Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Eco2Wine’ en die EU Horizon Europe se Doktorale Opleidingsnetwerkprojek Oorgehaal om Innovasie en Kommunikasie in Wynbereiding ʼn Hupstoot te Gee
Outeur: Faculty of AgriSciences
Gepubliseer: 01/06/2023

​Die Universiteit Stellenbosch is een van ʼn konsortium van nege universiteite wêreldwyd wat suksesvol meegeding het om ʼn EU Horizon Europe-projek van vier jaar, wat in baanbrekersnavorsing, gevorderde doktorale opleiding en openbare kommunikasie oor nuwe benaderings tot wynbereiding sal belê.

Die vierjaarlange 'Eco2Wine'-projek sal teen die einde van 2023 begin. Ongeveer R10.4 miljoen sal aan die Universiteit Stellenbosch toegewys word en sal gebruik word vir die opleiding van twee PhD-kandidate – een elk in wynwetenskap en wetenskapskommunikasie – en ook vir navorsings- en netwerkaktiwiteite. Twee navorsers van Stellenbosch is betrokke: professor Florian Bauer, bekleër van die SA Navorsingsleerstoel in Geïntegreerde Wynwetenskap, en professor Marina Joubert, navorser op die gebied van openbare wetenskapsbetrokkenheid by die Sentrum vir Navorsing oor Evaluering, Wetenskap en Tegnologie (SENWET).

Die vennootuniversiteite in die Eco2Wine-konsortium kom uit die wynboulande van die wêreld, waaronder Italië, Duitsland, Frankryk, Georgië, Spanje, Slowenië en Suid-Afrika, en die projek sal deur die Universiteit van Milaan gekoördineer word. Die bedryfsvennote in Suid-Afrika sluit in Winetech, die navorsings-, ontwikkelings- en innovasievennoot van die plaaslike wynbedryf, en Reyneke Wines, ʼn plaaslike wynplaas en -kelder wat baanbrekerswerk ten opsigte van omgewingsvolhoubare benaderings in die plaaslike wynbedryf doen.

Die wetenskapsoogmerk van die Eco2Wine-projek is om die mikrobiese wisselwerkings wat tydens wynbereiding voorkom, as hulpmiddels vir innovasie in te span. Sodoende word gepoog om natuurlike, ekovriendelike wyne te produseer, terwyl wingerdbestuur ook verbeter en meer opsies aan verbruikers gebied word.

“Ons glo dat ons, deur die manipulasie van die wisselwerkings tussen die menigte fungi, giste en bakterieë wat natuurlik by wynbereiding betrokke is, die proses meer volhoubaar kan maak en uitstekende natuurlike wyne met nuwe kenmerke kan produseer," verduidelik professor Bauer. “Ons sal fokus op die lewering van innoverende wyne van hoë gehalte, wat op omgewingsvriendelike wyse geproduseer word en op internasionale markte kan meeding. Om dit te doen, moet ons die komplekse funksies en wisselwerkings van mikrobes regdeur die wynbereidingsketting – van die wingerd tot die kelder – karteer en verstaan."

Buiten vir wetenskapsvaardighede, sal die PhD-kandidate wat deur hierdie projek opgelei word, ook gevorderde vaardighede in wetenskapskommunikasie en gemeenskapsbetrokkenheid opdoen. “Dit is ʼn interessante nuwe benadering tot die kombinering van wetenskapsgerigtheid met wetenskapskommunikasie, wat sodoende die sosiale en natuurwetenskaplikes in staat stel om kragte saam te snoer," noem Lizel Senekal van die Afdeling Navorsingsontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch. “Ons glo dat dit die norm vir toekomstige projekte van hierdie aard sal word."

Volgens prof Joubert staan die studie van die dinamika binne mikrobe-gemeenskappe as 'mikrobiomika' bekend. “Dit is ʼn ingewikkelde brandpunt- wetenskaplike studieveld en dit kan moeilik wees om nuwe vooruitgang en toepassings vir lede van die bedryf en verbruikers tersaaklik en toeganklik te maak," verduidelik sy. “Hierdie nuwe wyne kan egter slegs met die ondersteuning van alle belanghebbers in die wynbereidingsketting slaag. Deurlopende en proaktiewe betrokkenheid en dialoog met al die betrokke rolspelers, waaronder die medeskepping van nuwe oplossings en benaderings in samewerking met wynmakers, sal dus noodsaaklik wees."

“Wat verbruikersvoorkeure betref, weet ons dat mense deesdae op soek is na wyne van hoë gehalte, wat ook ʼn emosionele behoefte bevredig; byvoorbeeld, ʼn positiewe verandering in gemoedstemming," voeg professor Bauer by. “Dit beteken dat hulle wyne kies wat by hulle persoonlike waardes en voorkeure pas. Verbruikers is ook toenemend op soek na natuurlike en ekovriendelike opsies."

In ooreenstemming met die nuwe wetenskaplike benadering sal die Eco2Wine-projek op nuwe en skeppende benaderings tot openbare kommunikasie en betrokkenheid fokus, waaronder digitale verhaalkuns, virtuele uitstallings en wetenskap-kuns-skakels, asook pogings om die tersaaklike groepe by die medeskepping van nuwe idees en kennis te betrek. Die span sal ook seker maak dat vordering en uitkomste deurlopend via die hoofstroom- en sosiale media gedeel word.