Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kollig op Sosiale Impak by die Universiteit Stellenbosch
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 28/09/2017

Dis is 'strategies noodsaaklik' vir die Universiteit Stellenbosch (US) om 'n sosiale impak te hê en só relevant te bly.

Dit is die siening van prof. Nico Koopman, Viserektor: Sosiale impak, Transformasie en Personeel. Hy was 'n spreker op 'n onlangse simposium oor die universiteit se sosiale impak. Dit is op die Devonvale-gholflandgoed buite Stellenbosch gehou.

Die universiteit, as deel van die kennisbedryf, is ideaal geposisioneer om betekenisvolle sosiale impak te bewerkstellig, het hy gesê. “Kennis behoort 'n positiewe impak op die gemeenskap te hê. Ons (kollektiewe) kennis het 'n invloed in 'n bepaalde rigting.

“Ons moet vra: Watter verskil maak ons? Hierdie uitdaging en verantwoordelikheid word gedeel deur akademici, ondersteuningspersoneel, studente én bestuurslede. Ons instelling beywer hom vir die welstand van almal en vir sosiale geregtigheid in ons gemeenskap."

Van die beste praktyke hieroor wat uitgelig is, het ingesluit die gebruik van nuwe leermetodes vir wetenskapsonderrig en navorsing om die impak van brande op informele nedersetttings te verminder. Verskillede tipes sosiale impak is ook bespreek wat positiewe veranderings meebring.

Dr. Antoinette Smith-Tolken, Direkteur: Sosiale Impak, het 'n oorsig van die universiteit se Strategiese Plan vir Sosiale Impak gebied. “Ons moet kollektief verstaan wat dit beteken wanneer ons aanspraak maak daarop om sosiale impak te hê," het sy gesê.

“Die kenmerk van sosiale impak is dat dit meetbare veranderings meebring. Dit vind nie plaas wanneer sake soos normaalweg bedryf word nie, maar behels 'n bepaalde manier van deelname. Die US rig toenemend sy visier op groter vennootskappe om sosiale impak asook die toepaslikheid daarvan te verseker."

Dr Smith-Tolken het aangedui dat daar word ook gewerk om dink tenks vir die assessering van sosiale impak te vestig en maniere te vind om dit te stimuleer in die ontwikkeling van sleutelprestasie-aanwysers vir personeel.

Die US het tans agt strategieë om sosiale impak te verseker, het sy verduidelik. Dit sluit in om geleenthede te bied vir verbonde akademieskap; die fasilitering van vrywilligersgeleenthede; asook en die skep van ontwikkelingsgeleenthede vir voorheen uitgesluit gemeenskappe waarop gefokus word die “verlore generasie" tussen skool- en tersiêre onderrig.

Joanne Williams, bestuursinligtingsbeampte vir die Afdeling Sosiale Impak, het die Kennisplaform vir Sosiale Impak by die simposium bekendgestel. “Hierdie aanlyn-platform is 'n nuwe hulpmiddel om die US se sosiale impak te dokumenteer, te koördineer, asook om samewerking daaroor aan te help en daaroor verslag te doen," het sy gesê. Personeel word genooi om hul inisiatiewe vir sosiale impak hier te registeer.

Prof. Koopman het opgesom: “Ons moet wegbeweeg daarvan om op individuele ingrypings te fokus en spesifieke inisiatiewe daarstel wat sosiale impak vaslê om sistemiese veranderings mee te bring. Hierdie pogings moet deurlopend, omvattend en onderliggend aan onderrig, leer en navorsing wees. As ons saamwerk kan ons volgehoue en beduidende positiewe veranderings in die groter samelewing aanhelp."