Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bevestig eerste postiewe COVID-19 geval
Outeur: Prof Wim de Villiers​: Rector and Vice-Chancellor
Gepubliseer: 19/03/2020

Die Universiteit Stellenbosch het sy eerste bevestiging van 'n personeellid wat positief vir die COVID-19-virus getoets het, ontvang. 'n Lid van die personeel op die Tygerberg-kampus wat onlangs oorsee gereis het, is in selfafsondering en word onder die toesig van die provinsiale en nasionale departemente van gesondheid behandel. Ons wens ons kollega alle sterkte en 'n volkome herstel toe.

Mense ná aan die persoon is geïdentifiseer en die gepaste gesondheidsowerhede is besig om met hulle in verbinding te tree. Blootstelling van alle ander kollegas en studente by Tygerberg word tans as 'n baie lae risiko beskou en die Fakulteitsbestuur by Tygerberg het al die nodige maatreëls getref om te verseker dat die kampusgeriewe veilig is. Inligting wat spesifiek van toepassing is op die kampus, sal deur die Dekaan se kantoor gekommunikeer word.

Net soos alle ander akademiese instellings in die land en regoor die wêreld, bevind die Universiteit Stellenbosch hom in 'n vinnig-veranderende en onthutsende omgewing. As Rektoraat verstaan ons dat die COVID-19-pandemie onsekerheid, vrees en kommer op 'n institusionele en persoonlike vlak veroorsaak. Ons doen 'n beroep op almal om met die gebruik om hande te was en ander toepaslike maatreëls vir infeksiebeheer voort te gaan. 

Ek wil ons studente en personeel verseker dat die Universiteit daartoe verbind is om, sover moontlik, 'n veilige omgewing met die nodige mediese en ander ondersteuning te verseker, terwyl ons daarna streef om ons belofte aan studente dat hulle hul akademiese jaar suksesvol sal kan voltooi, gestand te doen. 

Die Institusionele Komitee vir Sakevoortsetting (lees meer oor die IKSV) sal weer môre vergader om die jongste verwikkelinge te bespreek. Die kampusgemeenskap sal direk ná afloop van die vergadering oor enige besluite ingelig word. Die skrywe sal ook inligting bevat oor waar leermateriaal vanaf 30 Maart beskikbaar sal wees, asook opsies vir toegang tot rekenaars en die internet. 

Vir nou wil ek julle weer eens na die Universiteit se COVID-19-webblad​ verwys, waar inligting oor die gesondheidprotokols en riglyne om jou te help om jouself, jou gesin en medestudente te beskerm indien jy in die Universiteit se akkommodasie aangebly het. Die webblad is ons vernaamste kommunikasiemiddel vir die COVID-19-pandemie – besoek asb die US-webwerf gereeld vir die jongste inligting. Al die nodige noodkontakinligting is op die bladsy beskikbaar. 

Vir nou wil ek julle weer eens na die Universiteit se  verwys, waar inligting oor die gesondheidprotokols en riglyne om jou te help om jouself, jou gesin en medestudente te beskerm indien jy in die Universiteit se akkommodasie aangebly het. Die webblad is ons vernaamste kommunikasiemiddel vir die COVID-19-pandemie – besoek asb die US-webwerf gereeld vir die jongste inligting. Al die nodige noodkontakinligting is op die bladsy beskikbaar.

Vergewis jouself asb van die ​Protokol vir personeelaangeleenthede as 'n gevolg van die COVID-19-uitbreking. Met sosiale afstandskepping as 'n belangrike strategie, word personeel aangemoedig om eerder weg van die kampus af te werk indien die aard van jou pligte dit toelaat. 

Neem asb jul veiligheid en maatreëls vir jul eie welstand ernstig op.

Vriendelike groete

Prof Wim de Villiers

Rektor en Visekanselier