Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 6 April 2020)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 09/04/2020

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Maandag 6 April sy eerste vergadering vir 2020 gehad.

In 'n eerste vir die Raad het die vergadering virtueel plaasgevind op 'n aanlyn samewerkingsplatform wat videokonferensies moontlik maak. Dít was in pas met die nasionale inperkingsregulasies om die verspreiding van die koronaviruspandemie (COVID-19) te bekamp. Dit was ook die eerste vergadering van die nuutsaamgestelde Raad ingevolge die gewysigde Statuut, wat die ledetal van 30 tot 25 verminder het.

Die Raad het trots kennis geneem daarvan dat die US-gemeenskap hulle deel doen om die ramp die hoof te bied. Inisiatiewe sluit in Voedselwetenskap-navorsers wat handontsmetmiddel uit ou brood gemaak het; honderde Tygermaties wat frontliniegesondheidswerkers vrywillig bystaan; 45 multidissiplinêre koronavirusverwante navorsingsprojekte en -aktiwiteite in verskeie US-omgewings, en 'n rekordgetal van 3 278 graduandi wat hulle kwalifikasies by die US se heel eerste virtuele plegtigheid ontvang het.

Omdat die COVID-19-krisis flink en soepel optrede vereis, het die Raad 'n aanbeveling bekragtig vir die tydelike oordrag van bevoegdheid aan die voorsitter en ondervoorsitter van die Raad om dringende besluite namens die Raad te neem, indien dit nodig sou wees.

Daarbenewens het die Raad bestuursverslae oor die US se reaksie op die wêreldwye COVID-19-krisis ontvang, en belangrike besluite oor die US se finansiële volhoubaarheid geneem. Die Raad het ook nuwe lede verwelkom en van ander lede afskeid geneem, en prof Wim de Villiers sterkte toegewens vir sy tweede termyn as Rektor en Visekanselier.

Lees gerus verder vir meer besonderhede.

Vriendelike groete, en bly veilig

George Steyn
Voorsitter: US Raad

COVID-19-pandemie

Hierdie vergadering van die US Raad het plaasgevind te midde van groot onsekerheid in die hoëronderwyssektor vanweë die impak van COVID-19. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die verspreiding van die siekte in Maart tot 'n internasionale pandemie verklaar. En die Suid-Afrikaanse regering het ingrypende maatreëls ingestel om die infeksiesyfer te beperk, die kurwe af te plat en die verwoestende gevolge van die virus teen te werk.

Die Raad het die bestuur geloof vir hulle vinnige en besliste optrede om die US se studente en personeellede te beskerm en terselfdertyd kontinuïteit in die Universiteit se bedrywighede te verseker. Die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het beklemtoon dat die Universiteit in dié tyd voorkeur aan twee hoofprioriteite gee: om die akademiese jaar te voltooi, en om volhoubaarheid te verseker.

Vir dié doel is die COVID-19-gebeurlikheidskomitee, wat in Februarie op die been gebring is, uitgebrei tot 'n oorhoofse Institusionele Komitee vir Bedryfskontinuïteit (IKBK) onder leiding van prof Stan du Plessis, die US se Bedryfshoof. Die komitee se bedrywighede is in sewe werkstrome ingedeel om onderskeidelik aandag te gee aan studentedienste; personeel; leer en onderrig; kommunikasie en eksterne betrekkinge; kampusbedrywighede; finansiële en regsaangeleenthede, en navorsing. Die IKBK ontvang ook leiding van 'n Mediese Advieskomitee met prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, as voorsitter.

Aangesien kontakonderrig opgeskort is en niemand in hierdie stadium kan voorspel hoe lank die COVID-19-pandemie sal duur nie, is voorbereidings by die US in volle gang om op 20 April met aanlyn onderrig en leer te begin. Die US het in ieder geval die afgelope paar jaar sy hibridiese en aanlyn onderrig-en-leeraanbod stelselmatig begin uitbrei. Daardie werk is nou bloot bespoedig.

Die Viserektor: Leer en Onderrig, prof Arnold Schoonwinkel, het toegee dat hierdie oorgang bepaalde uitdagings sal inhou, maar het ook die Raad gerusgestel dat die Universiteit alles moontlik doen om personeellede en studente te ondersteun. Hy het verwys na daaglikse webinare oor aanlyn onderrig vir US-dosente, en 'n spesiale webblad met aanlynleerwenke wat vir studente geskep is. Die Universiteit het ook bevestig dat sekere selfoonnetwerke studente gratis toegang sal bied om die US se aanlyn leer-en-onderrigplatforms te gebruik.

Finansiële besluite

Nes vir die samelewing in die algemeen, is die volle omvang van die finansiële implikasies van die COVID-19-pandemie vir die Universiteit nog onduidelik. Nietemin sal die impak waarskynlik beduidend wees wat direkte en indirekte koste sowel as verlies aan inkomste betref. Om die Universiteit vir hierdie ontwrigting toe te rus en teen onvoorsiene institusionele uitgawes met betrekking tot die bestuur van die krisis te beskerm, het die Raad Maandag goedkeuring verleen dat bykans R105 miljoen opsygesit word, wat uit die volgende bronne bekom is:

  • Die Raad het op aanbeveling van sy Uitvoerende Komitee die US se finansiële resultate van 2019 goedgekeur, en besluit om die volle surplus van R45,24 miljoen uit die hoofbegroting van 2019 na die Universiteit se gebeurlikheidsreserwe oor te dra.
  • Die staatsubsidie wat in Desember 2019 aangekondig is, was meer as wat die US verwag het. Daarom kon die Raad 'n bykomende R45 miljoen uit die begroting van 2020 aan die gebeurlikheidsreserwe toeken.
  • Laastens het die Raad besluit om die tot dusver nie-toegekende R14,5 miljoen in die institusionele blok van die hoofbegroting van 2020 óók vir uitgawes met betrekking tot COVID-19 opsy te sit.

Daarbenewens het die Raad kennis geneem van 'n tydelike verbod op besteding uit hoofbegroting-balansfondse in verantwoordelikheidsentrums en fakulteite. Tot verdere kennisgewing sal balansfondsbesteding aan enige nuwe inisiatiewe slegs met die toestemming van die Bedryfshoof of die Hoofdirekteur: Finansies kan geskied.

Rektor se tweede termyn

Die Raad het prof Wim de Villiers gelukgewens met die aanvang van sy tweede vyfjaartermyn op 1 April 2020. Toe die Raad hom op 25 September 2019 eenparig vir 'n tweede keer aangestel het, is daar opgemerk dat die US gedurende prof De Villiers se eerste termyn uitmuntend presteer het, en dat hy ook 'n oortuigende visie vir sy tweede termyn voorgelê het. Hoewel die COVID-19-krisis sake intussen bemoeilik het, het die Raadsvoorsitter, mnr George Steyn, gesê die Rektor het tot dusver merkwaardige leierskap aan die dag gelê om hierdie uitdaging die hoof te bied.

Prof De Villiers het Raadslede vir hulle goeie wense bedank. Hy het erken dat die Universiteit hom nou weens die impak van die koronaviruspandemie op onbekende terrein bevind. Nietemin het die Rektor ook vertroue uitgespreek in die US se vermoë om die krisis te bowe te kom – en op die koop toe waardevolle bystand aan die land en sy mense te bied – danksy die uithalerbydraes van personeellede, studente, alumni, finansiers, skenkers en vriende van die instelling.

Klik hier vir die Rektor se volledige bestuursverslag aan die Raad.

Navorsing, innovasie en nagraadse studie

Dit was hierdie keer prof Eugene Cloete se beurt om oor die afgelope jaar se bedrywighede in sy verantwoordelikheidsentrum (VS) – Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie – verslag te doen
(klik hier vir die volledige dokument, en hier vir sy skyfie-aanbieding). Prestasies op hierdie gebied beloof goed vir die verwesenliking van die US se Visie 2040 om “Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit" te word “wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder".

Van die hoogtepunte uit prof Cloete se verslag, aan die hand van uitgesoekte kern strategiese temas van die US, was soos volg:

'n Florerende Universiteit Stellenbosch

  • Sowat 76% van die US se derdestroominkomste (uit navorsingskontrakte) is in 2019 uit internasionale bronne bekom. Dít getuig van die wêreldwye erkenning wat die instelling geniet, wat die US se volhoubaarheid op lang termyn sal ondersteun.

'n Transformerende studente-ervaring

  • Altesaam 50,8% van die kwalifikasies wat die US in die akademiese jaar 2019 toegeken het, was nagraads. Dít sluit in 'n rekordgetal van 361 doktorate – 35% meer as die 267 in 2015. Die US het oor die vyf jaar van 2015 tot 2019 'n verstommende 7 460 magistergrade en 1 519 PhD's toegeken. Dit verteenwoordig 'n aansienlike bydrae tot vooruitgang en ontwikkeling – nie net in ons land nie, maar ook elders in Afrika en die res van die wêreld.

Genetwerkte en samewerkende onderrig en leer

  • Die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens beskik oor 798 508 gedrukte boeke en 15 141 e-boeke, en bied voltekstoegang tot 258 125 joernaaltitels. Meer as 1,3 miljoen besoeke is in 2019 by die ses biblioteke op die US se drie kampusse aangeteken.

Navorsing vir impak

  • Die getal US-navorsers met 'n gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) het in Februarie 2020 'n historiese hoogtepunt van 485 bereik, nadat dié syfer in 2016 nog op 394 gestaan het.
  • Die US spog nou met 51 navorsingsleerstoele – meer as dubbel die getal in 2014. Hiervan maak 28 deel uit van die Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoelinisiatief (SARChI), wat deur die Departement van Wetenskap en Innovasie gefinansier word. 'n Verdere 23 navorsingsleerstoele by die Universiteit word deur ander borge finansier.
  • Die US bly een van Suid-Afrika se mees navorsingsproduktiewe instellings. Ons akademici het in 2018 (die jongste beskikbare syfers) 'n rekord van 1,64 navorsingspublikasieuitsette per kop behaal. En volgens die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het US-akademici ook alle ander universiteite in Suid-Afrika oortref wat die publikasie van subsidie-kwalifiserende boeke betref.
  • Die US is steeds die nasionale leier met sy getal patentaansoeke ingevolge die Patentsamewerkingsverdrag (“PCT") (127 van 2009 tot 2019). 'n Hele aantal van hierdie uitvindings was internasionaal in die nuus.

US-handelsmerkvernuwing

Die Raad het kennis geneem van 'n voorlegging oor die US-handelsmerk deur die Viserektor: Strategie en Internasionalisering, prof Hester Klopper.

'n Eenvormige en konsekwente US-handelsmerkidentiteit is kort voor die US se Eeufeesjaar in 2018 ontwikkel nadat 'n oudit van US-handelsmerke meer as 170 verskillende visuele identiteite dwarsoor die Universiteit aan die lig gebring het. Die Eeufees-logo is goed ontvang en het die weg begin baan vir ʼn monolitiese handelsmerkidentiteit.

Die Rektoraat het gevolglik die volgende riglyne vir die ontwikkeling van 'n nuwe visuele identiteit voorsien:

  • Behou die US-wapen (hoewel in 'n nuwe vorm, indien nodig)
  • Ontwikkel 'n monolitiese institusionele identiteit
  • Skep 'n vars nuwe visuele identiteit en vervang die S-blaarlogo
  • Behou maroen as die vernaamste institusionele kleur

Wat die doelwit van 'n monolitiese institusionele identiteit betref, is 'n handelsmerknarratief ontwikkel ná 'n omvattende ontleding van meer as 120 dokumente (waaronder Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 en die resultate van meningspeilings). Hoewel dit dalk nog taalversorging vereis, is 'n byna finale weergawe van die narratief sedertdien deur die Rektoraat goedgekeur.

Werk aan die visuele identiteit vorder ook goed. Die aangestelde handelsmerkagentskap, Boomtown, het die afgelope drie maande in samewerking met kollegas van die Universiteit se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie aansienlike vordering gemaak met die skep van 'n vars voorkoms vir die US-handelsmerk.

Kli​​k hier vir uittreksels uit die handelsmerkvorderingsverslag wat aan die Raad voorgelê is.

Personalia

Die Raad het die volgende individue as nuwe en terugkerende lede verwelkom:

  • Mnr Lewis Mboko, voorsitter van die Studenteraad (SR), en me Ingrid Heydenrych (Primkomiteevoorsitter en SR-lid), wat vir 2020 deur die SR in die Raad verkies is;
  • Mnr Jannie Durand, wat vir die termyn 2 April 2020 tot 1 April 2024 deur US-skenkers herkies is;
  • Mnr Wayde Davidse, wat vir die termyn 6 April 2020 tot 5 April 2022 deur permanente lede van die US se professionele administratiewe steundienste- (PASD-)personeel herkies is;
  • Prof Reggie Nel en prof Amanda Gouws, wat onderskeidelik deur die Senaat verkies en herkies is, albei vir die termyn 2020–2021, en prof Aslam Fataar, wat vir die termyn 1 Julie 2020 tot 30 Junie 2022 herkies is; en
  • Prof Arnold Schoonwinkel, wat deur die Rektor en Visekanselier aangestel is as die enigste viserektor om vir die jaar in die Raad te dien. Dít strook met die nuwe samestelling van die Raad wat op 1 April 2020 kragtens die gewysigde US Statuut in werking getree het. Prof Schoonwinkel se termyn eindig op 31 Desember 2020, wanneer hy uittree.

Die Raad het ook me Susan van der Merwe, waarnemende senior direkteur van Korporatiewe Kommunikasie, en mnr Mohamed Shaikh, uitvoerende bestuurder van die Rektoraat, in hulle hoedanigheid as waarnemers verwelkom.

Laastens, aangesien die volgende Raadslede se termyne onlangs verstryk het, het die Raad hulle in hul afwesigheid vir hulle waardevolle bydraes bedank:

  • Prof André Coetzee, wat deur die Konvokasie verkies is;
  • Prof Joan Hambidge, wat deur die Konvokasie verkies is; en
  • Mnr Paulu Joubert en me Carli van Wyk, wat deur die SR verkies is.

Volgende vergadering

Die volgende vergadering van die US Raad is vir 22 Junie 2020 geskeduleer.

= = = = = = =

Bo: 'n Saamgestelde beeld van selfies deur Raadslede en waarnemers wat deelgeneem het aan die historiese eerste virtuele vergadering van die liggaam op 6 April 2020 weens die COVID-19-grendelstaat, van links af, boonste ry: prof Eugene Cloete, mnr Ainsley Moos (ondervoorsitter), mnr Charl Cillié, proff Wim de Villiers, Hester Klopper en Arnold Schoonwinkel, en me Nadine Moodie; middelste ry: prof Reggie Nel, mnr Mohamed Shaikh, mnr Lewis Mboko, proff Johan Fourie, Nico Koopman, Amanda Gouws en Aslam Fataar; onderste ry: mnr Johan Theron, dr Tsakani Ngomane, adv Jean Meiring, prof Stan du Plessis, mnre Jannie Durand en George Steyn (voorsitter), en dr Ronel Retief.