Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verbind aan Afrika: Prof Taryn Young, kampvegter vir openbare gesondheidsorg
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 26/05/2023

Sedert sy in 2008 by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidsdienste (FGGW) aangesluit het, het prof Taryn Young op ʼn klomp gebiede uitgeblink – van navorsing en onderrig tot die beïnvloeding van gesondheidsbeleide en -praktyke. Haar spesialiteitsgebied is epidemiologie en sluit omvattende navorsing oor MIV/vigs, seksueel oordraagbare infeksies en openbare gesondheid in. Sy het in hierdie hoedanigheid toesig oor etlike inisiatiewe en navorsingsprojekte gehou wat ʼn impak op bewysgebaseerde gesondheidsorg (BGGS) in Afrika het.

Kan jy ons meer vertel oor jou reis om ʼn leier op die gebied van BGGS te word en hoe jou passie vir hierdie veld ontwikkel het?

Ek het kliniese werk gedoen nadat ek as ʼn dokter gekwalifiseer het, maar iets het ontbreek. Ek het toe besluit om in openbare gesondheid te spesialiseer en sedert my eerste opleidingsjaar, veral toe ek meer oor sistematiese oorsigte en BGGS geleer het, het ek geweet ek is op die regte plek.  

Beskryf ʼn besonder onvergeetlike of opwindende projek of bevinding tydens jou loopbaan tot op hede.

Ons het ʼn paar jaar gelede ʼn projek oor twee jaar begin om ʼn gestruktureerde benadering van stapel te stuur wat navorsers en beleidmakers met mekaar verbind om die vraag na en ingebruikneming van bewyse van sistematiese oorsigte te verhoog. Dit is op op ses beleidvormingsgedrewe vrae toegepas. Navorsers het min geweet oor beleidvorming se breër inligtingsbehoeftes en oorwegings wat nie navorsingsverwant is nie. Beleidmakers het van die kontak met navorsers gehou en gesê dit het hulle gehelp om tyd in hul dagboeke te maak om deel te neem. Navorsers en beleidmakers was dit eens dat hierdie dialoog nie sonder die gestruktureerde benadering van die projek sou plaasgevind het nie. Die bou van verhoudings het tyd, toewyding en buigsaamheid van albei kante geverg.
Beskryf sommige van die unieke uitdagings wat Afrika-lande met betrekking tot die inwerkingstelling van bewysgebaseerde beleide en praktyke het en hoe gaan jy te werk om hierdie uitdagings aan te pak?

Verskeie faktore het ʼn impak op die vloei van bewyse van navorsing tot beleid tot inwerkingstelling. ʼn Sleutelelement is robuuste navorsing wat vir die streek relevant is en wat die belangrikste gesondheidsprobleme aanpak. Mens moet ook na ál die navorsing kyk en dit is waar bewyssintese soos sistematiese oorsigte allerweë as goeie bronne van bewyse erken word en hul doeltreffende gebruik in beleidvorming derhalwe al omvattend bepleit is.

Om die ingebruikneming van navorsingsbewyse in gesondheidsorgbeleid en -praktyk te verhoog is interpersoonlike verhoudings en kommunikasie tussen gebruikers en produseerders van navorsing van kernbelang. Voorts speel kapasiteitontwikkelingsinisiatiewe ʼn sleutelrol om navorsing en die gebruik van navorsingsbewyse te ondersteun – veral om die volgende generasie gesondheidsorgpraktisyns en -bestuurders, beleidmakers en navorsers toe te rus om kritiese denkers en lewenslange leerders te wees.

Bowenal sal samewerking, die deel van beste praktyke en lesse wat geleer is, die beperking van onnodige duplikasie tot die minimum en die kweek van billike vennootskappe ons help met ons strewe om gesondheid en gesondheidsorg in die Afrika-streek te bevorder.  

Kan jy van die samewerkingsgeleenthede beskryf waarby jy met ander organisasies en instellings betrokke was en hoe dit BGGS in Afrika bevorder het?

Samewerking is die kern van die bevordering van bewysgebaseerde besluitneming. Gesondheidsorgpraktisyns en -bestuurders, beleidmakers en navorsers, die media, die publiek – die lys hou aan en aan – moet almal in respekvolle, regverdige vennootskappe saamwerk om ʼn verskil te maak. ʼn Paar voorbeelde van my kant af: 

  • Die Covid-19-pandemie het vinnige optrede vereis om praktyke in te lig. Ek het internasionaal met enersdenkende wetenskaplikes geskakel in die Covid-19-bewysnetwerk om besluitneming te ondersteun (COVID-END), om relevante sintese oor Covid-19-voorkoming- en -behandelingstrategieë te onderneem, beskikbaar te stel en by te werk en duplikasie te verminder. Ek was medevoorsitter van die Sintetiseringswerkgroep, wat bydraers van Australië, Kameroen, Kanada, Chili, Frankryk, Ierland, Israel, Libanon, Maleisië, Noorweë, Suid-Afrika, die VK en die VSA ingesluit het.
  • Ek het die koördinasie gelei van die Navorsingsbewyse- en Ontwikkelingsinisiatiefprojek (READ-It), wat bewysgebaseerde praktyk en beleid bevorder – die fokus is op oorsigte met ʼn hoë-impak wat globale en nasionale riglyne en beleide beïnvloed.
  • Ek ondersteun die ontwikkeling en implementering van opleiding, mentorskap en steun vir Cochrane Africa-outeurs.
  • Die CEBHA+-projek (Collaboration for Evidence-Based Healthcare and Public Health in Africa), wat deur die Duitse Federale Ministerie van Onderwys en Navorsing as deel van die Research Networks for Health Innovation in Sub-Saharan Africa Funding-inisiatief befonds is, het samewerking deur Ethiopië, Duitsland, Malawi, Rwanda, Uganda en Suid-Afrika behels om langtermyn-kapasiteit en infrastruktuur vir BGGS en openbare gesondheid in Afrika suid van die Sahara te vestig.
  • Ek skakel met die media en het deurlopende projekte om skakeling tussen joernaliste en navorsers te bevorder. Gedurende die hoogtepunt van Covid het ek byvoorbeeld met Bhekisisa en die McGill-universiteit saamgespan om kennis en begrip van epidemiologiese konsepte onder joernaliste te verhoog.

    Kan jy van die inisiatiewe beskryf wat jy as Hoof van die Afdeling Epidemiologie en Biostatistiek aan die FGGW aangevoer het om navorsingsuitnemendheid en kapasiteitsbou te bevorder?

    Ek skakel aktief met mede-akademici om die kapasiteit te bou om navorsing te doen en te gebruik en dra tot streeksinisiatiewe by om kapasiteit te bevorder met die oog daarop om skaars hulpbronne te deel.

    Ek het voorts studentegroei in die MSc-program in kliniese epidemiologie verhoog, meer as 150 studente het onder my gegradueer en meer as 60 studente het in ewekniebeoordeelde vaktydskrifte gepubliseer.

    Ek is ook die medeleier van die vestiging van ʼn MSc in biostatistiek en onlangs van ʼn PhD in biostatistiek en ons het befondsing van die VSA se National Institutes of Health (NIH) bekom ter ondersteuning van die implementering van die programme. Ons het streeksvennotskappe en skakel met die Centres for Disease Control and Prevention (CDC) om ʼn internskap van drie maande vir ons tweedejaars aan te bied. Ons is veral gretig om vroue in biostatistiek te laat vorder (https://www.youtube.com/watch?v=FMwEx3TmA3I).

    Alle gesondheidsorgberoepslui moet goeie navorsingsgebruikers wees. Ek bied leierskap om onderrig en leer van BGGS op ʼn voorgraadse vlak te verbeter. Dit behels samewerking met kliniese en nie-kliniese departemente. Die sukses van hierdie inisiatiewe het meegebring dat verbintenisse met ander akademiese instellings uitgebrei is en dit het verskeie geleenthede gebied.

    Ek doen ook aktief navorsing om inligting vir vakkundige studies in epidemiologie, biostatistiek en BGGS te verskaf. Ek het vir hierdie doel navorsing gedoen oor hoe kapasiteit in epidemiologie en biostatistiek ten beste gebou kan word.

    Jy het meer as 150 akademiese artikels geskryf en meer as R150 miljoen se befondsing vir die US bekom. Wat is die belangrikste lesse wat jy geleer het oor die verkryging van befondsing en die publikasie van navorsing van ʼn hoë gehalte?

    Dit verg harde werk, toewyding en tyd om dit te laat gebeur. Sonder die ondersteuning van my gesin, ʼn toegewyde span, ʼn samewerkingsnetwerk en ʼn bemagtigende werkomgewing sou dit nie moontlik gewees het nie.

    Synde ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap, wat reken jy is van die grootste uitdagings wat Suid-Afrika vandag in die gesig staar en hoe dink jy kan hierdie uitdagings aangepak word?

    Ons het relevante, gestrenge en tydige navorsing ter inligting van gesondheidsorg nodig en daar kan baie beïnvloedende faktore wees. Opsommend moet ons: 
  • op navorsingsprioriteite fokus en onnodige duplikasie vermy;
  • navorsing goed doen en derhalwe die kapasiteit gebou het om dit moontlik te maak;
  • deursigtig oor navorsing verslag doen;
  • skaars hulpbronne goed gebruik;
  • skakeling tussen navorsers en beleidmakers bevorder om bewysgebaseerde beleidsvorming te bevorder, wat nie sonder die toewysing van tyd en hulpbronne volgehou kan word nie; en
  • die navorsingsomgewing bemagtig.


Watter raad het jy vir jong navorsers en studente wat in ʼn loopbaan in BGGS belangstel en hoe kan hulle meer by hierdie veld betrokke raak?

Hulle moet na ander in die veld uitreik en met hulle saamwerk; sistematiese oorsigte lees; asook vir ʼn BGGS-kursus inskryf en meer leer oor wat dit behels.

Wat geniet jy die meeste van jou werk by die US? 

Om saam met die beste span te werk.  

Wat is die trotsste prestasie van jou lewe?

­My gesin. Uit ʼn akademiese en werkperspektief het ek gevorder van ʼn kleindorpse Bolandse meisie tot ʼn uitgelese professor en in 2022 het ek die Kanselierstoekenning vir my voortgesette bydraes tot uitnemendheid ontvang. Vir my behels al hierdie toekennings erkenning, eer en dank aan al die rolmodelle op my reis. My ma was my grootste inspirasie.

Soos Madiba dit gestel het: “Wat die meeste in die lewe tel, is nie die blote feit dat ons gelewe het nie. Dit is die verskil wat ons aan ander se lewe gemaak het wat die betekenis sal bepaal van die lewe wat ons lei."

Laastens, vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat min mense sal verwag? 

Ek is mal oor dans en om na harde musiek te luister.