Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oos-Kaapse leerders baat ook nou by uitsendings van ekstra klasse vanaf US
Outeur: Engela Duvenhage
Gepubliseer: 14/10/2014

Hoërskole in die Oos-Kaap is nou ook deel van 'n groeiende netwerk van skole regoor Suid-Afrika wat baat uit die aanvullende lesse wat smiddae vanaf 'n ateljee by die Universiteit Stellenbosch uitgesaai word.

Dié ekstra klasse word alles volgens die landwye kurrikulum gereël en geskeduleer deur die Wes-Kaapse Departement van Onderwys. Dit word uitgesaai vanaf 'n ateljee in Admin A op die Stellenbosch-kampus, as deel van die telematiese dienste wat deur die Sentrum vir Leertegnologieë aangebied word.

Altesaam 46 skole in 23 Oos-Kaapse distrikte baat reeds die afgelope paar weke by die satelliet-uitsendings. Dié direkte en interaktiewe televisieuitsendings bereik ook al 146 skole in die Wes-Kaap, byna 100 in die Noord-Kaap en enkele andere in die res van Suid-Afrika.

Dié ekstra klasse word aangebied deur net die beste onderwysers in agt vakgebiede, insluitend Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Engels, Afrikaans, Lewenswetenskappe, Geografie, Besigheidstudies en Rekeningkunde. Klem word gelê op die verduideliking van veral kernkonsepte en die aanspreek van probleemareas waarmee leerders in vorige eksamens klei getrap het. Die hele kurrikulum word dus nie gedurende die uitsendings behandel nie.

Leerders kan ook vrae via 'n webplatform stel aan die onderwyser wat klasgee vanuit die ateljee digby Admin A, of met 'n SMS of WhatsApp-boodskap 'n antwoord en/of vraag instuur. Op die webplatform kan onderwysers ook al die aanbiedings en ander bronne aflaai, terwyl werkboeke ook deur die onderwysdepartement verskaf word wat gedurende die uitsendings gebruik word.

Die uitbreidings na die Oos-Kaap is moontlik gemaak danksy samewerking tussen die US, die Oos-Kaap Onderwysdepartement en die Eastern Cape Education Development Trust. Die idee is dat skole wat voldoende kapasiteit het ook as 'n sentrale ontmoetingsplek sal dien vir ander skole rondom hulle.

'n Monitering- en evalueringsplan is soos met al die ander provinsies deel van die projek. Daardeur doen die US deeglike analises van die leerders se punte, die konteks van spesifieke skole asook  terugvoer vanaf die leerders, onderwysers en skoolhoofde oor die impak van die program.

Volgens dr Antoinette van der Merwe, Senior Direkteur: Leer en Onderrigverryking is die kernfunksie van die US se telematiese dienste steeds om lesings en kontaksessies vir talle nagraadse universiteitskursusse regoor die land te beeldsend. Dit vorm deel van 'n vermengde leerbenadering wat insluit fisiese kontaksessies, uitsendings en webgebaseerde ondersteuning. 

Van die spaarkapasiteit op dié platform word egter sedert 2009 gebruik om die skole-uitsendings moontlik te maak.

"Ons is die enigste universiteit in die land met hierdie soort tegnologie, en daarom voel ons genoop om hierdie diens in te span ten bate van skole in veral landelike gebiede," reken sy.

"Die leerders wat die uitsendings gereeld bywoon getuig dat dit 'n impak het op hulle leerervaring," voeg sy by. "Ook die onderwysers wat die uitsendings bywoon laat weet vir ons hulle leer dikwels hoe om spesifieke konsepte net 'n slag op 'n ander manier aan te bied."

Sy het onlangs van die Oos-Kaap teruggekeer waar sy en dr. JP Bosman, (Hoof: Sentrum vir Leertegnologieë) oriënteringswerkswinkels aangebied het oor die gebruik, bestuur en monitoring van die tegnologie binne skole. Hulle is uitgeboul oor die afwagting en entoesiasme rondom die projek. "Baie van die skole is in redelik afgeleë gebiede, waar breëbandinternet glad nie beskikbaar is nie maar satellietuitsendings hulle wel kan bereik," vertel sy.

"Die uitsendings vervang glad nie onderwysers of wat in elk geval in die klas moet gebeur nie – dis bloot addisionele ondersteuning wat jy tipies kan vergelyk met na-uurse ekstra tutoriale wat leerders van beter toegeruste skole ontvang," vertel dr Van der Merwe.

Om die uitsendings moontlik te maak, word ingevoerde dekodeerders en satellietskottels onder meer by die skole geïnstalleer. Die US het twee kontrakteurs gebruik om die nodige installasiewerk in die provinsie te doen – van Matatiele tot Mthata, tot Lady Frere en Oos-Londen.

Met dié dat baie van die skole in afgeleë gebiede is, het dit behoorlik kophou geverg, vertel Zanab Suliman, operasionele bestuurder van die Sentrum vir Leertegnologieë. Elektrisiteitsvoorsiening is 'n móét, en eintlik die minimumvereiste saam met goeie bestuur waaraan skole moet voldoen om dié satellietuitsendings te kan ontvang, reken sy.

"Maar dis alles die moeite werd as alles eers in plek is, positiewe terugvoer ontvang word en ons sien hoe die uitsendings waarde toevoeg in hierdie gemeenskappe," reken Suliman.

Media navrae:
Dr Antoinette van der Merwe
Senior Direkteur: Leer en Onderrigverryking
Universiteit Stellenbosch
021-8083075
www.sun.ac.za/lte
advdm@sun.ac.za

​Foto onderskrif:

Dr. Antoinette van der Merwe, Senior Direkteur: Leer en Onderrigverryking van die Universiteit Stellenbosch, by een van die werkswinkels wat vir Oos-Kaapse onderwysers aangebied is.