Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sewe redes waarom jy met die media moet skakel (en hoe CCMD jou ondersteun)

Die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (CCMD) bied 'n insiggewende en interaktiewe werksessie aan oor waarom die US se akademici en navorsers met die media moet skakel.

Die werkswinkel sit nie net sewe voordele uiteen om met die media te skakel nie, maar bied ook sewe maniere waarop die Mediakantoor by CCMD akademiese departemente in hierdie proses kan ondersteun.

Die "Sewe voordele van skakeling met die media"-werkswinkel kan aangepas word by die behoeftes van ʼn spesifieke departement, byvoorbeeld om 'n groter komponent van wetenskapkommunikasie of die gebruik van sosiale media in te sluit. Die werkswinkel kan gewoonlik binne 'n uur aangebied word. Die werkswinkel kan by 'n departement aangebied word, maar individue kan ook die werkswinkel wat by CCMD in Admin B op die Stellenbosch-kampus aangebied word, bywoon. (Details binnekort beskikbaar.)

Terugvoer wat van navorsers ontvang is, is dat 'n goeie mediaprofiel verskeie voordele vir navorsers kan inhou. Een hiervan is dat 'n navorser se navorsingsprofiel gebou word deur groter interaksie met die media. Die media moet gesien word as jou vriend, eerder as 'n oorlas!

Aan die hand van praktiese voorbeelde van artikels, waarin US-personeel aangehaal word, asook via radio- en TV-insetsels, word 'n prentjie van die medialandskap geskets en 'n dinamiese uiteensetting gegee van hoe kollegas die media kan inspan om groter blootstelling te genereer. In die proses word 'n vrees vir die media mee weggedoen. (Die werkswinkel kyk ook na wat om nie te doen nie - as dit kom by skakeling met die media.) ​

  • Skakel met Martin Viljoen, Bestuurder: Media, by 021 808 4921 of viljoenm@sun.ac.za om 'n werkswinkel in jou departement, afdeling of eenheid te organiseer of om die werkswinkel by CCMD by te woon.