Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Luister na jongmense in transformasie- gesprekke - Prof Amanda Gouws
Outeur: Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
Gepubliseer: 09/09/2015

​Huidige gesprekke oor transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US) sal sinvol wees as die stemme van jongmense ook gehoor word, skryf prof Amanda Gouws van die US se Departement Politieke Wetenskap ʼn in artikel wat op Maandag (7 September 2015) in Die Burger verskyn het. Dieselfde artikel is ook op Dinsdag (8 September 2015) in een van die susterskoerante, Volksblad, gepubliseer. 

Lees die volledige artikel hieronder of klik hier vir die artikel soos gepubliseer.

Burger: Ons behoort te luister (7 Sept 2015)

Niemand sal ontken dat universiteite in Suid-Afrika 'n onstuimige tyd beleef nie.  Stellenbosch Universiteit is geen uitsondering nie.  Die Luister video is meer as 200 000 keer van Youtube afgelaai. Daarin sien ons die geleefde ervarings van swart studente op die kampus en in die dorp.  En hierdie studente voel magteloos om iets aan hulle ervarings te doen.

Dit wys ook dat taal en die gevoel van uitsluiting uit die kultuur op Stellenbosch nou verweef is.  Hierdie gevoel van uitsluiting gee aanleiding tot frustrasie en aggressie.  In 'n onlangse debat op kampus het 'n lid van #OpenStellenbosch op die vraag of transformasie nie deur deurdagte debat moet plaasvind nie, geantwoord dat dit nie die werk van swart studente behoort te wees om wit studente oor rasisme op te voed nie.  Ek moet dit hom gelyk gee.

Waarin #OpenStellenbosch definitief geslaag het is om baie mense uit hul gemaksones te ruk en om eerlik te wees, bang te maak.  Maar het dit ons meer bereid gemaak om werklik te luister? Of plaas dit ons op die verdediging?

Die grootste probleem is dat die woord transformasie rondgegooi word, maar dat individue op die kampus nie werklik weet wat om aan sistemiese probleme te doen nie.  Strukturele rasisme kan slegs verander as ons bereid is om die institusionele kultuur van SU te verander.  Dit moet 'n meer inklusiewe kultuur word waarin vooroordele teenoor swart mense, vroue, gay mense, ens nie 'n plek het nie.

Om alle pogings wat die SU aanwend om transformasie teweeg te bring of te versnel te diskrediteer is egter nie helpvol nie.  Waartoe dit bydra is dat almal wat vir jare as transformasie-agente op die kampus opgetree het en wat bereid was om die gramskap van die "stille meerderheid" te ervaar, ook gediskrediteer word.  Dit vervreem potensiële bondgenote en laat die goeie wil van baie mense verdwyn.

Wanneer #OpenStellenbosch met vreemde bedmaats gemaklik voel wat plakkate dra wat lees "one settler one bullet" bevorder dit nie hulle saak nie.  Dit dra ook daartoe by dat mense begin dink daar is 'n sameswering aan die gang om alle universiteite te destabiliseer. Mense vra of daar 'n "derde mag" by betrokke is?  Dit is gevaarlik as mense sulke vrae begin vra omdat dit die aandag aftrek van werklike probleme met transformasie op kampusse. 

Dat Stellenbosch vir 'n idee staan, waarna Max du Preez verwys, is lankal iets van die verlede. Universiteite hou hulself ten einde laaste besig met die skepping van kennis.  Dit is 'n plek waar studente krities met kennis moet omgaan sodat hulle alle idees moet kan bevraagteken om te leer om self nuwe kennis te skep.  Die idee waarvoor die SU nou staan is een van uitnemendheid. Hierdie uitnemendheid kan slegs deur diversiteit bevorder word.  Dit beteken ook 'n diversiteit van tale, nie noodwendig net Engels nie.

Dit is omdat 'n vorige regime soveel mense uit die kennisprojek uitgesluit het dat ons vandag die vrugte pluk van 'n regering wat glad nie 'n greep op kennis het nie en wat alle intellektueles met agterdog bejeën.  Met 'n jonger generasie kan ons begin om 'n nuwe basis van kennis te bou.  Dit is nie aanvaarbaar dat hulle nie tot hul reg kan kom op 'n universiteit as gevolg van taal, of ras, of die feit dat hulle nie plek het om te woon nie. Die "bornfrees" moet vir ons 'n barometer wees van die ongeduld met die slakkepas van transformasie. Ons behoort te luister.