Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US implementeer aanmeldingsnoodlyn

​“Die Universiteit Stellenbosch plaas ʼn baie hoë premie op goeie korporatiewe en finansiële bestuur. Hierin speel personeel en studente ʼn baie belangrike rol – veral wat betref die aanmelding van insidente, optredes en tendense wat nie strook met die waardes van goeie korporatiewe en finansiële bestuur nie.”

So sê prof Leopoldt van Huyssteen, Uitvoerende Direkteur: Bedryf en Finansies, in ʼn skrywe aan personeel waarin hy ʼn onafhanklike noodlynfasiliteit bekendgestel het. Personeel en studente kan die noodlyn gebruik om enige vorm van onetiese optrede, insluitend seksuele teistering en rassediskriminasie, anoniem en veilig aan te meld.

Die noodlyn, KPMG Ethics Hotline, funksioneer as ʼn onafhanklike kanaal en die Universiteit kan byvoorbeeld nie aandring op die identiteit van diegene wat insidente aanmeld nie. Die nommer is 0800 20 45 49.

Die inbelsentrum word op ʼn 24-uur basis bedryf en oproepe is gratis mits dit van ʼn Telkom-lyn gedoen word. Werknemers en studente kan dit dus na-ure ook gebruik. Inligting kan ook per faks, per pos of per e-pos gestuur word of aanlyn aangemeld word. Oproepe word deur ervare kliëntedienspersoneel in al 11 amptelike tale hanteer.

Personeel en studente kan die volgende stappe gebruik om die noodlyn te gebruik:

1.  Skakel 0800 20 45 49 (gratis van ʼn Telkom-lyn af).
2.  Jy kan anoniem bly. Verskaf sover moontlik volledige detail. Dit kan insluit wie betrokke is, wat gebeur het, hoe dit gedoen is, waar die insidente plaasgevind het en moontlike bedrae betrokke.
3.  Jy sal ʼn verwysingsnommer ontvang. Maak ʼn nota daarvan aangesien jy dit weer nodig gaan hê as jy later meer inligting wil verskaf of terugvoer verlang.​​​

Jy kan die inligting ook na ʼn vertroulike faksnommer, 0800 200 796, stuur, maar verkry eers ʼn verwysingsnommer deur die noodlyn te skakel. Jy moet hierdie nommer in jou faksboodskap verskaf. Dit geld ook vir die pos-, e-pos- en die aanlyn-opsie.

Inligting kan gratis gepos word na KPMG Hotpost, BNT371, Posbus 14671, Sinoville, 0129. Die e-posadres is fraud@kpmg.co.za of jy kan inligting hier aanlyn verskaf.

  • Kliek hier vir meer inligting oor die noodlyn.