Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Droomwerk: sagteware-ontwikkelaar by BlackGinger
Outeur: Media: Fakulteit Natuurwetenskappe
Gepubliseer: 24/10/2014

Morné Chamberlain het in 2009 sy MSc graad in Rekenaarwetenskap by die US verwerf. Sy eerste werk is as sagteware-ontwikkelaar by BlackGinger in Kaapstad. Hy het 'n paar vrae beantwoord oor sy werk en studies.

​Agtergrond ‒ wat het jy studeer en wanneer het jy klaargemaak?

Ek het studeer vir 'n BSc-graad met 'n fokus op Rekenaarwetenskap en Toegepaste Wiskunde en het in 2006 graad gekry. In 2007 het ek my BScHonneursgraad met 'n fokus op Rekenaarwetenskap voltooi, en in 2009 ook my MSc-graad, ook met 'n fokus op Rekenaarwetenskap.

Beskryf jou werksondervinding wat jou amptelike werksoekproses voorafgegaan het?

Ek het hoofsaaklik 'n bietjie vryskutprogrammering gedoen in my vrye tyd. Ek het ook op kontrakbasis as 'n deeltydse sagteware-ontwikkelaar vir 'n maatskappy in Tegnopark gewerk.

Wat is jou huidige beroep?

Ek werk tans as 'n pyplyn- en sagteware-ontwikkelaar in die navorsings-  en ontwikkelingsafdeling van 'n maatskappy genaamd BlackGinger in Kaapstad. Ons werk in die rekenaaranimasie-, visuele effekte en naproduksie-industrie.

Hoe het jy die werk gekry?

Ek het in die loop van 2009 van die maatskappy gehoor en teen die einde van die jaar het hulle ontwikkelaars aangestel ter voorbereiding vir werk aan die hoofspeelfilm Aftershock. Ek het my CV ingestuur en ná 'n suksesvolle onderhoud en internskap het ek 'n permanente aanstelling gekry. Ek het sedertdien ook aan Free Willy: Escape from Pirates Cove en A Women, a Gun and a Noodle Shop gewerk.

Wat omtrent jou werk is opwindend?

In hierdie industrie is jy blootgestel aan vele fasette van rekenaarwetenskap, van projekbestuurdatabasisse, tot fisikagebaseerde simulasie-implementerings en rekenaargrafiese algoritmes. Uiteindelik dra jou werk by tot die produksievan TV-advertensies en hoofspeelfilms.

Jou raad aan studente wat die werksmark betree?

Jy sal nooit weet of jy 'n werk sou kon kry as jy nie daarvoor aansoek gedoen het nie. So moenie net daaroor dink nie ‒ doen aansoek! Teen die tyd wat jy jou graad voltooi, behoort jy gewoond te wees aan harde werk en jy moenie verwag om suksesvol in jou werk te wees sonder harde werk nie. Jou studies is slegs die sleutel tot toetrede in jou beroep, nie die hoogtepunt daarvan nie.

Wat sou jy nou anders doen as jy jou studentedae kon oorhê?

Ek het net goeie herinneringe aan my tyd op Stellenbosch, maar daar is 'n paar goed wat ek anders sou doen. Ek sou van die fisika-kursusse neem wat nie deel van my standaarkursuswerk was nie en ek sou aan van die rekenaarwetenskapkompetisies (soos die Google Code Jam en die Standard Bank IT Uitdaging) deelneem.

 Lees oor ander BSc alumni:

​Werk internasionaal met 'n BSc in Rekenaarwetenskap (Carl Crous)