Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meer as 600 grade in natuurwetenskappe by US Desember-plegtigheid toegeken
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 11/12/2019

Uitgerus in tradisionele Zoeloe-drag, het Maties student Menze Ngcamphalalala vandag oor die verhoog gestap om sy MSc-graad in Wiskunde te ontvang. Hy was een van meer as 600 voor- en nagraadse studente in die natuurwetenskappe wat op 11 Desember 2019 hulle grade by die Universiteit Stellenbosch (US) se vyfde gradeplegtigheidseremonie ontvang het.

In totaal het die Fakulteit Natuurwetenskappe 390 BSc-, 145 HonsBSc- 55 MSc- en 29 PhD-grade toeken. Onder bogenoemde spog die Departement Chemie en Polimeerwetenskap met nege PhD's, terwyl 29 studente wat deur middel van die Afrika Instituut vir Wiskundige Wetenskappe (AIMS) studeer het, hulle MSc-grade in Wiskunde sal ontvang.  

Nog 'n MSc-student in Wiskunde, Sarah Selkirk, het die gesogte S2A3 medalje (brons) van die Suider-Afrika Vereniging vir die Bevordering van die Wetenskap ontvang as die US se beste MSc-student uit die natuur-, ingenieurs- en mediese wetenskappe.

Prof Louise Warnich, dekaan van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe, sê sy is dankbaar vir die sukses op die harde werk van dosente, studieleiers en studente, ondanks die vele uitdagings wat hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika in die gesig staar. Sedert 2015 het die Fakulteit Natuurwetenskappe deurentyd meer as 300 nagraadse studente per jaar gelewer en dit wil voorkom asof 2019 geen uitsondering sal wees nie.

“Ons graduandi lewer steeds belangrike bydraes tot die Suid-Afrikaanse privaat, sowel as openbare sektore waarvan baie in leierskapsposisies en as entrepreneurs. Ek is vol vertroue dat die klas van 2019 in hulle voetspore sal volg en hulle welverdiende hoëvlak vaardighede tot voordeel en vir die ontwikkeling van ons sameleweing sal aanwend."

Onder hierdie jaar se graduandi om van kennis te neem, is Dr Collins Jana wat tans 'n dosent aan die Universiteit van Malawi se Kollege vir Geneeskunde is en 'n PhD in Biochemie ontvang. In 2014 toe hy sy loopbaan wou fokus op navorsing vir die ontwikkeling van nuwe middels om infeksiesiektes te bekamp, was daar geen hoëronderwysinstelling in Malawi waar hy sy nagraadse studie in Biochemie kon voortsit nie. Dit was die begin van 'n tien jaar lange reis (met onbeplande onderbrekings) as nagraadse student in die navorsingsgroep van Prof Erick Straus in die US se Departement Biochemie.

Nog 'n hoogtepunt is die sukses van Dr Upenyu Lucky Muza, wat nie net sy PhD in Chemie onder die studieleiding van Porf Harald Pasch verwerf nie, maar hy was ook in Augustus vanjaar een van slegs vyf nagraadse studente landswyd wat die SASOL Nagraadse Medalje van die Suid-Afrikaanse Chemiese Instituut (SACI) ontvang het. Hierdie toekenning gaan jaarliks aan nagraadse studente wat innoverend is en entrepreneursvaardighede en onafhanklikheid toon. Muza, 'n boorling van Zimbabwe, gaan in 2020 as nadoktorale genoot sy navorsing in Europa voortsit.

Dr Arnu Pretorius wat 'n PhD in Rekenaarwetenskap verwerf, bevind hom ook onder hierdie uitgelese groep. Met 'n agtergrond in wiskundige statistiek het sy navorsing gefokus op die veld van kunsmatige intelligensie, masjienleer en diep neurale netwerke. Hy het 'n teoretiese bydrae gelewer tot die veld van masjienleeralgoritmes en die ontwerp en afrig van neurale netwerke. Lees meer oor sy werk onder studieleiding van Dr Steve Kroon van die Afdeling Rekenaarwetenskap in die Fakulteit Natuurwetenskappe.

Die Departement Plant- en Dierkunde het ook 'n goeie oes met vyf studente wat hul PhD's vanjaar verwerf. Dr Luyanda Ndlela het drie predatoriese bakterieë geïsoleer en beskryf wat moontlik die potensiaal het om eendag deurslaggewend te wees in die ontwikkeling van natuurlike behandelings teen toksiese algebloei. Dr Olivier Pasnin, 'n navorsingswetenskaplike by die Mauritius Instituut vir Oseanografie, het die eerste filogenetiese analise van sponse in die Westelike Oseaan gedoen, en daardeur 'n bydrae gelewer tot die verbetering van mariene bewaringspraktyke. Ander PhD-graduandi het die evolusionêre geskiedenis en taksonomie van parasitiese perdebye ondersoek, die rol van mariene predatore in die regulering van indringers. Prosopis-indringing in Oos-Afrika het ook onder die loep gekom.

Bykomend hiertoe word drie PhD's in Fisika toegeken, drie in Wiskunde, twee in Fisiologiese Wetenskappe en een elk in Toegepaste Wiskunde en Mikrobiologie.   

Foto's: Stefan Els