Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Werk internasionaal met 'n BSc in rekenaarwetenskap
Outeur: Media: Fakulteit Natuurwetenskappe
Gepubliseer: 01/10/2014

Mnr Carl Crous het 'n MSc-graad in Rekenaarwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch in 2009 voltooi. Hy werk tans as 'n sagteware ingenieur by Google in London. Ons het hom uitgevra oor sy studies en loopbaan. ​

Agtergrond ‒ wat het jy studeer, wanneer het jy klaargemaak?

Ek het my MSc in Rekenaarwetenskap aan die begin van 2009 voltooi. Voorgraads het ek 'n BSc in Rekenaarwetenskap en Toegepaste Wiskunde gedoen.

Beskryf jou werksondervinding wat jou amptelike werksoekproses voorafgegaan het?

Terwyl ek studeer het, het ek baie privaat programmeerprojekte gedoen. Ek het ook vakansiewerk as 'n stelseladministrateur vir 'n klein kantoor gedoen, asook webwerwe vir 'n paar organisasies ontwikkel. Terwyl ek besig was met my MSc, het ek 'n driemaande Software Engineering-internskap by Google in Mountain View, Kalifornië gedoen.

Wat is jou huidige beroep?

Ek is 'n "Site Reliability Engineer" by Google in Londen ‒ 'n sagteware-ingenieur wat verantwoordelik is om te verseker dat al Google se dienste superbetroubaar en supervinnig is – heeltyd! In Europa en die VSA word 'n sagteware-ingenieur 'n sagteware-ontwikkelaar genoem.

Hoe het jy die werk gekry?

Ek het voorheen 'n internskap by Google gedoen en het vir die werk in Londen aansoek gedoen nadat ek vir 'n jaar lank in Kaapstad gewerk het ná voltooiing van my MSc.

Wat omtrent jou werk is opwindend?

Ek kry die geleentheid om aan verskillende opwindende projekte te werk op 'n skaal wat jy nêrens anders in die wêreld kry nie. Ons werk aan Google se kritieke produksietoepassings en -infrastruktuur om te verseker dat Google altyd vinnig, beskikbaar en aanpasbaar is en só ontwikkel is om ongekende aanvraag die hoof te kan bied.

Jou raad aan studente wat die werksmark betree?

Terwyl goeie kwalifikasies jou 'n voet in die deur gee, het jy ervaring nodig om jou daardie ekstra voorsprong te gee om die werksmark voltyds te kan betree. Kry soveel ondervinding as moontlik terwyl jy studeer. Doen internskappe of vakansiewerk in jou studieveld.

As jy bepla om nagraads verder te studeer, maak seker dat jy weet wat jy nodig het vir die arbeidsmark. Sodoende het jy realistiese verwagtings van jou ekstra kwalifikasies.

Dan wanneer dit by onerhoude kom moet jy voorbereid wees. Skerp jou kennis van die basiese beginsels in jou veld op (bv. algoritmes vir rekenaarwetenskap) en doen navorsings oor jou toekomstige werkgewer.

Wat sou jy nou anders doen as jy jou studentedae kon oorhê?

Ek dink ek was baie gelukkig om verskeie geleenthede te kon hê wat op die regte tyd opgekom het gedurende my studiejare en vroeë loopbaan. As dit nie gebeur het nie, sou ek jammer gewees het dat ek nie die werkmark en die maatskappye daarbuite ondersoek het teryl ek nog studeer het nie.