Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gesiene navorsers sal US-vlag laat wapper by SA se ‘Wetenskap-Oscars’
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 01/06/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal goed verteenwoordig wees by die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF)/South32 se toekennings vir 2022/23 met nie minder nie as sewe van die instelling se gesiene navorsers wat om Suid-Afrika se gesogte 'Wetenskap-Oscars' sal meeding. Die wenners sal op Donderdag 13 Julie 2023 by die 25ste jaarlikse NWTF/South32-toekenningseremonie aangekondig word.

Die galageleentheid waar die pryse oorhandig word, sal gelyktydig in Johannesburg en Kaapstad plaasvind. Dit sal aangevul word met uitsendings uit albei stede na 'n aanlyn gehoor op die NWTF se YouTube-kanaal. Dr Blade Nzimande, die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie en die beskermheer van die toekennings, is genooi om as voorsitter op te tree.

Die NWTF/South32-toekennings word as die land se gesogste eerbewyse in hulle soort beskou. Die pryse erken, vier en beloon individue, spanne en organisasies se uitmuntende bydraes tot die wetenskap, ingenieurswese en tegnologie in Suid-Afrika. Mededingers sluit ervare wetenskaplikes, ingenieurs, innoveerders, wetenskapkommunikeerders, ingenieursvermoëbouers, organisasiebestuurders en -leiers, sowel as data- en navorsingsbestuurders in.

Volgens die organiseerders is dit 'n besondere eer om 'n finalis te wees in die lig van die gehalte van die benoemings elke jaar, die strawwe mededinging, en die toenemende belangstelling vanuit die wetenskap-, ingenieurswese- en tegnologiegemeenskap oor die jare.

Die US-finaliste (met hul departemente, afdelings of omgewings tussen hakies) en die kategorieë waarin hulle sal meeding, is soos volg:

Toekenning vir lewenslange prestasie

  • Prof Clive Gray (Molekulêre Biologie en Mensgenetika)
  • Prof Jonathan Jansen (Opvoedingsbeleidstudie)
  • Prof Francesco Petruccione (Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke)

TW Kambule-NWTF-toekenning vir navorsers

  • Prof Novel Chegou (Molekulêre Biologie en Mensgenetika)
  • Prof Marlo Moller (Molekulêre Biologie en Mensgenetika)

NWTF-Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad-toekenning vir ʼn Opkomende Navorser

  • Dr Leigh van der Heuvel (Psigiatrie)
  • Prof Shahida Moosa (Molekulêre Biologie en Mensgenetika)