Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Auxin met Dr Taryn Bernard
Begin: 25/02/2020, 12:45
Einde: 25/02/2020, 13:45
Kontak:Juanita Layman - 0218083717
Plek: Den Bosch

Hiermee nooi SOL u graag na 'n etensuursessie as deel van die Auxin-projek. Die Auxin-projek se doel is om groeigeleenthede vir US-dosente te skep.

Aangebied deur Dr Taryn Bernard‘n dosent aan die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe van die Universiteit van Stellenbosch (US). Sy doseer al vir meer as tien jaar in die Departement Algemene Taalwetenskap en in die fakulteit se Verlengde Graadprogram (VGP). In hierdie hoedanigheid het haar kundigheid ontwikkel in metodes van kritiese toegepaste linguistiek. Haar navorsing het ten doel om die vergewikkelde verbintenisse tussen sosiale ideologie en taalgebruik te ontdek, veral in Suid Afrikaanse verband.  Sy is ’n ontvanger van die US se Toekenning vir Uitnemende Onderrig van 2019 in die kategorie vir uitgelese dosente.

Titel van aanbieding: Kritiese Selfrefleksie:  ‘n Metode vir transformatiewe leer en onderrig.

Opsomming: Suid-Afrikaanse universiteite is al vir etlike dekades in transformasie, maar studente se opstande in 2015 - 2017 getuig  steeds van sosiale ongelykheid en uitsluiting in die Suid-Afrikaanse hoëronderwysstelsel. In hierdie konteks word van dosente verwag om die transformasieproses te ondersteun. Hulle word dikwels gevra om nie net hulle eie identiteite en posisies as subjekte te bevraagteken nie, maar ook die basiese aannames waarop hulle kurrikula gebaseer is. “Hoe doen ons dit?” is steeds ‘n belangrike en gereelde vraag.

In hierdie Auxin-sessie ondersoek ek die konsep van “kritiese selfrefleksie” as ’n hulpmiddel wat bydra tot die ontwikkeling van transformerende praktyke in leer en onderrig. Aan die hand van Vorster en Quinn (2017) sowel as Luckett (2019) toon ek aan hoe kritiese selfrefleksie bydra tot ’n dieper en ryker begrip van “akademiese ontwikkeling” in Suid-Afrikaanse verband.  Met die oog daarop om praktiese raad en tegnieke te deel, vertel ek van my eie ondervindings met outo-etnografiese navorsing in die VGP- klas en die beduidende impak wat dit gehad het op my kurrikulumontwerp en op die manier waarmee ek met studente in die klaskamer omgaan.

Datum: 25 Februarie 2020, 12h45 – 13h45
Plek: Den Bosch, Victoriastraat 41 (oorkant Huis Skuilhoek en reg agter die Konserwatorium) op die Stellenbosch kampus. 

Vir meer inligting en vir RSVP kontak gerus Juanita Layman 
jlayman@sun.ac.za
021 808 3717

Indien u, om watter rede ookal, nie meer die AUXIN kan bywoon nie, versoek ons dat u asseblief u registrasie ten minste 24 uur voor die tyd kanselleer, deur me. Layman te kontak (kontakbesonderhede hierbo). Daar is vir SOL sekere kostes verbonde aan elke AUXIN en die versoek is om finansiële implikasies minimaal te hou.

Na afloop van die sessie sal die potgooi beskikbaar wees op SOL se webtuiste: www.sun.ac.za/ctl​