Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SANW moet bewustheid oor kubersekuriteit opskerp
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 31/05/2023

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is net so kwesbaar vir kuberaanvalle soos enige ander entiteit of organisasie. Om kuberaanvalle te voorkom of te temper moet die SANW bewustheid oor kubersekuriteit onder sy militêre offisiere skep, gepaste opleiding en onderrig aan hulle bied, en die vereiste tegnologie aankoop.

“Bewustheid van kubersekuriteit is nie net nodig vir die transformasie van die wyse waarop die SANW se organisatoriese kultuur tegnologie aanvaar nie, maar ook van hoe bedreigings beskou en uiteindelik getemper word," sê die navorsingsielkundige en kubersekuriteit-opleidingspesialis dr Kyle Bester.

Bester het onlangs sy doktorsgraad in militêre wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Die onderwerp van sy tesis was “'n Ondersoek na die persepsies van kubersekuriteit onder Suid-Afrikaanse militêre offisiere".

Bester sê hy het militêre offisiere se sienings en persepsies van kubersekuriteit ondersoek omdat dit insig kon bied in hoe die SANW bewustheid van kubersekuriteit bevorder en bedreigings temper.

As deel van sy studie het Bester onderhoude gevoer met senior offisiere wat vir ʼn professionele militêre ontwikkelingskursus by die Suid-Afrikaanse Nasionale Verdedigingskollege ingeskryf was. Hy het voorts studente by die Suid-Afrikaanse Militêre Akademie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Oorlogskollege gevra om ʼn vraelys te voltooi oor hul mening oor die deel van inligting, sekuriteitsoriëntasie, bewustheid van kubersekuriteit, en kuberkultuur.

Bester sê die militêre offisiere was bewus van kuberbedreigings wat die SANW skade kan berokken en het hulle aflyn en aanlyn sekuriteitsgedrag toepaslik aangepas.

“Hulle was van mening dat dit nie veilig is om organisatoriese inligting op sosiale mediaplatforms te deel nie, omdat dit die SANW aan die risiko van kuberaanvalle kan blootstel. Hulle het voorts gemeen hul persoonlike inligting is belangrik, wat kan beteken dat die onoorwoë uitruiling van persoonlike data in die kuberruim hulle kwesbaar vir uitbuiting kan maak.

“Hulle was bewus van die belangrikheid van inligtingsekuriteit en die gevolge as daar nie aan die kubersekuriteitriglyne in die organisasie voldoen word nie.

“Praktyke met betrekking tot die deel van inligting is as ʼn area van kommer geïdentifiseer, omdat die inligting oor bedreigings nie noodwendig al die range in die organisasie bereik nie, wat die identifikasie daarvan en doeltreffende reaksie daarop bemoeilik."

Die deelnemers het ook die behoefte aan onderrig en opleiding benadruk om bewustheid oor kubersekuriteit regdeur die organisasie te skep, voeg Bester by.

Volgens hom sal kennis van en opleiding in kubersekuriteitbedreigings ʼn invloed hê op hoe militêre offisiere hul aanlyn sekuriteitsgedrag interpreteer en aanpas.

“Dit kan weens die SANW se voortgesette begrotingsbeperkings moeilik wees om ʼn pasgemaakte kubersekuriteit-opleidingsprogram vir die verskillende sekuriteitsvlakke in die organisasie te implementeer."

Benewens onderrig en opleiding, het die deelnemers ook ʼn behoefte aan doeltreffender sagteware en tegnologiese gereedskap uitgespreek om kubersekuriteitsbedreigings in die SANW aan te pak, sê Bester.

“Sommige het ook gevoel meer aandag moet aan beste praktyke en beleidsriglyne oor kubersekuriteit in die organisasie gegee word."

Bester wys daarop dat die SANW die belangrikheid van kubersekuriteit begryp, veral omdat dit saam met wetstoepassingsagentskappe en intelligensiedienste by kuberwaarneming betrokke is.

Hy sê die leër het ʼn belang by die kuberruim omdat dit die identifikasie van interne en eksterne teenmaatreëls moontlik maak, asook toenemende geleenthede om groter veerkragtigheid teen bedreigings te bewerkstellig waardeur operasionele aktiwiteite uitgebrei word, sy eie belange beskerm word en nasionale kubersekuriteit in stand gehou word.

“Dit is dus van kardinale belang dat alle militêre personeel oor die relevante sekuruteitsrisiko's ingelig bly, asook oor moontlike bedreigings wat hulle in ʼn professionele of persoonlike konteks kan teëkom. Dít is van sleutelbelang om kubersekuriteit in die SANW in stand te hou, asook vir die inwerkingstelling van beleide en direktiewe.  

“'n Toename in bewustheid van kubersekuriteit is van die opperste belang omdat militêre offisiere kwesbaar is vir pogings van misdadige aanlyn operateurs om hulle te mislei of selfs te dwing om sensitiewe inligting oor operasionele aktiwiteite te deel. Hulle kan ook onwillekeurige of willekeurige toegangspunte vir kwaadwillige sagteware skep waardeur hierdie operateurs die SANW se netwerk kan binnedring."

Bester kom tot die gevolgtrekking dat groter klem op ondersoeke oor militêre offisiere se persepsies oor kubersekuriteit geplaas moet word, omdat die menslike komponent reeds as die kwesbaarste element in die bestuur van sekuriteit geïdentifiseer is.  

  • ​​Foto deur Cliff Hang van Pixabay.