Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Klein- en Middelslagondernemings het ondersteuning nodig om te floreer – Prof Stan du Plessis
Outeur: Stan Du Plessis
Gepubliseer: 27/06/2023

Mikro-, Klein- en Middelslagondernemingsdag word jaarliks op 27 Junie gevier. In ʼn meningsartikel vir Business Day, skryf die uitvoerende bedryfshoof van die Universiteit Stellenbosch, prof Stan Du Plessis, dat klein- en middelslagondernemings ondersteun moet word ten einde hul volle potensiaal om werk te skep en produktiwiteitsgroei aan te wakker te bereik.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder

Stan Du Plessis*

Ons vier op 27 Junie Mikro-, Klein- en Middelslagondernemingsdag vir die goeie rede dat hulle volhoubare ontwikkeling, werkskepping en produktiwiteitsgroei wêreldwyd kweek. Volgens die Wêreldbank is meer as 90 persent van alle sakeondernemings en sowat 50 persent van werke wêreldwyd en 40 persent van die wêreld se bruto binnelandse produk (BBP) uit hierdie sektor afkomstig. Ons moet maniere vind om hierdie dinamiese deel van ons sakegemeenskap aan te moedig en te ondersteun.

Die potensiële rol van Klein- en Middelslagondernemings (KMO's) is veral in Suid-Afrika – waar ernstige maatskaplike en ekonomiese uitdagings vererger is deur 15 jaar se ekonomiese stagnering – uiters noodsaaklik. Na aanpassing vir inflasie is die per kapita BBP in Suid-Afrika vandag op dieselfde vlak as in 2007, terwyl die nou meting van werkloosheid van 'n reeds baie hoë 23 persent in 2007 tot 'n skrikbarende 32,9 persent in die eerste kwartaal van 2023 gestyg het.

Met hulle potensiaal om werk te skep en produktiwiteitsgroei aan te wakker, kan die belangrikheid van KMO's vir ons toekoms nie genoeg beklemtoon word nie. Hulle dra nagenoeg 34% tot Suid-Afrika se BBP (volgens 'n verslag deur die Internasionale Finansieringskorporasie) by en speel 'n lewensbelangrike rol in die ekonomie om werkloosheid te verminder.

Ten einde hulle volle potensiaal te verwesenlik, het KMO's 'n ondersteunende omgewing nodig, maar word dit tans deur drie struikelblokke gekniehalter.

Eerstens is daar die verskillende tekortkominge in die verskaffing van openbare goedere wat benodig word vir kostedoeltreffende produksie en dienslewering. Die grootste hiervan is ESKOM se mislukking om betroubare en kostedoeltreffende krag te voorsien. Volgehoue beurtkrag plaas 'n feitlik onuithoudbare kostedruk op KMO's vir wie die temperingskoste van groot batterybanke of diesel-aangedrewe kragopwekkers buitensporig is. Selfs vir dié wat hierdie maatreëls kan bekostig, is die impak direk op hulle kostestruktuur, wat hulle onmededingend maak in vergelyking met maatskappye wat in 'n omgewing bedryf word waar openbare utiliteite op 'n minimum standaard funksioneer.

Tweedens is elektrisiteit nie die enigste openbare utiliteit wat hoë kostes vir KMO's in Suid-Afrika inhou nie. Die spoornetwerk en duur alternatiewe per pad in 'n land waar hawens ver van binnelandse sentrums geleë is, het 'n negatiewe uitwerking op produktiwiteit.

Derdens, is die koste van finansiering vir KMO's in 'n tydperk van stygende inflasie plaaslik en internasionaal aan die styg met die korttermyn-rentekoers. Hoewel die Suid-Afrikaanse Reserwebank reg optree om inflasieverwagtings te beperk, is die onbedoelde en onvermydelike uitwerking dat die koste van finansiering vir hierdie ondernemings skerp styg.

Ons sien by die Universiteit Stellenbosch (US) hierdie probleme raak en sien 'n geleentheid om die instelling se positiewe invloed uit te brei. In 'n moderne, navorsingsintensiewe universiteit is die moontlike invloed van navorsings eksponensieel groter wanneer dit in kommersieel-lewensvatbare produkte en dienste of nuwe produksieprosesse omgesit kan word. Hierdie innovasieproses het 'n belangrike fokuspunt by die US geword en word deur 'n entrepreneurs-ekostelsel ondersteun wat uit die volgende bestaan: i) die Universiteit; ii) die US se Tegnologiese Oordrag- en Innovasiekantoor; en iii) die Universiteit se entrepreneuriese inkubasie-spilpunt, die LaunchLab; iv) plaaslike ondernemings wat doelbewus aan die Stellenbosch-netwerk deelneem; en v) vroeë-stadium finansiering vir ontluikende ondernemings deur die Universiteit se Tegnologiese Fonds, die regering se NIPMO (Nasionale Bestuurskantoor vir Intellektuele Eiendom) ondersteuningsfinansiering en die Tegnologie-innovasie-agentskap (TIA) Saadfonds, asook die US se skenking. Ons het hierdie ekostelsel ontwerp om entrepreneurskap binne en verder as die Universiteit aan te moedig en aan te vuur en om KMO's te versorg totdat hulle volhoubaar kan floreer.

'n Aanbieding oor die oor die US se omvattende platform om entrepreneurskap by die instelling te ondersteun en uit te bou wat uiteindelik die KMO-sektor en ons land se ekonomie tot voordeel sal strek, is in 2022 goed ontvang by die Konferensie vir Universiteitbedryfsinnovasienetwerke in Amsterdam (wat ook die tiende bestaansjaar van die organisasie gevier het). Die US is by hierdie geleentheid as die naaswenner in die kategorie vir uitstaande entrepreneurs- en betrokke universiteite aangewys.

Die US het tot op hede 29 afwentelmaatskappye geskep wat werk verskaf aan 342 voltydse werknemers in uiteenlopende sektore soos onder meer die ontwerp van mediese sorgpunt-slimsensoroplossings, kostedoeltreffende nanoveselprodukte, genetiese patologie, beheerstelsels vir nanosatelliete en groen energie. Wanneer 'n idee uiteindelik as 'n volhoubare produk, diens of sakeproses na vore tree, word die invloed van die samelewing se belegging in die onderliggende navorsing eksponensieel vergroot.

Die groei en vooruitgang van 'n samelewing op die lange duur hang van produktiwiteitsgroei af en die afgelope vyftien jaar se stagnering in Suid-Afrika is die bewys van swak produktiewe groei. Universiteite, veral navorsingsintensiewe universiteite, is perfek geplaas om 'n verskil aan hierdie trajektorie te maak. Deur saam met die plaaslike en nasionale regering en die sakesektor te werk, kan hulle entrepreneur-ekostelsels skep waar KMO's kan ontluik en floreer. Die belastingbetaler belê baie in ons universiteite se navorsingsinfrastruktuur – 'n belegging wat groter en wyer opbrengste sal oplewer wanneer ons in die moeilike taak van innovasie uit akademiese navorsing slaag.

Wanneer ons Mikro-, Klein- en Middelslagondernemingsdag vier, moet ons verder beweeg as net lippediens aan die KMO-sektor, en moet ons onsself daartoe verbind om entrepeneurskap 'n hupstoot te gee en hierdie ondernemings te help om te floreer.

Avatar

Prof Stan du Plessis

US Bedryfshoof