Die groeiende armoede en voortslepende werkloosheid en ongelykheid is die simptome van ʼn samelewing met diep wonde en erge sosiale pyn.
Só het die voormalige anti-apartheidsaktivis en een van Suid-Afrika se vooraanstaande denkleiers, dr Mamphela Ramphele, op Maandag (2 Februarie 2015) by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Teologie gesê. Sy was die hoofspreker by die Fakulteit se jaarlikse Teologiese Dag. Dit het ook as die opening van die Fakulteit se akademiese jaar gedien.
Die aangewese US-rektor, prof Wim de Villiers, het ook die geleentheid in 'n nie-amptelike hoedanigheid bygewoon.
Vanjaar se tema was Teologie en die Openbare Lewe: Die uitdagings van armoede, werkloosheid en ongelykheid.
Ramphele, ook ʼn voormalige vise-kanselier van die Universiteit van Kaapstad, het gesê die meerderheid Suid-Afrikaners ervaar steeds psigiese pyn omdat ons huidige sosiale struktuur armoede, werkloosheid en ongelykheid laat voortduur.
"Ons moet die psigiese pyn van die meerderheid aanspreek," het sy gesê.
" ʼn Helingsproses is nodig om miljoene Suid-Afrikaners se wonde raak te sien en die strukture wat aanhou om hulle te verwond en te verneder af te breek."
Ramphele het gesê ons moet strukturele en psigiese struikelblokke op die pad na ware vryheid uit die weg ruim.
"Strukturele transformasie is nodig is om armoede, werkloosheid en ongelykheid te ontwortel. Ons moet die huidige sosiale struktuur, wat vroeër deur ʼn minderheid gebruik is om die meerderheid te onderdruk, onder die loep neem en verander."
Ramphele het gesê ons sukkel nog om ʼn greep te kry op die strukturele transformasie wat nodig is om alle burgers te bevry.
Sy meen die euforie van 1994 het ons verblind vir die omvang van die transformasie en heling wat nodig was en is steeds vir die bou van ʼn nie-rassige, nie-seksistiese en demokratiese samelewing wat in ons Grondwet in die vooruitsig gestel word.
Ramphele het gesê dit is veral kommerwekkend dat ons armoede en ongelykheid onverpoos laat voortduur.
Sy het kerke en geloofsgemeenskappe aangemoedig om die dringende behoefte vir gelyke onderwys en die bevordering van menswaardigheid in ons huise en gemeenskappe aan te spreek.
- Foto: Agter: Prof Karlie August, prof Ronelle Burger; Middel: Ds Malcolm Damon, dr Dion Forster, prof Piet Naudé, me Mawande Mhlambi; Voor: Prof Robert Vosloo, dr Nadine Bowers-du Toit, dr Mamphela Ramphele, prof Nico Koopman, prof Wim de Villiers.
- Fotograaf: Anton Jordaan