Die bestuur van en toegang tot data word daagliks ’n al hoe groter uitdaging in die huidige snelveranderende digitale era waarin daar elke sekonde ’n oorvloed data geskep word. Die 18de Internasionale Oopbewaarplekkonferensie (Open Repositories 2023 oftewel OR2023) wat onlangs deur die Universiteit Stellenbosch se Biblioteek- en Inligtingsdiens aangebied is, het fassinerende insigte en moontlike oplossings vir sommige van hierdie dringende inligtingsbestuurprobleme van ons hedendaagse era opgelewer.
Nagenoeg 300 kundiges uit 41 lande het die OR2023-konferensie van 12 tot 15 Junie by die Lord Charles-hotel in Somerset-Wes bygewoon. Verskeie sprekers uit ’n wye verskeidenheid sektore het by die konferensie oor onder meer die nuutste tegnologieë, innovasies en beste praktyke in databewaarplekke gepraat. Dit was die eerste keer dat hierdie geleentheid in Afrika gehou is.
Die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, prof Sibusiso Moyo, was die openingspreker. Sy het OR2023 as ’n uitstekende platform vir biblioteekpraktisyns, vakkundiges en navorsers beskryf om idees uit te ruil oor hoe om navorsingsdata doeltreffend te bewaar en uit te ruil vir makliker ontdekking en tussenwerkbaarheid.
“Ons weet in die hoëronderwyssektor en as navorsingsintensiewe universiteite dat biblioteke met die verloop van tyd moes aanpas en verander om nie net plekke te wees waar ons boeke gaan soek om te lees nie, maar ook om strategiese vennote te wees wat innoverende oplossings vir ons navorsing-, innovasie-, onderrig- en leeropdragte bied,” het Moyo gesê.
Die tema vir OR2023 was Repositories unlocked for discovery and interoperability (“Ontsluiting van bewaarplekke vir ontdekking en tussenwerkbaarheid”) en het ’n aantal subtemas ingesluit waarvan twee veral betekenisvol is binne die Afrika-konteks: Unbiased discovery of knowledge: Open repositories facilitating the unbiased discovery of indigenous knowledge (“Onpartydige kennisontdekking: Oop bewaarplekke fasiliteer die onpartydige ontdekking van inheemse kennis”) en Sustainable development: Linking open repositories content to the UNESCO Sustainable Development Goals (SDGs) (“Volhoubare ontwikkeling: Om oop bewaarplekke se inhoud met die UNESCO Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD’e) te verbind”).
Die hoofrede-paneel op die tweede dag is deur Claire Knowles van die Universiteit van Leeds in die Verenigde Koninkryk gefasiliteer. Sy het deelnemers uitgedaag om na te dink oor hoe bewaarplekke databillikheid wêreldwyd kan verbeter en hoe hulle beter gebruik kan word om data met mense én masjiene te deel.
Die US se Senior Direkteur: Biblioteek en Inligtingsdiens, Ellen Tise, het verduidelik dat die beweegrede vir oop data soortgelyk is aan die doelwitte van ander bewegings soos oop bron, oop onderrig en oop regering. “Oop data is toeganklik, uitvoerbaar en kan deur enigeen vir enige doel gedeel word. Wanneer jy na data uit ’n billikheidsoogpunt kyk, moet ons die maniere oorweeg waarop data ingesamel, ontleed en geïnterpreteer word. Dit wek kommer oor mag en bevoorregting, kennis en data-oppermag. Indien ons nie toegang tot betroubare data het nie, kan ons nie goeie besluite neem nie.”
Tise het dolbewuste stappe bepleit om hindernisse tot toegang tot data uit die weg te ruim en om deelname vir gemarginaliseerde gemeenskappe te fasiliteer. Sy sê die US is ’n voorloperinstelling op die gebied van oop toegang in Afrika en toegang tot die US se oop bewaarplekke word uit elke vasteland met die uitsondering van Antarktika verkry.
Billikheid is ’n sleutelkwessie wat binne die konteks van toegang tot inligting oorweeg moet word, het dr Tshiamo Motshegwa, direkteur van die Oopwetenskapplatform gesê. Hy het die belangrikheid van datageletterdheid beklemtoon ten einde mense te bemagtig om met data om te gaan in die unieke ekostelsel wat bewaarplekke bied. “Ons moet verseker dat data diversiteit sonder vooroordeel en uitsluiting reflekteer. Ons moet saamwerk in Afrika om oop wetenskap te benut ten einde uitdagings in die samelewing op te los, maar ons moet ook na wêreldwye medewerking strewe. Miskien het ons ’n wêreldorganisasie vir data soortgelyk aan die Wêreldorganisasie vir Intellektuele Eiendom nodig om databeleid, -dienste en -samewerking te fasiliteer.”
Joy Owango, stigtersdirekteur van die Opleidingsentrum in Kommunikasie in Kenia, het die gehoor daaraan herinner dat billike toegang tot data nie net op die navorsingsgemeenskap en akademici moet fokus nie, maar ook die breër gemeenskap in ander sektor moet dien. “Ons uitdaging is strategiese bewustheid. Kom ons kyk verder as ons gemeenskap en vra waarna ander sektore opsoek is en hoe ons onsself toegankliker kan maak deur munt te slaan uit tegnologiese ontwikkelinge.”
Oop bewaarplekke is ’n bron wat in wêreldwye openbare belang is, is die standpunt van prof Willem Fourie, stigter van die Suid-Afrikaanse hub vir volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD’e). Hy het verduidelik die VOD-hub is ’n meta-platform wat daarop gemik is om navorsing oor volhoubare ontwikkeling aan beleidsmakers beskikbaar te stel. “Ons werk met metadata van 14 plaaslike bewaarplekke asook van die top universiteite in die buiteland. Meer as 160 000 navorsingsitems van die afgelope tien jaar word ten opsigte van een of meer van die VOD’e deur masjienleer geklassifiseer.”
Masjienleer kan help om bewaarplekke toegankliker te maak en kan op verskeie gebiede waarde toevoeg, meen Fourie. Volgens hom is dit regverdig om aan te neem dat oop bewaarplekke deel uitgemaak het van die skep van groot taalmodelle en dat navorsingsdata tot meer intelligente, akkurate en etiese kunsmatige intelligensie bygedra het wat in kletsbotte soos ChatGPT gebruik word. Fourie het ’n nuwe digitale instrument verduidelik wat ’n beleidsmaker in staat sal stel om ’n beleid op te laai en dan op grond van al die beskikbare data in ’n groot databasis, moontlike kwessies in die beleid uit te wys. Die beleidsmaker sal dan skakels na die toepaslike navorsing ontvang wat oplossings vir spesifieke kwessies bied.
OR2023-afgevaardigdes het na afloop van die daaglikse akademiese besprekings en werksessies ’n verwelkomingsgeleentheid geniet by die Endlersaal, op Dinsdag 13 Junie. Prof Wim de Villiers het afgevaardiges verwelkom gedurende hierdie geleentheid en die Suid- Afrikaanse Jeugkoor het opgetree. Die galadinee het op Woensdag 14 Junie plaasgevind by die Neethlingshof-wynlandgoed.
FOTO: Ellen Tise, prof. Wim de Villiers, Claire Knowles (Voorsitter, Bestuurskomittee van die Oopbewaarplekkonferensie Konferensie / Mede-direkteur: Navorsing en Digitale Toekomste, Universiteit van Leeds Biblioteke), prof. Sibusiso Moyo, dr. Torsten Reimer (Medevoorsitter van die Bestuurskomittee van die Oopbewaarplek Konferensie/ Universiteits bibliotekaris en dekaan van die Universiteit biblioteek by die Universiteit van Chicago.)