Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Werkswinkels skakel US-waardes oor in aksie
Begin: 20/06/2023, 09:00
Einde: 20/06/2023, 16:00
Kontak:Carin Erasmus - 021 808 9765
Plek: Stias

Die Universiteit Stellenbosch (US) se waardes verskaf die goue standaard vir die soort gemeenskap wat ons nastreef om te wees. Dit beteken die waardes moet deel uitmaak van hoe ons optree, aansluiting by mekaar vind, besluite neem en etiese uitdagings hanteer.

Die Universiteit se Waardes in Aksie-projek sluit werkswinkels in wat daarop gemik is om personeel en studente toe te rus om waardegedrewe gedrag en leierskap te verpersoonlik. Daar is verskillende soorte werkswinkels, en die reis begin met 'n basiese waardes-in-aksie-werkswinkel (WiA).

Hierdie basiese werkswinkel stel deelnemers in staat om 'n algemene begrip te kry van die soort universiteitsgemeenskap wat ons graag wil wees, en om vaardighede aan te leer om moontlike waardebotsings te bestuur. Die werkswinkel dek temas soos die betekenis van waardes, waardebotsings en hoe om dit op te los, en hoe om waardes te integreer by hoe ons optree en by ander aansluiting vind.

Hoewel die basiese WiA-werkswinkel, wat oor een dag strek, binne 'n spesifieke afdeling, departement of seksie van die Universiteit gefokus kan wees, is daar ook ope werkswinkels waarvoor die uitnodiging oor die Universiteit strek. Dit maak interaksie moontlik tussen uiteenlopende individue wat in uiteenlopende omgewings gesetel is. 

Daar sal hierdie jaar nog net vier van hierdie basiese werkswinkels aangebied word. Die datums vir die res van hierdie jaar is: 

  • 20, 21 en 22 Junie 2023
  • 8 Augustus 2023 

Kontak asseblief Carin Erasmus by ccerasmus@sun.ac.za om jou belangstelling in 'n spesifieke datum hierbo aan te dui. Klik hier vir meer inligting. 

Let wel: Daar is beperkte sitplekke by alle werkswinkels beskikbaar. Personeellede wat vir 'n werkswinkel inskryf en dit dan nie bywoon en/of die program voltooi nie, sal vir die koste aanspreeklik gehou word.