Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PRONTAK 2024
Outeur: Claudia Swart
Gepubliseer: 15/02/2024


Vanjaar se PRONTAK-program (Professionele Opvoedkundige Ontwikkeling vir Akademici) het op 29 Januarie by die Devonvale-hotel en -gholflandgoed afgeskop.

Twee-en-sestig (62) deelnemers uit nege (9) fakulteite en een (1) sentrum het vir die program ingeskryf.

Op grond van die terugvoer van die 2023-groep, is die kontaksessies verskuif om plaas te vind voordat klasse begin. Dit verleen aan deelnemers die buigsaamheid om te bepaal wanneer hulle die leeraktiwiteite en assesserings in die loop van die jaar wil afhandel.

Die eerste kontaksessie het van 29 tot 31 Januarie 2024 plaasgevind. Oor hierdie drie dae het deelnemers met al die elemente van die DeLTA-raamwerk omgegaan. Die DeLTA-raamwerk (raadpleeg die afbeelding) begelei akademici deur die herhalende en sikliese proses van die ontwerp en fasilitering van, en besinning oor OLA (onderrig-leer-assessering) aan die Universiteit Stellenbosch (US) om ʼn transformerende studenteleer-ervaring in diens van die samelewing te bevorder.

Die driedaagse kontaksessie is sodanig ontwerp dat deelnemers verskillende maniere om leer te fasiliteer kon ervaar. Deelnemers moes oor hierdie ervarings nadink en kies wat om in hulle eie OLA-kontekste toe te pas. Deelnemers het tydens verskillende leeraktiwiteite met die Onderrig- en Leerbeleid omgegaan, om hulle te vergewis van hoe die beleid hulle OLA-praktyke kan rig. Deelnemers is ook gelei om nadenkende praktisyns te raak, wat doelbewus en krities oor hulle OLA-praktyke dink en hulle professionele groei stelselmatig hersien en boekstaaf.

PRONTAK bestaan uit vyf (5) fases en kulmineer in ʼn plakkaataanbieding by die Akademieskap van Onderrig en Leer-konferensie​ (AvOL-). Gedurende die volgende fase van PRONTAK bepaal deelnemers hulle eie leertempo deur verskeie mylpale af te handel.

Die volgende kontaksessie sal op 7 Junie by STIAS plaasvind. Dié sessie sal op besinning fokus.