Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Op soek na die konneksies: Dr Rika Preiser
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 19/08/2019

​As die laatlammetjie in 'n gesin van agt broers en susters ken dr Rika Preisser reeds van kindsbeen af goed die kompleksiteite, wisselwerkinge, dinamikas en onderstrominge verbonde aan groter netwerke of organisasies. Deesdae is sy senior navorser van die Sentrum vir Komplekse Sisteme in Transisie, onder die vaandel van die Universiteit Stellenbosch se Skool vir Openbare Leierskap.

Sy is die eerste spreker in die nuwe Forward with Research Impact-lesingreeks. Dit word op Woensdag 21 Augustus deur die Afdeling Navorsingsontwikkeling geloods, en vind om 13:00 by die US Museum plaas.

Dié Bellvilliet se lewe moes eers heelwat draaie loop voordat sy haar staanplek as navorser en dosent kon vind.

“Ja, myne is nie beslis nie jou tipiese pad nie," erken sy. “Ek dink daar's 'n plek vir ander kontekste en ander beginpunte, want binne die Suid-Afrikaanse konteks moet ons meer spasie maak vir verskillende akademiese roetes."

Nadat matriek in 1990 het dié ywerige drawwer gereken fisioterapie is net die ding vir iemand wat van sport hou. Foutjie. “Ek't flou geraak as ek pasiënte in die hospitaal moes sien," lag sy nou daaroor.

Terwyl sy haar opsies oorweeg het, het sy 'n span jongmense gelei wat betrokke was by geestelike uitreike na skole. Daarna het sy haar verdere studies befonds deur in musiek- en boekwinkels te werk, en haar vlerke na die bemarking- en kommunikasiesektor te sprei. Tussen 2001 en 2006 het sy ook die US Internasionale Kantoor op die Tygerbergkampus bestuur.

Tussendeur het sy 'n BA deur UNISA in 2000 verwerf, daarna 'n MPhil in Media-etiek (2004) deur die US Departement Joernalistiek, en toe 'n MPhil oor organisasies en publieke kultuur (2008).  

Sy't egter al haar roeping as kompleksiteitskenner reeds in 2000 gekry by 'n braai in Duitsland, kompleet met rooiwyn en 'n lekker vleisie. Onder die gaste was die Stellenbosse filosoof en kompleksiteitsghoeroe, wyle prof Paul Cilliers.

Die aand se braaivleisvuur-gesprekke het by haar gebly, en in 2007 het sy vir Cilliers op Stellenbosch gaan opsoek.

“Kort jy nie iemand wat koffie kan maak en afrolwerk doen nie?" het sy gevra. “Ek wil my PhD doen, maar nie weer alleen soos met my ander grade nie."

Die geluk was aan haar kant. Cilliers het juis toe 'n regterhand gekort, en twee jaar later het sy ook navorsingsassistent geword vir sy kameraad in kompleksiteitstudies, biochemikus prof Jannie Hofmeyr, saam met wie die Sentrum vir Studies in Kompleksiteit op die been gebring is.

Hoekom dan 'n standvastige administratiewe betrekking by die Universiteit opgee vir een wat destyds net R1000 betaal het?

“Dit was alles te prakties vir my. Ek wou half daaruit vlug. Ek wou eerder gaan dink," verduidelik Preiser, vir wie daar min dinge so lekker is soos om nuwe konsepte saam met mense uit verskillende sfere te bedink en te bespreek.  

Na Cilliers se onverwagse dood in 2011 het Hofmeyr en Preiser die werk voortgesit. Dit het beteken dat sy weer eens op relatief eie stoom haar PhD in filosofie moes voltooi. Dié het sy in 2012 ontvang vir 'n bespreking oor die rol van kritiese denke binne gesprekke oor kompleksiteit.

Preiser erken dat haar navorsing heelwat minder filosofies en meer humanisties geraak het vandat die Sentrum vir Studies in Kompleksiteit saam met ander vennote gesmelt het om die Sentrum vir Komplekse Stelsels in Transisie te vorm. Dié inisiatief kombineer die energie van mense wat gemoeid is met kompleksiteitstudies, volhoubaarheidskwessies en transdissiplinêre navorsingsmetodiek.

Sodoende het sy baie by kenners soos prof Mark Swilling en prof Oonsie Biggs geleer oor 'n humanistiese ingesteldheid tot die natuur, omgewingsake, kwessies van volhoubaarheid, en die wêreld as 'n ineengeskakelde ekosisteem of organisme. En natuurlik die mensdom se impak daarop oor veral die laaste twee eeue.

“Ons kry mense en belangegroepe in dialoog bymekaar, sodat hulle oor 'real world challenges' kan gesels," vertel sy.

Sy reken dis te eendimensioneel om kompleksiteit in terme van netwerkstelsels te beskryf. “Dis meer oor prosesse, iets lewend en organies soos 'n wortelstelsel."

Waaraan skryf sy die opbloei in belangstelling oor kompleksiteitstudies toe?

“Mense sien plekke val uitmekaar, en werk eenvoudig nie meer soos voorheen nie. Die wêreld is 'n organisme, eerder as 'n masjien. Dis lewend. Dit moet gevoed en versorg word, soos 'n ekosisteem. As jy dit kan begin insien, begin jy ook anders dink oor byvoorbeeld die organisasie of maatskappy waarbinne jy jouself bevind, en hoe aspekte soos leierskap en vaardigheidsontwikkeling bedryf word."

En, het sy darem nog hoop vir die aarde? Preiser weifel 'n oomblik, en begin dan vertel oor die Seeds of Good Anthropocenes projek waarmee US-kollegas saam met hul Sweedse eweknieë by die Stockholm Resilience Centre en Amerikaanse en Kanadese kundiges besig is.

“Ons versamel stories oor positiewe projekte, hoe klein ook al, waarmee reeds besig is om die negatiewe dae wat voorlê teen te werk. Ons bring die mense bymekaar, sodat hulle met mekaar kan gesels, dit hulle kan versterk en hulle uit mekaar se stories hoop kan kry."

Hierdie “hoop" is egter vir Preiser alles behalwe die soort wat as naïewe positiwiteit afgemaak sal kan word. “Ek praat van kritiese hoop, waarin jy selfs bereid is om iets agter te laat of op te gee sodat jy iets nuuts kan bereik."

Sy reken dat binne die gegewe van Trump, die opbloei van China en die wispelturigheid van Brexit die mensdom 'n tydperk van uitdagende “radical uncertainty" ervaar: “Ons kan bykans nie meer vooruitskat of voorspel wat gaan gebeur nie. Die katastrofes tref ons van oral af, omdat die wêreld eenvoudig so ineengeskakel is."

Dan voeg sy by: “Die onverwagte kan natuurlik ook positief wees, en uit die bloute oplossings bied. Ons kan nie voorspel waar dit vandaan gaan kom nie. Die klein dingetjies kan ook die verrassings wees."

En ook: “Dis as jy die onverwagse konneksies kan begin sien en anders kan begin dink daaroor, dat jy mense kan help om op die uitkyk te wees vir nuwe moontlikhede vir die toekoms."

Lees dr Preisser se CV hier, en meer oor haar voorgenome lesing hier