Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldoseanedag: Veranderinge dringend nodig om ons seehulpbronne te beskerm
Outeur: Courtney Gardiner
Gepubliseer: 08/06/2023

Wêreldoseanedag word jaarliks op 8 Junie gevier. In ʼn meningsartikel vir die Daily Maverick beklemtoon PhD-student in Natuurwetenskappe, Courtney Gardiner, waarom kritiese veranderinge nodig is om die toekoms van ons seehulpbronne te verseker.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder. Klik ook hier vir ʼn vertaalde weergawe van ʼn ongepubliseerde artikel oor Afrika se Blou Ekonomie deur dr Frank Vorhies van die Afrika Wildlewe-ekonomieë Instituut.​

Courtney Gardiner*

Die see is die wonderbaarlike globale reguleerder. Dit vul suurstof aan, reguleer temperature, genereer weerstelsels en voorsien ons van ʼn oorvloed van verskillende voedselhulpbronne. Hierdie jaar word Wêreldoseanedag (op Donderdag, 8 Junie) met die tema “Planeet Oseaan: die getye verander" gevier. Dié tema kan nie meer relevant op hierdie kritiese tydstip wees nie.

Verandering van oseaanomgewings

Ons oseane is beslis aan die verander weens stygende temperature en veranderende omgewingsomstandighede en dit gebeur heeltemal te vinnig. Die veranderinge is kompleks en sluit talle verskillende omgewingsveranderlikes in, soos temperatuur, beskikbaarheid van suurstof en die suurgehalte (pH) van seewater, wat nie in isolasie gebeur nie en moeilik voorspelbaar is. Veranderende mariene toestande het ʼn impak op al die spesies wat in die see woon. Die uitwissing van plaaslike spesies, aook die herverspreiding van spesies in reaksie op veranderende toestande, is al wyd in talle mariene ekostelsels wêreldwyd aangeteken. Dit hou nie net vir die ekostelsels verreikende gevolge in nie, maar ook vir die mense en visserye wat vir hul bestaan van die see en sy hulpbronne afhanklik is.

Ons hoor die term “klimaatsverandering" herhaaldelik. Net soos “Covid-19" in 2020, is dit ʼn onderwerp wat voortdurend in die nuus is. Dis ʼn onderwerp wat dikwels te verwyderd van ons blyk te wees om te konseptualiseer en weens die omvang daaarvan te moeilik is om op te los.

Ons het onsself meestal van die klimaatsveranderingsprobleem losgemaak en assosieer dit met iets wat ons eers in die verre toekoms sal moet aanpak. Dit word soms vererger deur onrusbarende voorspellings oor hoe die wêreld jare van nou af gaan wees. Volgens die 2021-verslag van die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering word byvoorbeeld voorspel dat temperature met tussen 1°C en 5,7°C gaan styg. Dis ʼn uitdaging om die implikasies van ʼn verhoging van 5°C binne net 77 jaar en die impak daarvan op die hedendaagse lewe te verstaan – veral as dit voel asof Suid-Afrika tans van een sarsie beurtkrag na die volgende strompel. Maar as ons vooraf gewaarsku word, soos die geval met beurtkrag was, moet ons wakker skrik en kennis neem. Hierdie is nie meer ʼn probleem wat iewers in die verre toekoms gaan opduik nie – ons word vandag reeds deur die impak van klimaatsverandering geraak. Daar is oorvloedige bewyse van die huidige invloed van globale klimaatsverandering op ʼn verskeidenheid van mariene en landspesies, omgewings en stelsels en die koste vir die mensdom is enorm.

Mariene spesies aan die beweeg

Spesies reageer op veranderende omgewingstoestande deur by hul bestaande habitat aan te pas, na ʼn meer geskikte habitat te soek of plaaslik uit te sterf. Mariene omgewings is geweldig kwesbaar vir klimaatsverandering, omdat die spesies baie meer sensitief vir temperatuurveranderinge is as dié wat op land leef. Dit klink dalk nie na veel nie, maar selfs ʼn toename van 1°C oor ʼn dekade kan ʼn diepgaande en saamgestelde impak op die mariene omgewing hê. Om dit in perspektief te stel: wanneer mens aan die weskus van Suid-Afrika swem, kan een graad soms die verskil wees tussen ʼn verfrissende swem en ʼn kop wat voel of dit van die koue gaan bars – maar minstens hoef mens nie in die water te bly nie.

Die Suid-Afrikaanse kuslyn is as een van die 24 globale klimaatveranderingsbrandpunte geklassifiseer. Hierdie is gebiede waar seeverwarming vinniger as in die res van die wêreld plaasvind en waar vinnige verhitting vir die toekoms voorspel word. Die ooskus sal na verwagting teen ʼn koers van 0,5°C per dekade verhit. Daarenteen sal die wes- en suidkus na verwagting teen ʼn koers van 0,5°C grade per dekade afkoel. Hierdie reaksies verskil soos dag en nag, met die een helfte van ons kuslyn wat vinnig afkoel en die ander helfte wat stelselmatig warmer word. Dit maak dit veel meer kompleks en ingewikkeld om die toekoms van ons mariene ekostelsels en hul inwoners te voorspel.

Terwyl die wereld om hulle verander, sal mariene spesies na areas probeer beweeg waar toestande steeds vir hulle optimaal is. Kom ons gebruik ʼn skool stokvis as ʼn voorbeeld: as hul huidige woongebied warmer word, sal hulle stadigaan verder weg swem na ʼn koeler omgewing wat hulle beter pas. Ons sien hierdie neiging by etlike visspesies aan die weskus van Suid-Afrika wat reeds oor die afgelope dekades suid- of ooswaarts beweeg het om stygende temperature te vermy. In ander dele van die wêreld beweeg visspesies dieper en in die rigting van die pole na koeler omgewings. Vis- en ander mariene spesies beweeg dus in reaksie op veranderende temperature, maar hoekom is dit belangrik vir jou?

Uitkringeffek

Een van die grootste gevolge van die beweging van mariene spesies in reaksie op klimaatsverandering is die uitkringeffek wat dit op globale visserye en mense se bestaan sal hê. Sowat 520 miljoen mense wereldwyd maak na raming op visserye staat as ʼn belangrike bron van kos, inkomste en gesinstabiliteit. In Suid-Afrika ondersteun die mariene omgewing veelvuldige gebruikers. Die kommersiele vissektor skep werk vir sowat 150 000 mense en die waarde daarvan word op R8 miljard per jaar geraam. Boonop maak sowat 30 000 mense op die mariene omgewing as ʼn bestaansbron staat en honderdduisende mense vang vis vir ontpanning.

Visserye kan by hierdie bewegende hulpbron aanpas deur spesies se spoor te volg of na ʼn nuwe teikenspesie oor te slaan. Maar wanneer hele gemeenskappe en nywerhede op hierdie hulpbronne gefokus is, kan verandering kompleks, duur en ʼn logistieke magmerrie wees – om nie te praat van die omvattende impak op die betrokke gemeenskappe nie. Dit word deur geografiese grense vererger. As stokvis wat tans in Suid-Afrikaanse waters voorkom byvoorbeeld verder noord na Namibiese waters skuif, is dit nie meer ʼn hulpbron wat plaaslik geoes kan word nie. En omdat stokvis tot 53% van die vissektor se uitset in Suid-Afrika bydra, is dit duidelik hoekom hierdie ʼn ernstige probleem kan wees.

So wat is volgende?

Net soos die getye en oseaantemperature kan verander en aanpas, kan dieselfde met mense en hul gedrag gebeur.

Verandering vind op verskeie skale plaas. Wat die beskerming van ons mariene ekostelsels en -spesies betref, kan ons as individue ons alledaagse gedrag verander. Ons kan ag slaan op en beheer neem van die kos wat ons inneem, die afval wat ons produseer en die nywerhede en agente van verandering wat ons ondersteun. Ons kan luister na en reageer op die waarskuwingstekens om ons en diegene waarsku wat nog nie die tekens gesien het nie. Op ʼn groter skaal kan wetenskaplikes, beleidmakers, visserygemeenskappe en ontspannings- en kommersiële visserye op ʼn streeks- en globale vlak byeenkom om kennis te deel en buigsame, aanpasbare bestuurstrategieë en -beleide te ontwikkel.

Dit word wel oor die algemeen gedoen en sommige voorbereidings word beslis vir ʼn onseker toekoms getref. Maar die grootste enkele impak om die toekoms te beveilig sal wees om die uitlating van kweekhuisgasse onmiddellik te verminder – en dit sal almal se bydrae verg. Daarsonder sal die toekoms selfs meer onseker wees as wat tans die geval is en sal ons weens ons huidige aksies voor rampspoedige gevolge (met min oplossings) te staan kom.

Soos met enigiets anders sal hierdie veranderinge tyd neem, maar die gevolge van vandag se aksies sal etlike dekades van nou af gevoel word. Inaggenome wat op die spel is, is dit van deurslaggewende belang dat ons nou begin om kritiese veranderinge aan te bring wat die toekoms van ons oseane sal verseker.

*Courtney Gardiner is ʼn PhD-student aan die Universiteit Stellenbosch. Sy fokus op visserye en die impak van klimaatsverandering daarop en op mense se bestaan namate herverspreiding van kommersiële visspesies plaasvind om by ʼn veranderende klimaat aan te pas.