Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Diverse personeelkorps

Groter diversiteit onder sy personeel en die uitbouing van sy kundigheidsbasis om sy posisie as top-navorsingsuniversiteit in Afrika te verstewig, is twee van die US se vier strategiese fokusse. Dit kan egter nie sonder die werwing, ontwikkeling en behoud van talentvolle swart akademici en navorsers vermag word nie. Dit is die US se doelwit om teen 2015 die persentasie swart personeel (swart, bruin en Indiër) tot 53% te verhoog. In 2009 was die persentasie 38,4% en in 2012 40,97%.

Een van die maniere om die doelwit te bereik is deur die Legacy-projek. Dit is  ʼn inisiatief wat daarop gemik is om beskikbare finansiering vir senior aanstellings in die menslike en sosiale wetenskappe te verhoog. Befondsing van die Andrew W Mellon-stigting, tesame met ʼn beduidende bedrag wat bewillig word deur die Raad van die Universiteit, word gebruik om ʼn meer diverse personeelkorps te ontwikkel. Dit maak voorsiening vir die strategiese werwing, ontwikkeling, vergoeding en mentorskap van swart personeellede in sfere van die Universiteit waarin hulle onderverteenwoordig is.

Jong akademici in die sosiale wetenskappe word finansieël ondersteun om hul doktorsgrade te verwerf as deel van die Mellon Akademiese Personeel (MACS)-ontwikkelingsprogram.

Benewens die Legacy-projek, bied die Universiteit ook die PLUS-program, ʼn professionele leerlingskap van een jaar, vir administratiewe en ondersteuningspersoneel aan. Personeellede kry die geleentheid om ʼn formele kwalifikasie te bekom, en op so ʼn wyse na ʼn hoër posvlak te vorder. Die program stem ooreen met die doelwitte van die nasionale vaardigheidsontwikkelingstrategie en die meeste deelnemers is uit die aangewese groepe.

Voorts stel elke omgewing personeelplanne op wat onder meer die bevordering van diversiteit insluit.

 

Diensbillikheid en Diversiteitsbevordering