Die Universiteit laai die nuutste inligting oor beurtkrag hier.
Noodkrag is beskikbaar in die meeste akademiese geboue en eksamens gaan voort soos geskeduleer.
Lokale wat moontlik saans deur beurtkrag
geraak kan word, is die GG Cillié-gebou (Opvoedkunde) en die Wilcocks-gebou. Fasiliteitsbestuurpersoneel
is tans besig om moontlikhede te ondersoek om noodkrag vir dié geboue te
installeer.
Die Universiteit skakel deurlopend met Eskom
en die Stellenbosch Munisipaliteit om sovêr moontlik opgedateerde inligting te
ontvang en aan die universiteitsgemeenskap deur te gee.
Op die Tygerberg-kampus is daar kragopwekkers in die lesingslokale,
studieareas, eksamenlokale, biblioteek en rekenaargebruikersarea. Die koshuise
het nie kragopwekkers nie, maar die lesingslokale word beskikbaar gestel vir
studente wat daar wil leer indien die krag af is.
Wat eksamenvoorbereiding betref is die US
se Studiesentrum (op die Stellenbosch-kampus in die JC Smuts-gebou) beskikbaar
terwyl die JS Gericke-biblioteek ook verlengde ure sal hê in geval van kragonderbrekings. Fasiliteitsbestuurpersoneel ondersoek tans die moontlikheid
om sekere geboue waar daar tans opgraderings gedoen word – en nie nou as
eksamenlokale dien nie – saans oop te stel.
Kampussekuriteit ontplooi tans die maksimum
aantal sekuriteitsbeamptes per skof en in geval van kragonderbrekings sal
beamptes aan diens bly, selfs nadat hul skofte voltooi is, totdat die
onderbreking verby is.
Personeel en studente word versoek om ten tye van
beurtkrag ekstra versigtig op kampus te wees, snags nooit alleen te stap nie en
die Kampussekuriteit se Noodnommers – 021 808 2333 vir die Stellenbosch-kampus
en 021 939 9507 vir die Tygerberg-kampus
– byderhand te hou. Die kampusgemeenskap
word ook aangemoedig om ʼn koplampie of flits saam te dra.