Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sarah Selkirk ontvang gesogte S2A3-medalje vir beste MSc-student by US
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 11/12/2019

'n MSc-student in Wiskunde, Sarah Selkirk, is die waardige ontvanger van die gesogte S2A3- medalje vir die beste MSc-student by die Universiteit Stellenbosch (US) uit al die studente in die natuurwetenskappe, ingenieurswese en mediese wetenskappe.

Die S2A3 Meestersmedaljes (brons) word sedert 1981 jaarliks deur die Southern Africa Association for the Advancement of Science toegeken aan die mees uitstaande wetenskapsnavorsingstudent wat per Suid-Afrikaanse universiteit gradueer. Hierdie vereniging wat in 1902 tot stand gekom het, is die oudste wetenskapsorganisasie in Suid-Afrika.

Selkirk het grootliks onafhanklik gewerk ten einde haar MSc-tesis binne die bestek van slegs een jaar te voltooi. Twee navorsingsartikels wat gespruit het uit haar grootliks oorspronklike werk, is alreeds vir publikasie aanvaar. In Januarie 2020 vertrek sy na Oostenryk om as doktorale student haar navorsing in kombinatorika by die Universiteit van Klagenfurt voort te sit.

Prof Ingrid Rewitzky, hoof van die US se Departement Wiskundige Wetenskappe, sê Selkirk se MSc-tesis is raar in 'n vakdissipline soos wiskunde, waar oorspronklike navorsing slegs op doktorale vlak verwag word.

Volgens haar studieleier Prof Stephan Wagner, is groot gedeeltes van haar tesis uitsluitlik haar eie idees wat volledig deur haar uitgewerk is: “binne die kort bestek van een jaar, het sy daarin geslaag om haarself vertroud te maak met 'n aantal idees, konsepte en metodes in die aftel van roosterpaaie (lattice path enumeration), en het sy 'n goed afgeronde tesis geskryf wat grootliks op haar eie werk berus."

Roosterpaaie is 'n afdeling van kombinatorika, 'n veld in wiskunde met verskeie toepassings in rekenaarwetenskap. Deur die bestudering van roosterpaaie, kan ons dinamiese datastrukture beter verstaan en analiseer, wat fundamenteel is vir byna elke stukkie tegnologie wat ons vandag gebruik – van die stoor van lêers op 'n rekenaar, tot die gebruik van 'n aanlyn soekenjin.

Die hooffokus van Selkirk se navorsing was die bestudering van kt-paaie, 'n klas van roosterpaaie wat al voorheen in die literatuur voorgekom het, maar wat nog nooit in groter detail bestudeer is nie, verduidelik Prof Wagner.  

Bykomend tot Selkirk se akademiese prestasie, was sy ook aktief betrokke in die Afdeling Wiskunde as tutor vir eerstejaar- en tweedejaarstudente in wiskunde. Gedurende 2019 was sy ook lid van die reëlingskomitee van die Konferensie vir Afrika-vroue in Wiskunde wat in Julie 2019 by die US aangebied is. Sy was ook die stigter van die US se Wiskundevereniging (SUMS) wat weeklikse wiskundeseminare vir voorgraadse studente georganiseer het.

Selkirk het verskeie toekennings gedurende haar studies aan die US ontvang. In 2016 was sy onder die top 32 eerstejaars aan die US, asook die beste eerstejaarpresteerder in die Fakulteit Natuurwetenskappe. In 2018 het sy die US Rektorstoekenning gekry vir deurlopende akademiese prestasie gedurende haar voorgraadse studies en in 2019 het sy een van drie TATA- meestersgraadbeurse ontvang by die South African Women in Science Awards.

Foto: Stefan Els