Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionaal-gerekende filantroop nooi US-Koor en Rektor na Japan
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 03/08/2023

Die Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), prof Wim de Villiers, en 50 lede van die US se internasionaal bekroonde koor is op pad na Tokio in Japan, waar hulle Woensdag (9 Augustus) aan die ISPS Sports Values Summit-Special Edition sal deelneem.

Dr Haruhisa Handa, 'n internasionale filantroop wat bekend is vir sy jare lange toewyding aan en bydraes tot openbare dienslewering en liefdadigheidsorganisasies wêreldwyd, het De Villiers en die koor genooi.

Handa se ondersteuning van verskeie sake oor etlike dekades sluit onder meer die kunste en opvoeding, toegang tot gesondheidsorg, rampverligting, bemagtiging van persone met gestremdhede deur sport, MIV/Vigs-opvoeding in Afrika, die bevordering van demokrasie, godsdienstige verdraagsaamheid in.

Handa is ook bekend as medestigter en kanselier van die Universiteit van Kambodja en dien saam met Sy Eksellensie dr Kao Kim Hourn, die huidige sekretaris‑generaal van die Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies (ASEAN). Handa is ook 'n belangrike ondersteuner van verskeie universiteite in die Verenigde Koninkryk, China, die VSA, Australië, Japan en Suid-Afrika. Handa se International Sport Promotion Society (ISPS) bied die ISPS Sports Values Summit-Special Edition 2023 aan.

Die beraad bring sportlegendes soos Dan Carter (voormalige All Black-rugbyspeler), Nacho Figueras (een van die wêreld se voorste polospelers) en Steve James (n veteraan van die Koninklike Vloot van Australië en Invictus gouemedalje‑wenner) byeen. Dié bekendes is saam met prins Harry, die hertog van Sussex wat die geleentheid as die medestigter en beskermheer van Sentebale bywoon, paneellede om maniere te bespreek waarop die krag van sport lewens kan verander en hoe sport liefdadigheid op die wêreldverhoog kan beïnvloed.

De Villiers neem ook aan die paneelbespreking deel, terwyl 50 lede van die US-koor hulle musikale talente by 'n openingsoptrede by die beraad ten toon sal stel. Die US-koor is reeds die afgelope 11 jaar die wêreld se voorste gemengde amateurkoor volgens Interkultur, die organiseerders van die Wêreldkoorspele.

De Villiers sê: “Ons waardeer die uitnodiging van die stigter en voorsitter van die ISPS om aan die beraad deel te neem. Dit gee die Universiteit Stellenbosch die geleentheid om betekenisvolle netwerke te bou en om saam met ander vooraanstaande deelnemers tot die gesprekke by beraad by te dra.

“Die Universiteit Stellenbosch is verbind tot uitnemendheid en om kennis in diens van die samelewing te bevorder. Ek glo ons en dr Handa het 'n gedeelde visie om die samelewing positief te beïnvloed."

Die dirigent van die US Koor, André van der Merwe, sê: “Ons is geëerd om hierdie uitnodiging te ontvang en ons is opgewonde oor die vooruitsig om 'n stukkie van ons Suid‑Afrikaanse kultuurskat op die wêreldverhoog ten toon te stel."​

  • ​​​Fotograaf: Mark Cloete