Die Universiteit Stellenbosch (US) Taalsentrum, in samewerking met die Eenheid vir Hibridiese Leer, kondig met trots aan dat ons Sertifikaat in Bemeestering van Meertaligheid op die StellenboschX-platform bekendgestel is. StellenboschX is deel van die internasionale edX-netwerk, wat leerders toegang tot hoëgehaltekursusse vanoor die wêreld heen gee. Dit plaas die US op dieselfde leerplatform as vooraanstaande instellings soos Harvard en MIT.
Die Sertifikaat in Bemeestering van Meertaligheid bestaan uit vier kursusse wat ontwerp is om mense binne die konteks van 'n meertalige ingesteldheid aan 'n paar Suid-Afrikaanse tale bekend te stel en hulle sodoende te help om verskillende kulture en maniere van dink te begryp. “Hierdie kursusse verskaf nie net taalvaardighede nie maar ook 'n dieper verbintenis met die kulture waarin daardie tale ingebed is, en skep 'n meer inklusiewe en onderling verbonde wêreld. Die Sertifikaat werp die kollig op 'n verstommende eienskap wat die meeste Suid-Afrikaners gemeen het: Ons is 'n meertalige nasie," verduidelik dr Arné Binneman, Hoof: Meertalige Leer by die US Taalsentrum.
'n Mens kan kies watter en hoeveel van die kursusse jy wil volg. Die opstellers beklemtoon egter dat die volle reeks leerders met 'n ryker ervaring laat, en dieper insig in hoe taal en identiteit ons wêreld help vorm en bande tussen mense kan smee.
Die Sertifikaat begin met die grondslagkursus, Verkenning en Ontwikkeling van 'n Meertalige Ingesteldheid, waarin ons uitlig hoekom meertaligheid belangrik is en hoe dit identiteit en kommunikasie beïnvloed. Hierdie kursus lê die grondslag vir die drie taalkursusse in die reeks.
Deelnemers kan kies of hulle met Xhosa, Afrikaans of Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL) – of al drie – in “voorsmaak"-kursusse wil kennis maak. Die oorsprong van hierdie drie Suid-Afrikaanse tale is uiteenlopend: een is 'n Afrikataal, 'n ander het Germaanse wortels en die derde is 'n visueel-gebare-taal. Ons verken die boustene van elke taal, asook kulturele insigte en woordeskat vir eenvoudige gesprekke in alledaagse sosiale situasies. Die kursus Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowe Kultuur is besonder tydig nadat SASL in Julie 2023 as die land se 12de amptelike taal erken is.
Al die kursusse is deur kundiges by die US Taalsentrum ontwerp. Jy is dus verseker van taalleer van hoë gehalte wat ook tersaaklik en prakties is. Hierdie kursusse saamgestel met die oog op toepaslikheid in werklike situasies en die fokus is dus op outentieke taal en kulturele verdieping.
Die kursusse is selfgereguleerd, wat leerders die buigsaamheid laat om te studeer wanneer dit hulle pas. Of jy 'n Suid-Afrikaner is wat plaaslike tale van naderby wil leer ken, 'n Suid-Afrikaner in die buiteland wat jou wortels wil herontdek, of 'n internasionale leerder wat nuuskierig oor die taaldiversiteit in Suid-Afrika is – die Sertifikaat in Bemeestering van Meertaligheid is jou wegspringblok op 'n betekenisvolle taalleerreis.
Sleutelvoordele van die Sertifikaat in Bemeestering van Meertaligheid:
- Wêreldklasplatform: Dit word aangebied op die internasionale edX-netwerk.
- Buigsame opsies: Neem een of meer van die vier kursusse óf handel die volledige sertifikaatreeks af om omvattende insig te verwerf.
- Kundige samestellers: Die kursusse word deur kundiges by die US Taalsentrum ontwerp. Jy is dus van hoëgehalte-, praktiese leer verseker.
- Kulturele verdieping: Jy leer nie net van die taal nie, maar ook van die kultuur en konteks waarin dit ingebed is.
- Selfregulering: Gaan teen jou eie pas met boeiende, interaktiewe inhoud om.
Die Sertifikaat in Bemeestering van Meertaligheid is vanaf middel Oktober 2024 beskikbaar. Almal is uitgenooi – klik hier om op edX in te skryf en jou reis na meertaligheid en kulturele begrip aan te pak.
Meer oor die US Taalsentrum
Die Universiteit Stellenbosch (US) Taalsentrum bied navorsingsgebaseerde, taalverwante kursusse en dienste aan persone met diverse opvoedkundige agtergronde sodat hulle hul kommunikasievaardighede – soos lees, skryf, praat en luister – kan verryk en sodoende groter sukses in hulle studies, loopbaan en persoonlike lewe kan behaal. Ons mandaat is om taalondersteuning aan die Universiteit te verskaf en om 'n meertalige ingesteldheid aan die instelling en in die breër gemeenskap te bevorder.
Kontak ons gerus by taalsentrum@sun.ac.za met enige navrae.