Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
`n Pad met musiek: Prof Willemien Froneman
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 26/08/2019

Die mense wat al versamelend oor musiek dink en skryf

Om oor die dinge van musiek te dink is vir die mense van die Africa Open Instituut (AOI) 'n saak van erns. Dit keer hulle egter nie om in die proses pret te hê, die gemeensaamheid van medenavorsers te geniet en grense te skuif nie.

Dis Dinsdagoggend. In die hoofvertrek van die AOI se kantore in Joubertstraat op Stellenbosch vind die AOI se weeklikse teetyd-ritueel van winkelkoekies en geurige koffie plaas, kort voordat hulle met die geskeduleerde personeelvergadering moet wegtrek. Te midde van lag en kameraderie om 'n lang tafel sit twee kollegas en notas vergelyk om 'n skootrekenaar se skerm.

“My kollegas en die wonderlike oop maniere waarop ons met mekaar saamwerk is só 'n groot deel van wat my werk vir my beteken en hoe dit ontwikkel het. Ek kan nie die twee dinge van mekaar onderskei nie," kom dit met erns van prof Willemien Froneman, die AOI se direkteur van nagraadse studies, terwyl sy een na die ander kollega voorstel. “Hierdie mense is die Instituut."

Froneman, 'n Y2-geëvalueerde navorser, is Donderdag 29 Augustus die tweede spreker in die US Afdeling Navorsingsontwikkeling se nuwe Forward with Research Impact-lesingreeks. Dit vind om 13:00 in die US Museum plaas.

Sy gaan praat oor haar navorsing oor die ambivalente plek wat boeremusiek binne die Suid-Afrikaanse samelewing geniet, asook oor die AOI se werksaamhede in die breë.

Dié onafhanklike interdissiplinêre navorsingsinstituut van die US Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe is in 2016 onder leiding van prof Stephanus Muller gestig. Dis onder meer 'n uitvloeisel van die US se Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS). Dit skep 'n institusionele ruimte vir stemme binne én buite formele akademiese kringe om navorsing te doen, nuwe idees uit te probeer en te skep, en sosio-politieke kommentaar te lewer – alles rondom die argivering van musiekpraktyke uit Suid-Afrika en Afrika as kernidee.

'n Pad met musiek

Froneman was tot verlede jaar 'n buitengewone medeprofessor van die AOI, maar het vanjaar meer permanent ingeval as die Instituut se direkteur van nagraadse studies. Sy sorg onder meer vir fondswerwing en die begeleiding van studente se navorsing. Die doktorale projekte waaroor sy tans 'n ogie hou, gee soos poskaarte 'n blik oor die temas wat binne die AOI ruimte kry. So is daar 'n studie oor die “koortjie"-fenomeen, een oor blaasorkeste in Suid-Afrika sedert 1987 en 'n ander oor die beperkings wat vroue in die wêreld van musiekopvoeding ervaar. 'n Ander student is besig om 'n kunsinstallasie te skep, en gebruik daarvoor musiek uit die DOMUS-versameling.

“By die AOI wil ons musiek as 'n legitieme navorsingsveld daarstel wat mense ernstig opneem. Ons werk baie tussen dissiplines. Ons werk anders as 'n vorige generasie van musieknavorsers, is meer sosiaal bewus en beslis meer op wisselwerking met ander kunste-omgewings ingestel," reken Froneman.

Froneman se akademiese pad het in Potchefstroom begin. Sy het grootgeword in die huis van 'n professor in Afrikaans-Nederlands, en het in 2004 'n BMus-graad (met klavier) aan Noordwes Universiteit behaal. Dié het sy cum laude verwerf – soos die meeste van haar kwalifikasies daarna. Dit sluit 'n BA Hons in Literatuurstudie (2004) en 'n onderwyskwalifikasie in. In 2007 het sy danksy 'n Commonwealthbeurs 'n MPhil aan Cambridge Universiteit voltooi.

Na daardie jaar in die buiteland het sy doelbewus gekies om niche-temas eie aan Suid-Afrikaanse musiek en die land se geskiedenis na te vors. Daardie besluit het in 2012 gelei tot haar PhD aan die US, getiteld Pleasure Beyond the Call of Duty: Perspectives, Retrospectives and Speculations on Boeremusiek. Later sou sy saam met haar studieleier en deesdae AOI direkteur, prof Stephanus Muller, betrokke wees by die redigering en bestuur van SAMUS, die joernaal vir studies oor Suid-Afrikaanse musiek.

Vir Froneman het haar navorsingsveld geen duidelike grense nie. Dis oor meer as net die opskryf van historiese gegewens oor persone en gebeure. Dit wil die plek van 'n genre soos boeremusiek binne 'n ongelyke politieke sisteem in oënskou neem.

“Boeremusiek vertel 'n storie oor Suid-Afrika se geskiedenis en rasgebaseerde waardes wat anders lyk as die een wat ons ken. Ingewikkelder. Vreemder. Nader aan die lyf. Ek sien dit as 'n soort historiese restitusie om hieroor te skryf," verduidelik Froneman, wat reken dat 'n indringende ondersoek na Afrikaanse populêre musiek nog nooit op dieselfde skaal aangepak is nie.

Musiek wat skaaf

Haar belangstellings het haar al gevat van Brittanje tot in Brasilië, Duitsland en Nederland om oor haar navorsing te praat. Verlede jaar het sy ook 'n 4000-woord essay oor boeremusiek bygedra tot die Bloomsbury Encyclopedia of Popular Music of the World: African Genres (2018).

En haar eie musieksmaak?

“Ek luister niks nié," beklemtoon sy.

Sy's bereid om na enigiets te luister wat Apple Music haar bied of haar kollegas dalk aandra, want sy probeer doelbewus nuwe musiek 'n kans gee.

“Dis 'n lekker deel van by die AOI wees. Daar's heeltyd goed wat mens nie ken nie, en jou uitdaag. Daar's heeltyd idees waarteen jy skuur, en net sou kon afmaak. Dan gee jy dit 'n kans. Hierdie omgewing daag jou grense en idees oor dinge uit. Dis moeilik, maar goed."

So 'n veranderende, transformerende rol is een wat Froneman hoop die AOI toenemend ook in die breë Stellenbosch-omgewing sal speel, deur die aanbied van geleenthede wat nie die rug keer op sosio-politieke probleme nie en wat nuwe gehore lok en bestaande gehore uitdaag.

“Ons wil revisionistiese geskiedenisse van Suid-Afrika deur musiek kan skryf en terselfdertyd 'n impak maak op die hier en nou. Dis wat ek ook met my navorsing oor boeremusiek wil doen."

 

  • Lus om ook na dese ook by die AOI aan te klop? Prof Chris Ballantine bied op 9, 10 en 11 September om 17:00 'n lesingreeks aan oor hoe onderdrukking en emansipasie oor 'n kwessie van 150 jaar uitspeel in Suid-Afrikaanse populêre musiek. Kontak Stephanie Vos (svos@sun.ac.za) vir navrae.
  • Ntone Njabe en Michael Shakib Bhatch speel op 5 September om 18:00 in die GUS galery plate uit die Hidden Years-plateversameling wat by die AOI gehuisves word. Toegang is gratis.