Die Universiteit Stellenbosch (US) gaan die volgende drie jaar sowat R70 miljoen (R68.6 m) aan die diversifisering van sy personeelkorps bestee. Dié bedrag word uit die Universiteit se Strategiese Fonds bewillig, en is bykomend tot die normale personeelbegroting.
"Transformasie is vir ons ʼn saak van dringendheid. Ons is voornemens om toenemend meer inklusief en toeganklik te word as instelling. Deur fondse spesifiek vir ʼn meer diverse personeelkorps opsy te sit, sal ons die nodige menslike hulpbronne kan bekom en ontwikkel," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, gesê.
Een van die US se missiestellings is om ʼn akademiese gemeenskap te skep wat deur sosiale geregtigheid en gelyke geleenthede gekenmerk word. Dít spruit uit die Universiteit se verbintenis tot regstelling en ontwikkeling, sowel as die uitgangspunt dat ʼn diversiteit van mense en idees akademiese uitnemendheid bevorder.
Wat die samestelling van die US se personeelkorps betref, is reeds goeie vordering na groter diversiteit gemaak, maar veral senior akademiese aanstellings bly ʼn uitdaging – soos wat ander universiteite ook ervaar. Weens die ernstige tekort aan menslike hulpbronne uit die aangewese groepe landswyd, sowel as die aanloklike vergoedingspakkette wat deur die private sektor en die staat aangebied word, sukkel Suid-Afrikaanse universiteite oor die algemeen met hul personeeldiversiteit.
Die persentasie permanente US-werknemers uit die bruin, swart en Indiër- (BSI-)bevolkingsgroepe was in 2014 altesaam 43.2% teenoor 37.6% in 2008. Die tendens is dus ʼn opwaartse een, maar die US sal sy pas moet versnel om teen 2020 sy teiken van 53% te bereik.
Hierdie dringendheid geld ook geslag. Die US se persentasie vroulike permanente personeel het van 51.9% in 2008 tot 55.9% in 2014 verbeter, maar die mikpunt is 60% teen 2020. Gelyke verteenwoordiging van vroue op uitvoerende bestuurs- en senior akademiese vlakke is nog nie verwesenlik nie.
Die US se topbestuur het dus besluit om ʼn aansienlike bedrag vir groter personeeldiversiteit te bewillig. Dit is dadelik beskikbaar en sal die volgende drie jaar tweeledig aangewend word:
- Enersyds sal senior beroepslui – veral akademici, maar ook professionele steundienspersoneel – uit die aangewese groepe gewerf en aangestel word.
- Andersyds sal huidige US-werknemers uit die aangewese groepe ontwikkelingsgeleenthede met die oog op loopbaanvordering gebied word om opwaarts te kan beweeg, bv. van lektor na senior lektor na professor.
Die US fokus met sy mentorskapprojek op versnelde kennisoordrag aan jong akademici as deel van opvolgbeplanning. Die Universiteit neem ook deel aan die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se Program vir ʼn Nuwe Generasie Akademici, bekend as nGAP. Die strategiese fondse sal hierdie inisiatiewe ondersteun.
As ʼn belegging in die toekoms maak die US ʼn beduidende bydrae tot die transformasie van hoër onderwys deur jaarliks ʼn groot aantal nagraadse afgestudeerdes te lewer. Die US het in 2014 altesaam 234 doktorsgrade en 1 297 magistergrade toegeken, waarvan onderskeidelik 95 en 492 aan BSI-gegradueerdes.
Hierdie prestasie dra daartoe by dat die US die hoogste navorsingsuitsette per voltydse akademiese personeellid in Suid-Afrika handhaaf, en vergroot terselfdertyd die poel senior swart akademici en beroepslui in die land en die res van die vasteland.
Die US het ʼn ruim siening van transformasie, naamlik dat dit alle elemente van die universiteitslewe raak, insluitend leer en onderrig, navorsing en innovasie, sosiale impak en ko-kurrikulêre aktiwiteite, die vernuwing van die US se institusionele kultuur, asook die samestelling en transformasie-kundigheid van die Universiteit se personeel- en studentekorps.
Tekenend van die erns waarmee transformasie bejeën word, is die feit dat dit pertinent deel gemaak is van prof Nico Koopman se portefeulje as Viserektor: Personeel en Gemeenskapsinteraksie. ʼn Kantoor vir Transformasie word ook tans gevestig om transformasieprosesse aan die US te fasiliteer, te koördineer en te stimuleer.
Hierbenewens is ʼn Transformasiekomitee ook aan die US in die lewe geroep. Daar word voorts beplan om die belangrike statutêre rol van die Institusionele Forum ten opsigte van transformasie te versterk, en om ʼn Navorsingsleerstoel in Versoening en Transformasie aan die US te vestig.
"Die oogmerk van transformasie aan die US is voldoening aan die waardes wat in die Handves van Regte in die Suid-Afrikaanse Grondwet vervat is – veral menswaardigheid, met die boustene van versoening, geregtigheid, vryheid van verdrukking en diskriminasie, en gelyke geleenthede vir almal om as volwaardige lede van die samelewing te gedy. Die diversifisering van ons personeelkorps pas hierby in," het prof Koopman gesê.