Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika-oplossings nodig om SA se onbekende dooies te help identifiseer — Kathryn Smith
Outeur: Kathryn Smith
Gepubliseer: 02/06/2023

Suid-Afrika worstel met ʼn stille massaramp van vermiste en ongeïdentifiseerde mense wat samewerkende intervensies en oplossings uniek aan ons konteks verg. Só skryf dr Kathryn Smith* van die Department Visuele Kunste in ʼn meningsartikel wat op 1 Junie 2023 deur die Mail & Guardian geplaas is.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​​Die getal ongeïdentifiseerde individue wat jaarliks in Suid-Afrika se regsgeneeskundige laboratoriums opgeneem word, kan tot 10 000 wees. Beroepslui in die veld skat hierdie getal konserwatief op ongeveer 7 000. Studies gegrond op die land se besigste regsgeneeskundige fasiliteite in Kaapstad en Johannesburg bevestig dat tussen 9% en 10% van liggame ongeïdentifiseerd bly nadat die tydperk vir identiteitsvasstelling verstryk het. 

Om ʼn frase aan die VSA se National Missing and Unidentified Persons System te ontleen, is dit “'n stille massaramp oor tyd heen". En tensy ons oor dissiplines heen begin saamwerk en kreatief dink oor hoe om forensiese nadoodse identifikasie in ons unieke en komplekse konteks te doen, gaan hierdie syfers nie verbeter nie.

Die vasstelling van die omstandighede van onnatuurlike sterftes en kuratorskap van hierdie liggame in Suid-Afrika is die verantwoordelikheid van die Forensiese Patologiedienste. Identifikasie is die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat beteken samewerking tussen hierdie twee dienste is noodsaaklik en kapasiteit is ʼn enorme uitdaging.

Tensy ʼn vingerafdruk-vergelyking ʼn positiewe resultaat oplewer, is die proses om ʼn onbekende mens te identifiseer selde eenvoudig. In ʼn land waar mediese sorg buite bereik van die meeste mense is – wat beteken dat tandheelkundige rekords nie beskikbaar is nie – kan ons doodeenvoudig nie staatmaak op die metodes wat as wetenskaplik en primêr vir forensiese identifiksie aanvaar word nie, synde vingerafdrukke, DNS en tandheelkundige rekords. Al hierdie metodes verg vergelyking, rekords is moontlik nie beskikbaar nie en DNS-toetse is duur. Voeg hierby dat talle van ons sake kompleks is, wat beteken dat liggame dalk visueel onherkenbaar in die dood kan wees weens ontbinding of erge traumatiese beserings. Sulke liggame verg benewens die standaard- nadoodse ondersoek ook kundige ontleding. Omdat daar net een patoloog vir elke miljoen mense in Suid-Afrika is, is die enorme agterstand in forensiese identifikasie verstaanbaar.

Formele statistieke word net vir onopgeëiste liggame in Suid-Afrika aangeteken. En by gebrek aan ʼn enkele databasis waardeur inligting oor vermiste en ongeïdentifiseerde mense in Suid-Afrika maklik vergelyk kan word, kan die omvang van hierdie krisis nie akkuraat gekwantifiseer word nie. Voorts is die Wes-Kaap die enigste provinsie met gedigitaliseerde gevallerekords.

Ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing kan onopgeëiste en onbekende liggame binne 30 dae deur die staat vir ʼn begrafnis of verassing vrygestel word. Dit is selde genoeg tyd vir die relevante identifikasieprosesse en gespesialiseerde ontledings om te ontvou. Baie lyke word veel langer gehou – twee jaar of meer – sonder om geïdentifiseer te word. Dit skep ook ʼn reuse-stoorprobleem.

Daar is vir elke onbekende dooie mens ʼn vermiste mens, selfs al word hulle nie formeel as vermis aangemeld nie. Die ongeïdentifiseerde dooie mense verteenwoordig dus ʼn krisis vir maatskaplike geregtigheid en strafregspleging. Ons moet beter maniere vind om inligting oor vermiste en ongeïdentifiseerde mense vas te lê en te konsolideer en ons het Afrika-oplossings vir Afrika-probleme nodig. Een oplossing kan wees om opleiding te bied aan studente wat loopbane in forensiese wetenskappe nastreef en kapasiteit sodoende te verhoog. Maar om dit te verwesenlik sal meer universiteite geleenthede aan hierdie studente moet bied om forensiese gesigsbeelding te bestudeer.

Die Universiteit Stellenbosch (US) is tans die enigste hoëronderwysinstelling in Afrika met kundige kapasiteit in forensiese gesigsbeelding vir nadoodse identifikasie, asook die tegnologie om hierdie werk ooreenkomstig internasionale beste praktyke te verrig.

Nadoodse foto's

As ʼn visuele kunstenaar met ʼn gesonde belangstelling in die forensiese wêreld en ʼn bewustheid van die krisis van ongeïdentifiseerde dooie mense in Suid-Afrika, het ek VIZ.Lab in 2021 by die US gevestig. Hierdie inisiatief bevorder navorsing in forensiese visuele identifikasie en eksperimenteer met digitale ontwerp- en visualiseringstegnologieë. Dit is die hoogtepunt van meer as 30 jaar van die produksie van kuns- en kuratorskapprojekte wat deur forensiese waarneming beïnvloed is.

VIZ.Lab het oor die algemeen gespruit uit my belangstelling in nadoodse voorstellings in hedendaagse kultuur en spesifiek uit my doktorale navorsing, wat op forensies visuele identifikasieprosesse gefokus het. Forensiese kunspraktisyns weet dat ons vaardighede tot nadoodse ondersoeke kan bydra, afsluiting vir geliefdes kan bring, misdaadondersoeke kan aanhelp en waardigheid van die afgestorwenes kan herstel. Hierdie werk is ryk aan tegniese teorie, maar arm aan begrip vir die kulturele impak daarvan.

ʼn Deel van hierdie studie het behels om Suid-Afrikaanse prosedures en houdings met internasionale kontekste te vergelyk en rekords van meer as 1 000 onopgeëiste liggame in ʼn Kaapstadse regsgeneeskundige fasiliteit na te gaan, op die kontekstuele data te fokus en die gepaardgaande nadoodse foto's vir beeldgehalte en die toestand van die gesig (herkenbaarheid) krities te assesseer.

Foto's word van alle oorledenes geneem wat in ʼn forensiese fasiliteit opgeneem word, maar daar bestaan geen beeldstandaardisasie nie, wat beteken dat die gevolglike nadoodse foto's baie onbetroubaar is. Dit kan nie met vrymoedigheid vir gesigsvergelyking gebruik word nie, wat ʼn aanvaarde metode van gesigsidentifikasie in gevalle van vermoedelike dood is. Dit is ook nie geskik vir die skep van ʼn digitale voorstelling om ʼn beroep op die publiek vir inligting te doen, wat weer ondersoekleidrade kan oplewer om identiteit deur wetenskaplike metodes vas te stel nie.

Van die 1 010 ongeïdentifiseerde liggame wat gedurende hierdie navorsing bekyk is, was daar net in 30% van die gevalle geskikte gepaardgaande foto's wat gebruik kon word om ʼn digitale nadoodse voorstelling of 'beeldsanitasie' te skep – ʼn doeltreffende proses wat ʼn lewende doodsbeeld van die oorledene skep en wat aanvaarbaar vir sirkulasie onder die publiek is.

'n Gesigskonstruksie van die oorblyfsels van ʼn skelet kan die enigste geleentheid wees om ʼn onbekende mens te probeer identifiseer. Maar die proses is arbeidsintensief, tydrowend en derhalwe duur en kan kundige skoonmaak verg voordat antropologiese ontleding en rekonstruksie gedoen kan word.

Die skedel onthul geweldig baie oor die vorm van die gesig en die gelaatstrekke, maar ander kritiese visuele inligting oor iemand se liggaamlike voorkoms – soos velkleur en -tekstuur, oogkleur, haarkleur, -lengte en -tekstuur, asook liggaamsgewig kan nie net uit die skedel afgelei word nie. Maar hierdie inligting is gewoonlik beskikbaar uit ʼn nadoodse foto as daar voldoende inligting oor die gesig is om die lewende voorkoms af te lei, selfs met trauma aan die gesig. Om ʼn nadoodse foto digitaal aan te pas om ʼn geloofwaardige en aanvaarbare lewende voorkoms te herstel is dus operasioneel gewens en herstel ʼn mate van menswees aan diegene wat in die dood van hul identiteit en gemeenskap geskei is.

Die pad vorentoe

Forensiese identifikasie is multidissiplinêr en samewerking is van deurslaggewende belang. Ons het ʼn kreatiewe benadering nodig, omdat huidige prosedures nie vir die groot getal gevalle opgewasse is nie. Ons moet ooreenkomstig getuienis wat uit internasionale Rampslagofferidentifikasie-kontekste blyk, aandag aan sekondêre identifiseerders skenk – kontekstuele data, klere, persoonlike besittings en tatoeëermerke – en dit alles in ʼn visuele voorstelling met trefkrag saamstel wat vir die publiek toeganklik is.

Sonder goeie beskikbare data is enige verdere wetenskaplike innovasies of kommunikasieveldtogte tot mislukking gedoem. Derhalwe is die opleiding van forensiese beamptes in gestandaardiseerde nadoodse gesigsfotografie en die neem van vingerafdrukke van gehalte twee kostedoeltreffende intervensies wat ʼn betekenisvolle impak sal hê.

Sodanige opleiding is in Julie 2022 aan sowat 90 forensiese beamptes en begrafnisondernemers van oor die Wes-Kaap heen aangebied as deel van ʼn beperkte projek van die Wes-Kaapse Konsortium vir Onopgeloste Sake, ʼn inisiatief wat in 2021 saam met kollegas van die Universiteit van Kaapstad en die US begin is.

Die projek is nog in sy kinderskoene, maar ons kan reeds die potensiële impk op die toekomstige identifikasie van onbekende en vermiste mense sien. Beamptes het die aanvaarding van ʼn Forensiese Humanitêre Aksieraamwerk verwelkom as ʼn manier om die uitdagings van hierdie werk om dienslewering te verbeter en innovasie in komplekse identifikasieprosesse in Suid-Afrika te bevorder, beter te kommunikeer.  

Benewens die versameling van vingerafdrukke en gesigsfoto's van gehalte, moet gesigsvoorstellings of -rekonstruksies so vroeg moontlik in die identifikasieproses geproduseer en wyd op sosiale media gedeel word, met duidelike kanale van kommunikasie van die publiek terug na die relevante owerhede.

Dit is ook belangrik om aandag te skenk aan maniere waarop en deur wie data oor vermiste en ongeïdentifiseerde mense versamel word om seker te maak hierdie prosesse sluit álle liggame en identiteitsuitdrukkings in bo en behalwe stereotipes van 'ras' en binêre geslag.

As ons Sir William Gladstone se siening aanvaar dat ʼn nasie se behandeling van sy dooies ʼn goeie aanduiding is van hoe sy lewendes behandel word, moet ons kreatief, saam en samewerkend dink oor hoe forensiese identifikasie beter in Suid-Afrika gedoen kan word. Die traumatiese realiteit van ons enorme gevallelas bied ook die geleentheid vir innovasie op hierdie gebied en die potensiaal om ʼn impak op internasionale praktyke te maak.

*Dr Kathryn Smith is ʼn interdissiplinêre beeldende en forensiese kunstenaar, Voorsitter van die Departement Visuele Kunste aan die US en besoekende navorsingsgenoot by Face Lab (Liverpool John Moores-Universiteit, VK). Sy is ʼn stigterslid van die Wes-Kaapse Konsortium vir Onopgeloste Sake, ʼn lid van internasionale MDVI-navorsingsnetwerke (migrante-rampslagofferidentifikasie) en doen vrywilligerswerk by die Trans Doe-taakmag.