Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opvolgskrywe oor US se Toelatingsbeleid en Rektor se Diskresionêre Plasings
Outeur: Stellenbosch University / Universiteit Stellenbosch
Gepubliseer: 01/07/2023

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het vandag (1 Julie 2023) vergader om die volgende sake te bespreek: Die verslag van die Lewis-komitee, wat deur die Raad aangestel is om bewerings van nepotisme teen die Rektor en Visekanselier, prof. Wim de Villiers, te ondersoek nadat familielede van sy vrou akademiese plasings gekry het; en die mosie wat voor die Raad gedien het om die Rektor ingevolge artikel 42(3) van die US Statuut van sy amp te onthef.*

Die Lewis-komitee het die volgende bevind:

  • Daar was geen ernstige wangedrag deur die Rektor (ingevolge artikel 42(3) van die US Statuut) wat tot die opheffing van sy amp kan lei nie. Hy het nie 'n reël of beleid van die Universiteit verbreek of oneerlik opgetree deur die Rektor se Diskresionêre plasings (RDP's) nie en gevolglik is daar nie 'n onherstelbare vertrouensbreuk tussen die US en die Rektor wat sy voortgesette indiensneming belemmer nie.
  • Wat reëls en beleid betref: Die US se beleide oor onderskeidelik nepotisme en botsende belange is nie van toepassing op RDP's nie. Die RDP-riglyne bied 'n wye diskresie aan die Rektor oor plasings.
  • Wat bewerings van oneerlikheid betref: Die Rektor het sy verbintenis met die twee kandidate aan 'n senior kollega verklaar voordat plekke aan hulle toegeken is. Die advies aan hom was dat hy op grond van die diskresie wat aan hom verleen is, wel die plasings kon maak. Daar is geen bewys – ook nie wanneer die situasies teenoor mekaar opgeweeg word – dat die Rektor oneerlik opgetree het met die bedoeling om misleidend te wees of 'n posisie verkeerdelik weer te gee nie.
  • Die feit dat die Rektor nie kon voorsien dat enige diskresionêre plasing van 'n familielid kon of sou lyk soos gunsbetoon nie, is bejammeringswaardig en dui op 'n gebrek aan etiese insig.
  • Die plasing van die twee familielede van sy vrou en die Rektor se hantering van die plasings, asook die aandag wat hierdie aangeleentheid gelok het, het kollegas se vertroue in hom geskaad. Die Rektor het erken hy sal daaraan werk om die vertroue te herstel.


    Die Rektor het teenoor die Raad:
  • Die erns van die uitwerking van sy besluit erken om twee familielede van sy vrou deur diskresionêre plasings te plaas;
  • Verskoning gevra dat, hoewel hy binne die RDP-riglyne wel hierdie plasings kon maak, dit 'n oordeelsfout was om die plasings te maak en om nie die etiese gevolge van so 'n besluit, of die persepsie wat dit tot gevolg sou hê en die gepaardgaande uitwerking wat dit op die US en verskeie relevante belanghebbendes sou hê, in ag te neem nie;
  • Verskoning gevra vir die impak wat hierdie situasie op die vertroue gehad het wat kollegas in hom as 'n leier gestel het, die spanning wat dit vir die betrokke persone veroorsaak het, en die feit dat die kwessie die reputasie van die US skade berokken het;
  • Aangedui dat 'n proses reeds begin het om die riglyne oor diskresionêre plasings te hersien; en
  • Hom bereidwillig verklaar om onverpoos aan die herstelproses te werk.


    Die Raad het ná 'n breedvoerige gesprek die volgende besluit:
  • Daar was geen ernstige wangedrag wat die aanvaarding van die mosie ingevolge artikel 42(3) regverdig nie. Die Raad het gestem en die mosie eenparig verwerp.
  • Dit was egter 'n bejammeringswaardige oordeelsfout van die Rektor om twee familielede aan die hand van die RDP te plaas sonder om die etiese implikasies daarvan te besef.
  • Die verskoning wat die Rektor by die Raadsvergadering aangebied het, moet openbaar gemaak word.
  • Die voorsitter en ondervoorsitter van die Raad sal die uitkoms van hierdie Raadsvergadering en die toepaslike finansiële konsekwensie oorweeg wanneer hulle die Rektor se prestasiebeoordeling vir 2022 finaliseer.
  • Die proses om die riglyne vir die Rektor se diskresionêre plasings, die beleide oor botsende belange en nepotisme asook verwante beleide te hersien, moet versnel word sodat alle belanghebbendes duidelikheid het oor hoe diskresionêre akademiese én koshuisplasings in die toekoms hanteer gaan word. Totdat hierdie hersiening afgehandel is, mag geen nuwe diskresionêre plasings (akademies én in koshuise) plaasvind nie.
  • Die Rektor word aangemoedig om die Lewis-komitee se aanbevelings oor die versterking van die Rektoraat in werking te stel, en om Universiteitsbeleid te hersien om die doeltreffendheid en toepassing van die beleide te bepaal en om konsekwentheid en regverdigheid te bewerkstellig.

Die voorsitter van die US Raad, dr Nicky Newton-King, het gesê: “As 'n Universiteitsgemeenskap verwelkom ons die geleentheid vir noukeurige ondersoek en besinning. Die Raad het baie tyd spandeer en moeite gedoen om die bewerings deur 'n deeglike en onafhanklike proses te ondersoek, en het die uitkoms van die ondersoek deeglik bespreek. Die Raad het die Rektor se onvoorwaardelike verskoning oor sy oordeelsfout en die uitwerking daarvan op die instelling en al die betrokke partye aanvaar en waardeer. Die Rektor én die Universiteit het waardevolle lesse in die proses geleer.

“Die Raad het vertroue in die Rektor en sy span en dat hierdie bejammerswaardige episode nie herhaal sal word nie. Ons herbeklemtoon ons verbintenis tot die reuesetaak om die US as 'n meertalige, navorsingsintensiewe universiteit van wêreldgehalte in Afrika te posisioneer wat in diens van die samelewing staan.  

Redakteursnota:

*Afdeling 42(3) van die US Statuut – “Die Raad mag die Rektor van die amp onthef met 'n tweederdemeerderheidstem van al die Raadslede op grond van 'n ernstige oortreding van die reg, ernstige wangedrag, ongeskiktheid of versuim om aan operasionele vereistes te voldoen."

Volg hierdie skakel vir  toegang tot die Lewis-komitee verslag