Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Huis Visser gebruik tafeltennis om bewusmaking van borskanker te versprei
Outeur: Yasmin Cloete
Gepubliseer: 26/10/2023

​Huis Visser het onlangs 'n geleentheid op die Rooiplein gereël om bewusmaking oor borskanker te kweek en het 'n prettige weergawe van tafeltennis gebruik om die woord te versprei oor hierdie belangrike kwessie wat beide vroue en mans kan raak.

Die koshuis se stalletjie was versier met bra's om die aandag te trek van verbygaande studente sodat vrywilligers van Huis Visser belangrike feite oor die siekte met die studente op die kampus kon deel.

Studente is aangemoedig om deel te neem aan die pret-wedstryde en wenners het 'n prys ontvang wat lekkergoed en 'n nota ingesluit het wat die risikofaktore uitspel wat kan bydra tot die ontwikkeling van borskanker. Van die feite wat gedeel is, was dat “borskanker die mees gediagnoseerde kanker van alle kanker-soorte in Suid-Afrika is" maar “vroeë opsporing kan lei tot effektiewe behandeling, wat die oorlewingsyfer van 90% van pasiënte wat vroeë behandeling kry, verleng".

Borskanker-bewusmakingsmaand, ook bekend as 'pienk Oktober', vind elke jaar in Oktober plaas. Mense regoor die wêreld neem deel aan die bewusmaking-inisiatief deur 'n pienk strikkie te dra om bewustheid te versprei. Die pienk strikkie verteenwoordig die stryd teen borskanker en dien as simbool om individue op te voed oor hierdie siekte deur verskillende bewusmakingsinisiatiewe.​

Die eerste borskanker-bewusmakingsgeleentheid is in 1985 aangebied met 'n weeklange veldtog van die American Cancer Society en die farmaseutiese afdeling van Imperial Chemical Industries. Oor tyd het dit uitgebrei tot 'n maandlange veldtog met mense wêreldwyd wat die pienk strikkies begin dra het as kragtige embleem om bewustheid te bevorder.

Die primêre doelwit van Borskanker-bewusmakingsmaand is om kennis van hierdie siekte te bevorder en mense in te lig oor die vroeë tekens van die siekte. Boonop dien die maand as platform om fondse in te samel om navorsing oor borskanker te bevorder. Aangesien dit die mees gediagnoseerde kanker is, speel gereelde mammogramme en skanderings, veral vanaf die ouderdom van 40, 'n noodsaaklike rol in vroeë opsporing.​​

Eben Baasden, huiskomiteelid verantwoordelik vir die portefeuljes Volhoubaarheid en Sosiale Impak, en Derby-week by Huis Visser, was verantwoordelik vir die reëlings.

“Die sosiale impakkomitee beplan altyd aktiwiteite vir Borskanker-bewusmakingsmaand en ons het besluit om iets kleins op die Rooiplein te doen. Die geleentheid was suksesvol en ons is bly dat ons kon bydra tot bewusmaking van 'n siekte wat nie net vroue nie, maar mans ook raak."

Baie studente sowel as inwoners van Huis Visser het pienk strikkies by die stalletjie geneem om op die dag te dra ter ondersteuning van die veldtog.

“Ek glo dat selfs die kleinste poging om bewustheid te bevorder 'n impak kan hê en 'n verskil kan maak."