Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Innoverende opvoedkundige projek leer Enkanini-leerders lewensvaardighede
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 18/09/2019

Een van die lewensvaardighede wat leerders sal hê na afloop van 'n unieke kursus, is hoe om water en afval in hulle onderskeie huishoudings in die informele nedersetting, Enkanini, te hanteer. Dié kursus is die resultaat van 'n samewerkingsooreenkoms tussen die Universiteit Stellenbosch en die Stellenbosch Munisipaliteit.

Die Iqhawe Lemvelo (Nature Hero) opvoedkundige kursus is uniek in die opsig dat dit kwessies aanspreek waarmee kinders wat in informele nedersettings woon, daagliks mee gekonfronteer word. Dit vorm die opvoedkunige deel van die Amanzi Yimpilo (Water is Gesondheid) Projek, 'n samewerkingsvennootskap tussen die Stellenbosch Munisipaliteit en die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut (SUWI) om gemeenskapsondersteuning en -samewerking aan te wakker ten einde water- en sanitasiedienste in die gemeenskap te verbeter.

Die Uitvoerende Burgemeester van Stellenbosch, Advokaat Gesie van Deventer, sê die projek is die resultaat van toegewyde samewerking tussen die universiteit en die dorp om spesifiek benadeelde gemeenskappe op te hef: “Ons bemagtig ons jong mense deur middel van opleiding om samewerking met plaaslike regering te verbeter ten einde die uitdagings ten opsigte van water en afval beter te kan hanteer."

Dr Leanne Seeliger, 'n senior navorser van SUWI, sê leerders van informele nedersettings word dikwels benadeel deur 'n skoolsisteem wat nie voorsien in hulle spesifieke behoeftes nie: “Die kinders het nie die sosiale netwerke wat kinders wat in formele behuising woon, het nie. Ons volg 'n plekgebonde benadering wat húlle prioretiseer en in staat stel om te leer uit hulle eie ervarings," verduidelik sy.

Dr Seeliger het hierdie benadering saam met Prof Chris Reddy van die US se Fakulteit Opvoedkunde ontwikkel, terwyl sy die afgelope sewe jaar in die Enkanini Opvoedkundige Sentrum gewerk het. Die kurrikulum dek onderwerpe soos die hantering van water en afvalherwinning in jou huishouding en gemeenskap.

'n Groep van 60 Graad 6 tot 9 leerders van Ikaya Primêre Skool, Kayamandi Primêre Skool, Makapula Hoërskool en Kayamandi Hoërskool woon sedert die begin van die tweede semester die program by.

Mnr Kamohelo Mculu, 'n projekbestuurder by die Stellenbosch Munisipaliteit se Infrastruktuurdienste, sê die daar is tans 'n groot aksie binne die Munisipaliteit om verbeterde water- en sanitasiedienste aan Enkanini-inwoners te verskaf: “Die munisipaliteit, die universiteit en die gemeenskap werk nou saam om die lewensomstandighede  in Enkanini te verbeter," het hy gesê.

Die Iqhawe Yemvelo Projek word bestuur deur Mnre Paul Roviss Khambule, Meluxolo Mbali en Yondela Tyawa van Enkanini, in samewerking met navorsers van SUWI.

Meer oor die Amanzi Yimpilo Projek

Die Amanzi Yimpilo Projek is 'n uitvloeisel van die Rektors- en Uitvoerende Burgemeestersforum, 'n gemeenskaplike struktuur wat samewerking tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en die Stellenbosch Munisipaliteit fasiliteer tot die voordeel van die hele dorp en gemeenskap. Die doel van die Amanzi Yimpilo Projek is om problem rondom munisipale water- en sanitasiedienste in Enkanini na te vors, en verbeterde dienste te implementeer. Terwyl die US Waterinstituut verantwoordelik is vir die navorsing en fasiliteringsproses, word die projek gefinansier en ondersteun deur die Stellenbosch Munisipaliteit se Departement Infrastruktuurdienste. Die projek sluit werkswinkels, 'n vraelys oor water-etiek, die Nature Hero opvoedkundige program, sowel as 'n watermoniteringstoepassing in. Die Amanzi Yimpilo Projek bestaan uit inwoners van Enkanini: hulle is as medenavorsers deur SUWI opgelei, en staan in diens van die Nasionale Regering se Uitgebreide Openbare Werke Program.

Foto-onderskrif

Stellenbosch Munisipaliteit en die Stellenbosch Universiteit Waterinstituut (SUWI) het 'n unieke kursus ontwikkel waarvolgens leerders van informele nedersettings toegerus word om hulle lewensomstandighede beter te kan hanteer. Op die foto, van links na regs, Dr Leanne Seeliger (SUWI) en haar internasionale medewerker, Dr Raphael Robina Raminez van die Universiteit van Extremadura, Spanje. Langs hulle is Mnre Paul Roviss Khambule, Ayanda Matiwane en Fezeka Sombiki (opleiers van Enkanini) en Mnr Kamohelo Mculu (Stellenbosch Munisipaliteit). Drie van die leerders op die kursus is Ongezwa Mashebeni en Kwakhanya Mgqibeliso van Khayamandi Hoërskool, en Asemahle Lirofana van Makapula Hoërskool.

Kontakbesonderhede

Dr Leanne Seeliger

Universiteit Stellenbosch Waterinstituut

Sel: 072 203 2113

E-pos: seeliger@sun.ac.za

Mnr Stuart Grobbelaar

Stellenbosch Munisipaliteit

Sel: 084 036 1395

E-pos: stuart.grobbelaar@stellenbosch.gov.za