun.ac.za of op die SOL webwerf​.


Die kenniskorpus van dr Elize Archer se onderriggenootskap groei voort verby die tydsraamwerk van die genootskap (2017 – 2019)​.  Sy is onlangs erken deur ‘n Vroeë Loopbaanontwikkelingsfonds (Junie 2020-Junie 2021) toekenning. Haar navorsing oor empatie in gesondheidsberoepe, en hoe ons dit kan onderrig en aanleer, het heelparty kollegas (en ook haarself) bemagtig en gelei tot die insluiting van empatie as deel van die huidige kurrikula. Dit dra by tot groter bewustheid van pasiënte as die middelpunt van die gesondheidstelsel.

 

Elize se navorsing en onderrig het bevind dat gesondheidsberoepslui gedragsvaardighede soos empatie kan aanleer, maar hulle sal waarskynlik nie volgehoue veranderinge maak vir pasiëntgesentreerde gesondheidsorg totat dit resoneer met hulle eie wêreldbeelde nie.  Sover het sy meeste van hierdie werk met voorgraadse studente gedoen.  Dr Archer het besef dat studente se gedrag en gedagtes beter beïnvloed kan word as die registrateurs se perspektief in ag geneem word.  Registrateurs is spesialiste in opleiding en hulle het 'n groot invloed op junior studente se ontwikkeling.  Dit is belangrik om te verstaan hoe hulle in die besige en komplekse gesondheidstelsel regkry om empaties te kommunikeer en om te gaan met pasiënte.  En dit is presies hierop waarop haar opvolgnavorsing fokus.

 

“Die voorsienbaarhede wat SOL verskaf was instrumenteel in my akademiese ontwikkeling.  As ‘n nuwe dosent in the Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het ek in 2008 ‘n FINLO toekenning ontvang vir ‘n projek oor die gebruik van gesimuleerde pasiëntscenario in die onderrig van basiese vaardighede in kliniese prosedure.  Dit het my gehelp om die kommuniksasievaardighede van mediese studente te begin ondersoek.  Van daar af het so baie gebeur en ek is oortuig dat hierdie geleentheid my gehelp het om te begin!”

Dr Archer het ’n US Toekenning vir Uitnemende Onderrig in die kategorie “ Ontluikende Dosent” in 2018 ontvang. In 2019 het sy ook ’n sertifikaat van meriete vir haar Onderriggenootskap ontvang ter erkenning van haar bydrae tot die ontwikkeling van die akademieskap van onderrig en leer aan die US.