Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Só dink ons oor transformasie aan die US
Outeur: Korporatiewe bemarking / Corporate Marketing
Gepubliseer: 15/04/2015

Soos alle universiteite in Suid-Afrika, worstel die Universiteit Stellenbosch (US) ook met kwessies van transformasie, en hanteer terselfdertyd die bykomende uitdaging van meertaligheid. 

Tog kan transformasie nie in afsondering beskou word nie. Universiteite oor die wêreld heen is tans in "transformasiemodus" in die ruim sin van die woord. Die impak van inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT), volhoubaarheid en relevansie is waarskynlik die grootste uitdagings waarmee hedendaagse universiteite te kampe het. Ander uitdagings is kwynende staatsfinansiering, spanninge in verband met toegang, gehalteversekering, studentesuksessyfers, gegradueerdes wat in aanvraag bly, die instandhouding van fisiese infrastruktuur en die voorsiening van hipermoderne fasiliteite en tegnologie. 

In Suid-Afrikaanse verband is die Universiteit Stellenbosch se standpunt oor transformasie duidelik: Voortgesette transformasie is deel van die 'kernwese' van die Universiteit – nie net weens ʼn diepgewortelde verbintenis tot transformasie nie, maar ook as kernvereiste vir sukses in die 21ste eeu. Die Universiteit is vas oortuig dat ʼn diversiteit van personeel, studente, kennis, idees en sienings die gehalte van sy kern- akademiese bedrywighede selfs verder kan verhoog.

Die keuse vir transformasie word duidelik uiteengesit in die Universiteit se visie, soos dit in sy Institusionele Voorneme en Strategie (synde die instelling se padkaart vir die toekoms) verskyn. Daarvolgens is die Universiteit Stellenbosch inklusief, innoverend en toekomsgerig. Die Universiteit se Institusionele Plan omvat ook transformasieoogmerke wat in sy kernbedrywighede veranker is.

Met dít in gedagte, is die Universiteit terdeë bewus van die behoefte om die proses van sistemiese transformasie te bespoedig en te verdiep. Hoewel daar reeds vordering gemaak is met betrekking tot toegang en sukses, institusionele taalsoepelheid, integrasie, verwelkomingspraktyke en studentesteun, is daar steeds uitdagings wat betref hoëvlakverteenwoordiging en opvattings oor die institusionele kultuur, wat straks selfs vererger is deur die afsterwe van prof Russel Botman in 2014.

Die US-bestuur hanteer hierdie kwessies stelselmatig en doelgerig, maar het ook kennis geneem van studente se behoefte om konkrete vordering met betrekking tot transformasie te sien en sinvolle gesprekke hieroor met die bestuur te voer. In hierdie verband het die bestuur by die onlangse Menswaardigheidsoptog op kampus sy verbintenis tot verdere gesprek met studente bevestig.

Vir die US-bestuur is die al hoe sterker kultuur van robuuste debat by die instelling ook verblydend. Onlangse voorbeelde hiervan was nie net bogenoemde Menswaardigheidsoptog nie, maar ook ʼn gesprek oor naamsveranderinge en die verwydering van standbeelde wat die Luister-Leef-en-Leer- (LLL-)gemeenskap op kampus gefasiliteer het. Dit sal na verwagting gevolg word deur ander LLL-inisiatiewe, soos ʼn blogwedstryd en ʼn reeks oor konflikbeslegting en transformasie ter aanvulling van die reeds beskikbare kursusaanbod van die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling (klik hier vir meer inligting). Die rol van die Studenteraad kan ook nie onderskat word nie.

Hierdie kultuur van interaksie en gesprek behoort by alle fasette van die kampuslewe geïntegreer te word: by gesprekke in lesingsale, oor koffie in die studentekerne en in leefruimtes.

Leer- en leefruimtes

Iets wat sterk na vore getree het na aanleiding van die gebeure by die Universiteit van Kaapstad is die fisiese kampusomgewing waarin ʼn diverse groep studente moet woon en studeer, en, in die geval van Stellenbosch, die besef dat sekere ikone of elemente op kampus sommige van sy studente kan vervreem. In hierdie verband het die Universiteit die afgelope paar jaar hard gewerk om studentevriendelike woon- en werkruimtes in te rig, soos die opknapping van fakulteitsgeboue om ʼn meer verwelkomende atmosfeer te skep. Dit het die kwessie in ʼn mate die hoof gebied.

Omdat die instelling reeds lank daarvan bewus is dat visuele elemente en simbole ʼn voortdurende herinnering is aan ʼn pynlike geskiedenis en dus ʼn onvriendelike omgewing skep, het die Universiteit egter ʼn proses van stapel gestuur om die fisiese omgewing vir ʼn diverse groep Matie-studente en personeellede aanvaarbaar te maak. Hierdie proses spruit onder meer uit ʼn Raadsbesluit voor die eeuwisseling waarin die Universiteit "sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede" erken en hom "tot gepaste regstellings- en ontwikkelingsinisiatiewe" verbind. 

Hierdie proses sluit die verandering van omstrede gebouname in. Die mees onlangse was die naamsverandering van die DF Malan-gedenksentrum na die Coetzenburgsentrum (in 2014), terwyl die voormalige BJ Vorster- en HF Verwoerd-geboue meer as ʼn dekade gelede onderskeidelik tot die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou en die Rekeningkunde en Statistiek- (oftewel die 'Rek en Stats'-)gebou herdoop is (sien ook inligting hieronder).

Daarbenewens het die Universiteit, in samehang met ʼn kampusvernuwingsprojek en ʼn hernude poging om die verwelkomende kampuskultuur te verbeter, in 2013 ʼn proses van stapel gestuur om die name van geboue en plekke sowel as historiese kenmerke soos portrette en borsbeelde te hersien. Dit sluit in die kontekstualisering van sekere visuele voorstellings soos gedenkplate en die behoorlike dokumentering van artefakte uit vervloë dae.

In ooreenstemming met ons visie om ʼn toekomsgerigte instelling te wees, sal ʼn deel van die projek toegespits wees op die toevoeging van nuwe simbole en kulturele ikone.  

MEER INLIGTING OOR SPESIFIEKE TRANSFORMASIE-INISIATIEWE

Studente

Swart, bruin en Indiër- (SBI-)studente maak tans ʼn derde van die instelling se voorgraadse studentebevolking uit en die oogmerk is om die verteenwoordiging teen 2018/19 tot 50% te verhoog. Bykans die helfte van die nagraadse studentekorps bestaan reeds uit SBI-studente. Die Universiteit streef ook daadwerklik daarna om toegang te verbreed en die bevordering van diversiteit te beklemtoon deur multikulturele leef- en leeromgewings in alle klusters, koshuise en privaat wyke te skep.

Die US bied verskeie geleenthede vir nuwelinge wat betref opleiding, gesprekke, debatte en ander ko-kurrikulêre geleenthede en programme om hulle kennis van multikulturele kwessies, blootstelling aan ander kulture sowel as tussenkultuurkommunikasie te verbeter. Sodoende word hulle toegerus om optimaal te funksioneer en te floreer in 'n diverse en multikulturele omgewing.

Voorts skenk alle opleidingsgeleenthede vir studenteleiers uitdruklik aandag aan multikulturalisme en die voordele verbonde aan 'n waardering vir ander wat van hulle verskil.

Personeel

Wat personeel betref, word beduidende vordering gemaak om SBI-aanstellings in die steundienste te verhoog. Senior akademiese aanstellings aan die Universiteit is steeds ʼn uitdaging (soos wat die Universiteit van Kaapstad en Rhodes-universiteit ook uitgewys het), maar die Universiteit werk hard om die gelykheidsprofiel in hierdie verband te verbeter. Inisiatiewe sluit in strategiese werwing, die Universiteit se Nalatenskapprojek (Legacy Project) om senior SBI-personeel te werf, die vereiste dat alle aanstellings aan ʼn bestuurskode moet voldoen, sowel as ʼn mentorskapprojek vir die bespoediging van kennisoordrag na jong akademici.

Geboue en gemeenskap

Deel van die herstel waartoe die Universiteit hom verbind het, is die herstel van sy verhouding met omliggende gemeenskappe. Om historiese redes was hierdie verhoudings in die gunstigste geval bra gespanne. Gedwonge uitsettings uit 'Die Vlakte' ingevolge die Groepsgebiedewet, die gevolglike oordrag van die Lückhoffskool na die Universiteit Stellenbosch, en die 'vergete' voorvalle tussen inwoners van Die Vlakte en studente, waaronder die Slag van Andringastraat, het voorheen skerp verdelings veroorsaak.

Die Lückhoffskool is sedertdien aan die plaaslike gemeenskap teruggegee en dien tans as hoofkantoor vir verskillende gemeenskapsorganisasies sowel as die Universiteit se Afdeling Gemeenskapsinteraksie. Die geskiedenis van 'Die Vlakte', die Slag van Andringastraat en daaropvolgende optrede deur Universiteitstudente word uitgebeeld in ʼn uitstalling in die Herinneringskamer van die US Argief, waar die publiek daarna kan kyk.

Studentewerwing

Gedagtig daaraan dat nie alle voornemende studente skoolopleiding van dieselfde gehalte gehad het nie, dat duisende studente nie vir tersiêre onderwys kan betaal nie, en dat die Universiteit Stellenbosch se kampuskultuur voorheen as onvriendelik ervaar is, is verskeie inisiatiewe ingestel om hierdie kwessies die hoof te bied. Dit sluit in ʼn klem op die skep van ʼn verwelkomende kultuur, die verbreding van toegang deur taal by wyse van parallellemedium-onderrig en opvoedkundige tolkdienste, werwingsbeurse vir verdienstelike SBI-studente en mentor- en tutorprogramme.

Verdere inisiatiewe behels diversiteitsprogramme in koshuise (met die aanvaarding van ʼn nuwe koshuisplasingsbeleid in 2013 om die suksessyfer onder kwesbare eerstegenerasiestudente te verhoog), die Luister-Leef-en-Leer-huise en studente-nawe (op kampus bekend as hubs) waar studente van verskillende agtergronde kan integreer, ʼn mobiliteitsplan vir studente wat pendel, en spesiale werwingsinisiatiewe om die diversiteitsprofiel van studente te verbeter.

Die Universiteitsraad het in 2014 ʼn bykomende R102,3 miljoen toegeken vir beurse om die getal SBI-studente te verhoog. Daarbenewens is die versterking van die beursfonds deur filantropiese skenkings ʼn voorrangsaak in die geldinsamelingsprojekte van die Universiteit.