Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US koördineer streeksentrum vir uitnemendheid in beroepsgerigte opleiding in die watersektor
Outeur: Faculty of Science (media and communication)
Gepubliseer: 14/06/2023

Die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut (SUWI) sal die vestiging van die eerste streeksentrum vir beroepsuitnemendheid (CoVE) in Water koördineer – wat dit die eerste inisiatief van die platform van beroepsuitnemendheid in water buite die Europese Unie maak.

Die Platform van Beroepsuitnemendheid in Water is 'n projek, befonds deur die Europese Unie, om professionele werkers in die watersektor se vaardighede op te gradeer. Vier CoVE's in Water is reeds in Nederland, Malta, die Tsjeggiese Republiek en Letland gevestig.

Tydens die bekendstelling van die streeks-CoVE in Water op 23 Mei 2023 het prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie aan die US, gesê die vestiging van die platform strook met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se doelwit om vennootskappe tussen universiteite, Tegniese Beroepsopleiding en Opleiding (TVET)-kolleges, die private sektor en die regering te verhoog.

“Die uitkoms is om TVET-instellings met die jongste navorsingsuitkomste te koppel, om sodoende die relevansie van opleiding met die arbeidsmark te verhoog en gegradueerdes se kanse op werk te verbeter. Die Universiteit Stellenbosch het deur die US Waterinstituut 'n gevestigde rekord met TVET-instellings," het sy bygevoeg.

Die bekendstelling, wat by die Universiteit Stellenbosch Museum plaasgevind het, is bygewoon deur verteenwoordigers van die Departement van Water en Sanitasie, die Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, die Departement van Wetenskap en Innovasie, die Energie- en Watersektor Onderwysopleidingsowerheid (EWSETA), die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) en Rand Water, en uit Europa verteenwoordigers van CIV Water, Learning Hub Friesland, Provinsie Fryslân, Maastricht School of Management, en Wavemakers United. Suid-Afrikaanse TVET-kolleges wat by die geleentheid teenwoordig was, het Capricorn TVET Kollege, Vhembe TVET Kollege, Lovedale TVET Kollege, Northlink TVET Kollege, Valsbaai TVET Kollege en Weskus Kollege ingesluit.

Oor die volgende drie jaar sal SUWI se rol wees om die projek op streeksvlak te koördineer terwyl die Europese vennote hul kennis en ervaring bydra om 'n CoVE in Water te vestig. Die doel van die streeks-CoVE in Water sal wees om as tussenganger tussen Suid-Afrika se TVET-kolleges en -industrie te dien.

Die bekendstelling is gevolg deur verskeie vergaderings tussen die verteenwoordigers en ander belangrike rolspelers soos die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, die Landbousektor Onderwysopleidingsowerheid, die Tegnologie- en Innovasie-agentskap, die Wes-Kaapse regering , Drakenstein Munisipaliteit, UNESCO, die Namibiese Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie en SADEC.

Die verteenwoordigers het ook deelgeneem aan terreinbesoeke aan die WaterHub in Franschhoek – 'n gesamentlike inisiatief tussen die Future Water Institute by die Universiteit van Kaapstad, Stellenbosch Munisipaliteit, en die Wes-Kaapse regering – en die Boy Louw Boorgatbehandelingsaanleg in die Paarl, bestuur deur die Drakenstein Munisipaliteit.

Vir meer inligting rakende die platform, kontak Manuel Jackson by jacksonm@sun.ac.za