Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Enige chemikus se droomwerk
Outeur: Media: Fakulteit Natuurwetenskappe
Gepubliseer: 04/12/2014

​Dr James McCleary het in 2004 sy doktorsgraad in Chemie en Polimeerwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sedertdien reis hy die hele wêreld vol, en beskryf hy sy werk by BASF as enige chemikus se droom. Hy het ingestem om 'n paar vrae oor sy studies en loopbaan te beantwoord.

Wat het jy studeer en wanneer?

Ek het in die middelnegentigerjare 'n BSc en BSc Honneurs in Chemie aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Gedurende my voorgraadse studies het ek 'n kortkursus in Polimeerchemie gedoen en die veld baie fassinerend gevind. Toe het ek Wes-Kaap toe getrek en 'n BSc Honneurs in Polimeerwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Dit is opgevolg met 'n MSc in Polimeerwetenskap

Het jy enige werksondervinding gehad voordat jy amptelik vir werk begin aansoek doen het?

As PhD-student werk jy aan praktiese probleme in 'n omgewing wat soortgelyk is aan baie industriële navorsingsomgewings. Die tegniese vaardighede of praktiese laboratoriumwerk is goed vasgelê en goeie navorsingspraktyke is bemeester (wat nodig was om jou doktoraat suksesvol te voltooi). Ek het ook vir 'n jaar lank as nadoktorale student by die Universiteit gewerk.

Wat is jou huidige beroep?

Ek werk vir BASF, die grootste chemiese maatskappy ter wêreld. Ek is verantwoordelik vir Verkope en Industriebestuur wat polimere, pigmente en bymiddels betref vir Afrika suid van die Sahara, met 'n fokus op die deklaagindustrie. Om dit eenvoudig te stel: ek en my span verkoop onverwerkte stowwe ‒ wat in die vervaardiging van verf gebruik word ‒ aan verfvervaardigers van Kaapstad tot in die Sahara-woestyn!

Hoe het jy die werk gekry?

Na die US het ek by verskeie maatskappye gewerk bv. by 'n papiervervaardiger vir twee jaar, toe by 'n verfmaatskappy met 'n navorsingsfasiliteit by die US vir drie jaar. Daarna het ek Johannesburg toe getrek na ontwikkelingslaboratoriums toe, waarna ek in 'n verkope- en aanvoerkettingrol vir 'n jaar, en toe in bemarking was ‒ alles in dieselfde maatskappy. Ná ses jaar is ek bevorder tot 'n uitvoerende pos in korporatiewe strategie. Na 'n jaar in hierdie rol is ek genader deur die mees ideale werkgewer waarvan elke chemikus droom ‒ BASF.

Wat omtrent jou werk is opwindend?

Ek werk met 'n wye verskeidenheid mense en geen dag is dieselfde nie. Ek kan wakker word in Kampala en gaan slaap in Dar Es Salaam. Ek kan môre in Durban of Kaapstad wees en volgende week in Duitsland. Die verskeidenheid probleme waarmee ek te kampe het en die geleentheid wat ek het om kreatiewe oplossings te vind, is onbeperk. Niks omtrent my werk is roetine of vervelig nie.

Jou raad aan studente wat die werksmark betree?

Kwalifikasies open slegs deure tot 'n geleentheid. As jy eers hierdie geleentheid het, gee niemand om wat jy studeer het of wat jou punte was nie. Jy word beoordeel op grond van jou prestasie en toewyding. Maatskappye belê in goeie werknemers, so gebruik elke geleentheid om wel 'n goeie een te wees. Met nederigheid en toewyding gaan jy verder kom as met 'n PhD.

Wat sou jy nou anders doen as jy jou studentedae kon oorhê?

Ek was gelukkig dat uitstekende wetenskaplikes betrokke was by my opleiding, so ek sou niks omtrent my onderrig en opleiding wou verander nie. Ek het wonderlike internasionale blootstelling by konferensies gekry en was deel van 'n Stellenbosch-generasie wat polimeerwetenskap vorentoe gedryf het, in Suid-Afrika sowel as op internasionale vlak. Ek besef vandag dat ek meer tyd moes spandeer om te verseker dat ek ten volle ingelig was oor die geleenthede en die markvereistes t.o.v. die geleenthede wat potensieel beskikbaar was. Ek kon baie meer hieromtrent gedoen het, soos om industrie-ondervinding tydens vakansies op te doen, of om met mense in die industrie kontak te maak.​