As jy 16 jaar gelede vir hom gesê het hy gaan bekendheid verwerf in die Paralimpiese sfeer, sou professor Wayne Derman gelag het. Trouens, toe hy in 2008 ingelig is dat hy Beijing toe gaan om saam met die Suid-Afrikaanse (SA) Paralimpiese span te werk, was sy eerste gedagte: "Dit is nie waartoe ek myself verbind het nie". Dit sou 'n beduidende verandering beteken nadat hy in 2000 as hoof mediese beampte vir die SA Olimpiese span in Sydney en weer in 2004 in Athene gedien het.
Maar met net 'n paar weke oor voordat die Paralimpiese Spele 2024 in Parys afskop, kyk Derman, waar hy in sy songebaaide kantoor by die Afdeling Sport- en Oefengeneeskunde op die US se Tygerberg-kampus sit, terug op daardie aanbod as 'n katalisator vir geweldige persoonlike groei. "Ek het geleer deur die rykdom om te sien hoe mense verskeie veranderinge in hulle lewensomstandighede hanteer. Daar was baie persoonlike groei in my betrokkenheid by die Paralimpiese span."
Derman stap al 'n lang pad saam met die Paralimpiese Spele en het in 2012 eers op plaaslike vlak as die SA-span se hoof mediese beampte gedien en later, op internasionale vlak, by die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPK), waar hy voorsitter van die mediese komitee is. Hy is nou op pad Parys toe om saam met die plaaslike reëlingskomitee (PRK) se mediese personeel te werk, en om om te sien na enige mediese probleme wat by die 549 byeenkomste vir die 22 sportsoorte en 23 dissiplines oor die 11 dae vanaf 29 Augustus 2024 mag opduik. Elke lokaal by die Spele het sy eie mediese span en Derman sal saam met die PRK werk om toesig hieroor te hou. Hy sal ook betrokke wees by toesig oor beserings en siektes en navorsing vir alle nommers by die Spele.
Toesig oor beserings
Dokters van deelnemende spanne sal deur middel van 'n stelsel wat Derman en kollegas in 2012 in Londen ontwerp het, insette lewer oor beserings en siektes wat elke dag opgedoen word. Hierdie vertoonbord sal belangrike inligting verskaf oor sport met 'n hoër risiko waar bykomende ondersteuningsdienste toegeken moet word en of die reëls verander moet word om 'n nommer veiliger te maak.
Besering is 'n onvermydelike aspek van alle sportsoorte, maar meer nog vir atlete met gestremdhede, verduidelik Derman. Blinde sokker is byvoorbeeld uitgewys as een van die gevaarliker nommers by die Paralimpiese Spele. "Kan jy jou voorstel om sokker te speel op 'n veld waar die atlete heeltemal blind is?" Hoewel die bal wel 'n klokkie in het, is die kanse goed dat iets verkeerd kan gaan en spelers wat teen 'n spoed koppe stamp, lei dikwels tot harsingskudding, voeg hy by. Baan- en veldnommer is ook hoë-risiko-aktiwiteite vir atlete met gestremdhede.
Die risikovlak wissel ook na gelang van die seisoen. In die Paralimpiese Winterspele is ski byvoorbeeld 'n sport wat besonder gevaarlik kan wees. Derman sê klein aanpassings, soos om vroeër te begin wanneer die sneeu nog stewig is, of om die breedte van die ski-opritte te verander om draaie makliker te maak, help baie om dit veiliger te maak. Om hierdie soort voorvalle met die beseringstoesigvertoonbord op te spoor, verbeter die atlete se veiligheid. Derman voeg by dat die hoër somertemperature in Europa 'n kritieke faktor vir atlete in Parys kan wees, en strategieë om die hitte teen te werk, sal in werking gestel word.
Afgesien van beserings is Paralimpiese atlete meer geneig tot sekere siektes, veral lugweginfeksies. Ander mediese uitdagings sluit urienwegontsteking vir atlete met kateters in, asook veltoestande vir geamputeerdes of diegene wat geen gevoel oor sekere dele van hulle liggaam het nie.
Loopbaanhoogtepunte
Met slegs 'n paar weke oor voor die Spele, sê Derman dit sal die “toppunt" in sy loopbaan – wat deur talle baie spesiale oomblikke gekenmerk is – wees om as die IPK se mediese direkteur te dien. Van die spesiale oomblikke sluit in probleemoplossing vir Mark Shuttleworth se ruimtereis in Rusland en om saam met top plaaslike atlete soos Natalie du Toit, Ilse Hayes, Charl du Toit en Hilton Langenhoven te werk.
Derman praat met toegeneentheid oor sy werk saam met Shuttleworth, wat Suid-Afrika se eerste ruimtevaarder was, en beskryf dit as "die mees buitengewone omstandighede waarmee ek nog ooit te doen gehad het". Hy onthou hoe hy in 2002 uit die bloute genooi is om saam met die wêreldbekende tegnologie-entrepreneur te gaan koffie drink. "Hy het my uit Moskou gebel en gesê hy soek 'n dokter wat onder moeilike omstandighede in 'n vreemde plek sal werk." Shuttleworth het verduidelik dat Derman se ervaring met Olimpiese atlete hom die ideale persoon vir die taak gemaak het.
Derman se aanvanklike reaksie was dat dit 'n poetsoproep was. Shuttleworth het Derman vinnig oortuig dat dit werklik hy was, en dat hy 'n mediese kenner nodig gehad het om by die span in Moskou aan te sluit om die toetse wat op hom uitgevoer sou word ter voorbereiding van die ruimtereis, aan hom te verduidelik, hom in die ruimte te monitor en toesig te hou oor sy rehabilitasie nadat hy na die aarde teruggekeer het
"Om 'n baanbreker op die opwindende nuwe vakgebied van sport- en oefengeneeskunde te wees, het my al regoor die wêreld geneem – van afgeleë gebiede in Suidoos-Asië tot die Hawaii-ysterman – en ek het al op al die vastelande gewerk. Ek is net baie geseënd en gelukkig om die wêreld danksy hierdie loopbaan te kon sien," voeg Derman by.
Hy sê hy het deur dít alles baie geleer oor die mediese kompleksiteite van atlete wat op die hoogste vlak funksioneer, die vermoë van atlete met gestremdhede om hindernisse te oorkom om op hulle beste te presteer, en hy het homself baie beter leer verstaan en "hoe die lewe in 'n oogwink kan verander".
Foto: Stefan Els