Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Drie vasbyter-studente vereer by Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie
Outeur: Sonika Lamprecht
Gepubliseer: 24/10/2014

Die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdagaand (23 Oktober) uitnemendheid gevier by 'n toekenningsgeleentheid waar top- akademiese presteerders, studente wat uitblink ten spyte van teenspoed en 'n uitstaande alumnus vir hul prestasies vereer is.

Maties wat uitblink in die akademie, sport, kultuur, gemeenskapsinteraksie, diens en leierskap het die jaarlikse Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie tydens 'n geleentheid by die Wallenberg Navorsingsentrum by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studie ontvang.

Prof Arnold Schoonwinkel (Viserektor: Leer en Onderrig), het die die gaste toegespreek en gesê: "Uitnemendheid is een van die kernwaardes van die Universiteit, iets waarna ons altyd strewe. Een manier om dit te behaal is om met uitnemende mense soos julle te assosieer. Mag hierdie toekennings 'n aansporing wees, nie net vir julle nie, maar ook vir die mense met wie julle in aanraking kom."

Drie studente wat baie uitdagende finansiële omstandighede beleef het en ook groot persoonlike verliese moes deurmaak, is vanjaar aangewys as die ontvangers van die Rektor se Uitstygtoekennings.

Hulle is Agnes Molebatsi, 'n vasberade eerstejaarstudent in Teologie wat ondanks moeilike finansiële en persoonlike omstandighede, steeds goed presteer, Blain van Wyk, 'n "inspirerende" honneursstudent wat persoonlike ontberinge tot voordeel van sy medemens aanwend, en Caroline Pule, 'n PhD student, wat ten spyte van die dood van haar ma en ouma, asook finansiële beperkinge, haar droom om 'n doktor te wees, toegewyd navolg.

Die ontvangers van die Uitstygtoekennings ontvang beurse van R85 000 elk wat aan hulle die geleentheid bied om hul volle akademiese potensiaal te ontwikkel. Oor die afgelope 10 jaar sedert dié toekennings gemaak word, het altesaam 40 voorgraadse en 25 nagraadse studente erkenning daarvoor ontvang dat hulle bo hul omstandighede uitstyg.

Vorige ontvangers, Niel Adams, Naseeha Bhyat en Sulwah Salie, se toekennings word in 2015 voortgesit. 

Die Studenteraad se toekenning vir Uitstaande Alumnus is ook tydens die geleentheid toegeken. Vanjaar se ontvanger is Michael Jordaan, voormalige hoofuitvoerende beampte van FNB en huidige hoof van die private beleggingsmaatskappy Montegray Capital.

  • Klik hier  vir 'n video van die prysuitdelingsgeleentheid.

Foto: Prof Leopoldt van Huyssteen, waarnemende Rektor en Visekanselier van die US, by die nuwe ontvangers van die Uitstygtoekennings: Blain van Wyk, Caroline Pule en Agnes Molebatsi. Fotograaf: Anton Jordaan