Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skool vir Rekeningkunde betreur afsterwe van Yvette Diedericks
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 06/06/2020

Die bestuur van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch het met skok en hartseer verneem van die afsterwe van me Yvette Diedericks van die Skool vir Rekeningkunde op 4 Junie 2020. Sy het aan asma gely.

“Ons innige meegevoel gaan aan haar gesin, vriende en kollegas. Hulle is in ons gedagtes en gebede," het prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit gesê.

Yvette het in April 2014 by die Universiteit Stellenbosch begin werk. Drie jaar later is sy as administratiewe assistent by die Biblioteek en Inligtingsdiens aangestel, en in February 2018 as sekretaresse by die Skool vir Rekeningkunde.

Yvette was 'n opgeruimde, positiewe persoon wat die lewens van baie mense aangeraak het. Sy was altyd gewillig om te help, selfs al was dit nie haar verantwoordelikheid nie, en het almal met waardigheid en respek behandel. Haar pragtige glimlag het ander se dag verhelder.

Dans was een van haar passies. Yvette het in die Paarl gewoon en word oorleef deur haar moeder en jong seuntjie, Yale.

Yvette se lewendige persoonlikheid en hartlike lag sal opreg gemis word.​