Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Biochemie student nou bestuurder by biomediese firma
Outeur: Media & Communication: Faculty of Science
Gepubliseer: 10/02/2015

Chantelle Pretorius het in 2012 haar MSc in Biochemie by die Universiteit Stellenbosch voltooi en sommer dadelik ingestap by Kapa Biosystems, 'n biomediese manvorsingsmaatskappy met hul hoofkantoor in Kaapstad. Die maatskappy het ook kantore in Amerika en Brittanje en hul produkte word internasionaal versprei. Sy het ingestem om 'n paar vrae te beantwoord.

Wat het jy studeer en wanneer het jy klaargemaak?

Ek het die volgende grade by die Universiteit Stellenbosch verwerf: BSc Molekulêre Biologie en Biotegnologie (2009) (Cum Laude); BSc Hons Biochemie (2010) (Cum Laude) and MSc Biochemie (2012)

Beskryf jou werksondervinding wat jou amptelike werksoekproses voorafgegaan het?

Ek het geen professionele werksondervinding gehad voordat ek by Kapa Biosystems begin werk het nie. Ek het slegs as tutor en mentor vir groepe studente op universiteitsvlak opgetree.

Wat is jou huidige beroep?

Ek is die voorsieningskettingbestuurder by Kapa Biosystems en werk vanaf hulle produksiefasiliteit in Kaapstad. Ek is verantwoordelik vir die monitoring van elke aspek van die maatskappy se aankope, verspreiding, voorraadbeheer en aanvraagvooruitskatting vir voltooide produkte. Ek beplan, skeduleer en moniteer die daaglikse vervaardigingsaktiwiteite van die komponentvervaardigingsdepartement en organiseer  weeklikse versendings van voltooide produkte om voorraad tussen al die Kapa-kantore te versprei.

Ek gebruik my kennis en agtergrond in biochemie, asook my ervaring by 'n navorsingsfasiliteit, om die toepassings van al Kapa Biosystems se produkte te verstaan. My biochemie-agtergrond help ook om kliënte se probleme te verstaan wanneer die produkte nie op standaard is nie of wanneer aflewerings vertraag word.

Kapa Biosystems se produkte word in mediese navorsing en diagnostiek gebruik. Dit is 'n vinnig-bewegende mark. Ons kliënte is resultaatgedrewe en verwag net die beste produkte.

Hoe het jy die werk gekry?

Gedurende die laaste paar maande van my MSc het ek aansoek gedoen vir die pos as wetenskaplike: massavervaardiging wat op Kapa Biosystems se webwerf geadverteer is. Ek het in daardie hoedanigheid gewerk vir 18 maande en is toe bevorder tot bestuurder: massavervaardiging van alle Kapa produkte. In hierdie hoedanigheid het ek 'n span van drie wetenskaplikes gelei en die daaglikse vervaardigingsaktiwiteite beplan en gekoördineer. In Januarie 2015 is ek weer bevorder tot 'n nuwe posisie, dié van voorsieningskettingbestuurder.

Wat omtrent jou werk is opwindend?

Ek kan myself wees. Ek is perfeksionisties en hou daarvan om te organiseer en te beplan. My huidige pos laat my toe om presies dít te doen en my medekollegas het ook dieselfde persoonlikheidseienskappe.

Jou raad aan studente wat die werksmark betree?

Wees goed voorbereid vir onderhoude en wees jouself.

Wat sou jy nou anders doen as jy jou studentedae kon oorhê?

Ek sou van my vrye tyd gebruik het om bykomende kortkursusse soos projekbestuur, aanvoerkettingbestuur en personeelbestuur te doen.