​​​​​​

Gereelde vrae: COVID-19-inentings

Nee, COVID-19-entstowwe is nie eksperimenteel nie. Dit is gegrond op wetenskap wat al dekades lank bestaan. Die entstowwe is aan alle vereiste kliniese proeffases onderwerp, en uitgebreide toetsing en monitering het getoon dit is veilig en doeltreffend.
Klik hier om verder te lees oor die ontwikkelingsproses.

(Bron: Amerikaanse Sentrum vir die beheer en voorkoming van siektes (CDC)

Weens die dringende behoefte aan COVID-19-entstowwe het ongekende finansiële belegging en wetenskaplike samewerking plaasgevind. As gevolg dáárvan kon die proses vinniger verloop. Hoewel geen stap in die navorsing- en ontwikkelingsproses oorgeslaan is nie, het van die stappe gelyktydig gebeur, maar steeds volgens streng kliniese en veiligheidstandaarde. Die verhoogde tempo waarteen die COVID-19-entstowwe ontwikkel is, is dus weens die sterk finansiële en politieke steun vir die proses – niks anders nie.

Verdere inligting oor COVID-19-entstofontwikkeling is hier te kry.

(Bron: Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) )

COVID-19-entstofbestanddele wissel na gelang van die vervaardiger. Nietemin bevat nie een van die entstowwe eiers, gelatien, lateks of preserveermiddels nie. Dit is ook vry van metale soos yster, nikkel, kobalt, litium en seldsameaard-allooie. Boonop bevat geen entstof enige vervaardigde produkte soos mikro-elektronika, elektrodes, koolstofnanobuise of halfgeleier-nanodrade nie.

Vir meer besonderhede oor die bestanddele van die goedgekeurde COVID-19-entstowwe, klik op die skakels hieronder:

(Bron: Amerikaanse Sentrum vir die beheer en voorkoming van siektes (CDC) )

mRNA-entstowwe gebruik ’n kopie van ’n molekule genaamd boodskapper-RNA (“mRNA”) om ’n immuunreaksie te skep. Die mRNA-entstoftegnologie is nie nuut nie. Trouens, dit word al dekades lank bestudeer, onder meer in verband met Zika, hondsdolheid en griep. Hierdie entstowwe is nie “lewendevirus-entstowwe” nie en meng geensins in met die mens se DNA nie. Die COVID-19-mRNA-entstowwe is aan streng veiligheidstoetse onderwerp, en kliniese proewe het getoon dat dit ’n uiters doeltreffende immuunreaksie teen siekte tot gevolg het.

Verdere inligting oor hoe COVID-19-mRNA-entstowwe werk, is hier te kry.

(Bron: Amerikaanse Sentrum vir die beheer en voorkoming van siektes (CDC) )

’n Studie oor die verspreiding van COVID-19 het bevind dat inenting ’n belangrike instrument in die verlaging van die verspreiding van die virus is. Lees asb die onderstaande twee uittreksels uit die studie, getiteld “COVID-19-entstowwe en verminderde oordrag van SARS-CoV-2” en “Voorkoming van draer-tot-draer-oordrag deur SARS-CoV-2-entstowwe”:

“Huidige kliniese bewyse toon dat COVID-19-inenting beskerming bied teen ernstige simptome van die siekte en dit is ook ’n belangrike instrument om die verspreiding van die virus en die infeksiekoers te verlaag. In hierdie stadium is die wêreldwye COVID-19-pandemie ingewikkeld, met sommige lande wat reeds ’n groot gedeelte van hul bevolking ingeënt het, terwyl ander sukkel om toegang tot entstowwe te kry. Daar is ook ’n groot verskeidenheid maatreëls wat ingestel is en grense tussen lande is gesluit. Hierdie verskille kan variante van die virus meebring en die wêreldwye pandemiefase verleng. Mense wat ingeënt is, het ’n kleiner kans om die virus oor te dra, maar dit bly egter uiters belangrik om verantwoordelike gedrag te handhaaf.” (Vitiello et al., Inflammopharmacology 2021)

(Bron: COVID-19 vaccines and decreased transmission of SARS-CoV-2)

“Namate inentings wêreldwyd toeneem, begin ons ’n onderdrukking van die oordrag van SARS-CoV-2 van mens tot mens sien. Deur verskillende arms van die aanpasbare immuunrespons in beide mukosale en sistemiese omgewings te hefboom, wil dit voorkom asof verskeie van die beskikbare entstowwe infeksie en virale replisering beperk, en verlaag dit ook dikwels die virale lading tot onder die drempel vir oordrag en voorkoms van simptome. Hoewel baie studies aansienlike doelmatigheid in die voorkoming van oordrag vir sommige entstowwe soos die Pfizer-BioNTech-, Moderna- en Johnson & Johnson-entstowwe toon, bestaan daar geringe data vir ander goedgekeurde entstowwe soos die Sinopharm-entstof en Sputnik V.” (Mostaghimi et al., Lancet Infect Dis 2021)

(Bron: Prevention of host-to-host transmission by SARS-CoV-2 vaccines )

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) beveel aan dat jy so gou as wat daar vir jou ’n COVID-19-inenting beskikbaar is, dit sal ontvang. Jy moet ingeënt word om jouself en diegene rondom jou te beskerm.

(Bron: Wêreldgesondheidsorganisasie)

Ernstige gevalle kom wel onder jonger, gesonder mense voor. Boonop waarsku die Amerikaanse Sentrum vir die beheer en voorkoming van siektes “CDC” teen die moontlike langtermyngesondheidsgevolge van COVID-19-infeksie, selfs vir diegene wat net ligte simptome ervaar het.

Daarbenewens kan jongmense steeds virusdraers wees en COVID-19 in die gemeenskap versprei sonder dat hulle ooit self enige simptome het. Dít is waarom jy jou steeds moet laat inent.

(Bron: Amerikaanse Sentrum vir die beheer en voorkoming van siektes (CDC) )

Ja. Dis nog nie duidelik vir hoe lank ’n mens teen COVID-19-herinfeksie beskerm is nadat jy daarvan herstel het nie. Inenting ná COVID-19-infeksie is ’n manier om jou immuunreaksie te versterk en die moontlikheid van herinfeksie verder te verminder.
Kyk ook hierdie video oor waarom jy die entstof behoort te kry.

(Bron: Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) )

Net ’n klein groepie mense wat ’n COVID-19-entstof ontvang het, het allergiese reaksies aangemeld. ’n Ernstige allergiese reaksie – soos anafilakse – is ’n moontlike dog seldsame newe-effek met enige entstof. By persone met ’n bekende risiko, soos ’n allergiese reaksie op ’n vorige dosis van die entstof, of op enige van die bekende bestanddele van die entstof, is voorsorgmaatreëls dalk nodig.

As jy al voorheen ’n allergiese reaksie op entstowwe of ander medisyne gehad het, raadpleeg jou dokter voordat jy die COVID-19-inenting kry.

Alle gesondheidsorgwerkers wat entstowwe toedien, is opgelei om enige allergiese reaksies te herken en te behandel.

(Bron: Nasionale Departement van Gesondheid: Toegangsblad na Inentingsinligting )

Nie een van die COVID-19-entstowwe bevat die lewende virus wat COVID-19 veroorsaak nie. ’n COVID-19-entstof kan jou nie COVID-19 gee nie.

(Bron: Amerikaanse Sentrum vir die beheer en voorkoming van siektes (CDC) )

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) en internasionale liggame, waaronder die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), moniteer die COVID-19-entstof noukeurig om enige ernstige en onverwagte newe-effekte op te spoor.

Klik hier vir ’n SAHPRA-verslag oor nadelige voorvalle ná inenting.

(Bron: SAHPRA)

Nee, COVID-19-entstowwe skep nie variante van die COVID-19-virus nie. Nuwe variante kom voor omdat die virus aanhou verander as gevolg van ’n voortgesette natuurlike mutasieproses. Selfs nog voor ons die COVID-19-entstowwe gehad het, was daar al verskeie variante van die virus. Variante sal na verwagting aanhou ontwikkel namate die virus aanhou verander.

Nogtans kan COVID-19-entstowwe help keer dat nuwe variante kop uitsteek. Hoe verder die virus versprei, hoe meer geleenthede het dit om te verander. ’n Hoë inentingsyfer in ’n bevolking verminder egter die verspreiding van die virus, wat help verhoed dat nuwe variante ontwikkel.

(Bron: Amerikaanse Sentrum vir die beheer en voorkoming van siektes (CDC) )

As jy ’n chroniese toestand het of medisyne gebruik, kontak jou dokter om oor inenting te gesels. As jy nie jou eie dokter het nie, skakel 0800 029 999 in kantoorure en kies opsie 3. Daar sal gesondheidswerkers beskikbaar wees om jou by te staan.

(Bron: Nasionale Departement van Gesondheid: Toegangsblad na Inentingsinligting )

As jy ’n voorafbestaande toestand het of medisyne gebruik, kontak jou dokter om oor inenting te gesels. As jy nie jou eie dokter het nie, skakel 0800 029 999 in kantoorure en kies opsie 3. Daar sal gesondheidswerkers beskikbaar wees om jou by te staan.

(Bron: Nasionale Departement van Gesondheid: Toegangsblad na Inentingsinligting )

Ja, inenting is veilig vir swanger vroue. Trouens, omdat swangerskap vroue se risiko van ernstige COVID-19 verhoog, is dit raadsaam vir alle vroue wat swanger is of borsvoed om die entstof te ontvang.

Vind meer uit oor COVID-entstowwe en swangerskap by die skakels hieronder:

(Bron: Nasionale Departement van Gesondheid: Toegangsblad na Inentingsinligting/ Amerikaanse Sentrum vir die beheer en voorkoming van siektes (CDC) )

Ja, dit is normaal. Entstowwe is só ontwerp dat jou liggaam weerstand teen ’n siekte sal bied sonder die gevare daarvan om ernstig siek te word. Ligte tot matige newe-effekte kom dikwels voor ná ’n inenting toegedien is.

(Bron: Nasionale Departement van Gesondheid: Toegangsblad na Inentingsinligting )

Gewoonlik word net ligte algemene newe-effekte ná ’n inenting ondervind. Dit sluit in: pyn, swelling, rooiheid waar die entstof ingespuit is, ligte koors, kouekoors, moegheid, hoofpyn, spier- of gewrigspyn.

(Bron: Nasionale Departement van Gesondheid: Toegangsblad na Inentingsinligting )

Dit duur tot 14 dae na die eerste dosis van die Johnson & Johnson-entstof vir die liggaam se immuunstelsel om ’n sterk immuunreaksie op te bou. Met mRNA-entstowwe (soos Pfizer en Moderna) is daar ’n mate van beskerming twee weke na die eerste dosis, maar die sterkste beskerming word na die tweede dosis verkry. Daar is goeie nuwe data wat toon dat asimptomatiese infeksie so gou as tien dae na een dosis reeds ongewoon is (1 uit 100), en uiters ongewoon (1 uit 1 000) na twee dosisse van ’n mRNA-entstof. Oor die algemeen is enige infeksie ná inenting gewoonlik lig en vereis geen hospitalisasie nie.

(Bron: Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes)

Namate Covid-variante te voorskyn kom, dui laboratoriumnavorsing daarop dat beskerming teen Covid-19 afhang van hoeveel teenliggaampies ’n mens het. ’n Versterkingsdosis van die Pfizer- en die Johnson & Johnson-entstof is ’n betroubare en veilige manier om teenliggaampies en ‘T-selreaksies’ op SARS-CoV-2 ’n hupstoot te gee. Laboratoriumtoetse toon dat variante van die virus doeltreffender geneutraliseer word deur diegene met baie teenliggaampies.

(Bron: Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes)

Ja. Daar is goeie bewyse dat ’n versterkingsdosis die hoeveelheid teenliggaampies teen die stekelproteïen van die SARS-CoV-2-virus verhoog, en dat meer teenliggaampies meer beskerming bied teen variante, waaronder Omicron.

(Bron: Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes)

Newe-effekte van versterkingsdosisse is soortgelyk aan die newe-effekte van die eerste entstof. Algemene newe-effekte sluit in moegheid, lyfseer, ligte koors, en pyn op die plek waar jy ingespuit word. Persone wat ’n versterkingsdosis ontvang, kan dalk meer geneig wees om hierdie algemene newe-effekte te ervaar. Newe-effekte verdwyn heeltemal binne 24 tot 48 uur.

(Bron: Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes)

Versterkingsdosisse vir sowel die Pfizer- as die Johnson & Johnson-entstof is beskikbaar vir almal bo 18-jarige ouderdom. Om vir ’n versterkingsdosis in aanmerking te kom, moes jy:

  • die Johnson & Johnson-entstof ten minste twee maande gelede ontvang het; of
  • jou tweede dosis van die Pfizer-entstof ten minste ses maande gelede ontvang het.

(Bron: Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes)

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) onderskryf die Amerikaanse Voedsel- en Medisyneadministrasie se versoek dat mense nié Ivermectin vir die behandeling van COVID-19 gebruik nie.

SAHPRA se verklaring in dié verband is hier te kry.

(Bron: SAHPRA)

Ja, ernstige COVID-19 kan noodlottig wees. Vir die jongste nuus oor wêreldwye koronavirusinfeksies, -sterftes en -inentings, raadpleeg die COVID-19-wêreldkaart van die Sentrum vir Stelselswetenskap en -ingenieurswese aan Johns Hopkins-universiteit.

(Bron: John Hopkins-universiteit se Skool vir Geneeskunde)

Nee, daar is geen “entstofmikroskyfies” nie, en daar is ook geen stawing vir die bewerings dat so iets beplan word nie. Die inenting maak dit nie moontlik om op mense te spioeneer nie.

(Bron: Nasionale Departement van Gesondheid: Toegangsblad na Inentingsinligting)

Bronne:

Die inligting hierbo is (in sommige gevalle woordeliks) uit die volgende gesaghebbende nasionale en internasionale gesondheidsbronne verkry:
Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes
Nasionale Departement van Gesondheid: Toegangsblad na Inentingsinligting
Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO)
Amerikaanse Sentrum vir die beheer en voorkoming van siektes (CDC)
John Hopkins-universiteit se Skool vir Geneeskunde
Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA)

​​​