Die Universiteit Stellenbosch (US) se institusionele tema vir Mei vanjaar is “Verbind tot Afrika" en vandag vier ons Afrika-dag saam met die res van die wêreld. Afrika-dag is die jaarlikse herdenking van die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid op 25 Mei 1963. Die US het oor die afgelope dekades verhoudings met talle ander Afrika-lande gekweek en ons akademici werk met top-wetenskaplikes op die vasteland saam. In hierdie reeks bekyk ons ʼn paar van die US-akademici wat akademiese uitnemendheid deur ʼn betekenisvolle voetspoor in die Afrika-konteks verpersoonlik.
Prof Lorna Dreyer het twee termyne as Hoof van die Departement Opvoedkundige Sielkunde aan die US gedien. Sy is ʼn eerstegenerasie-gegradueerde en beskryf die verwerwing van haar PhD as die trotsste oomblik in haar akademiese loopbaan. Die onderliggende fokus van al haar navorsing en publikasies is menseregte en sosiale geregtigheid – beginsels wat sy as grondliggend tot inklusiewe onderrig in Afrika bestempel.
Vertel ons meer oor jou akademiese agtergrond en hoe dit tot jou huidige pos gelei het?
Ek het gedurende onstuimige jare in die land aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gestudeer. Ek het ʼn B.Ed. in menslike ekologie, ʼn B.Ed. Hons in hoëronderwys en ʼn MPhil (kognisie en onderrig) verwerf. Dit het die grondslag gelê vir my loopbaan as onderwyser in primêre, sekondêre en spesiale behoeftes-onderrig. Die fokus van die navorsing vir my meestersgraad, ʼn inleiding tot inklusiewe onderrig, het die weg berei om deel te word van die eerste groep Leerondersteuningsraadgewers in die Wes-Kaapse Departement van Onderwys.
My belangstelling in inklusiewe onderrig en die verskaffing van leerondersteuning het tot ʼn PhD (onderrigondersteuning) aan die US gelei. ʼn Jaar later, in 2009, het ek as lektor by die Departement Opvoedkundige Sielkunde aangesluit. Dit was die begin van ʼn meer akademiese loopbaan en het meegebring dat ek twee termyne, van 2019 tot 2022, as Hoof van die Departement Opvoedkundige Sielkunde gedien het.
Kan jy ʼn navorsingsprojek of samewerking met ʼn besonderse impak beskryf waarin jy op die vasteland van Afrika betrokke was?
As ek moet kies, sal dit die projek saam met dr Dorothy Adimora van die Universiteit van Nigerië Nsukka wees. Die projek het begin met ʼn hoofstuk in ʼn boek met die titel “Women in academia: work-life balance in neo liberal academia". Ons is tans besig om hierdie projek uit te brei. Data van hierdie navorsing kan lei tot ʼn begrip van die kontekstuele realiteite in vroue se nastrewing van akademiese uitnemendheid.
Die Reformed Church University (RCU) van Zimbabwe was by nog ʼn bevredigende projek betrokke. Ek het ʼn leidende rol gespeel om die verrigtinge van die RCU se eerste internasionale konferensie oor inklusiewe onderrig te redigeer en met behulp van die US se Internasionale Kantoor gepubliseer te kry.
En dan onderneem ons saam met die Universiteit van Namibië 'n samewerkende, vergelykende projek oor “Ervarings van studente met ʼn spesifieke leerversteuring", wat steeds aan die gang is. Hierdie navorsing kan insig in studente se ervarings bied sodat outentieke, inklusiewe onderrig en ondersteuning in die Afrika-konteks bevorder kan word.
Jy is ʼn gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting (NNS). Watter verantwoordelikhede dink jy gaan met daardie titel gepaard wat betref akademiese leierskap in Afrika?
Afrika beskik oor oorvloedige onontginde kennis en kundigheid. Ons moet saamwerk om navorsing óp die vasteland met akademici ván die vasteland te bevorder. Ons as navorsers het die verantwoordelikheid om navorsing te doen wat kontekstuele realiteite weerspieël. Ons is geneig om modelle van ryker lande in die Weste te gebruik wat nie vir die konteks geskik is nie.
Hoe prioritiseer en benader jy menseregte- en sosiale geregtigheidskwessies in jou navorsing?
Die onderliggende fokus van al my navorsing en publikasies is menseregte en sosiale geregtigheid. Dit is die grondslag van inklusiewe onderrig, veral teen die agtergrond van kolonisering in die groter Afrika en die nagevolge van apartheid in Suid-Afrika.
Wat is van die grootste uitdagings vir inklusiewe onderrig van gehalte in Afrika en hoe dink jy kan dit aangepak word?
Dit is die nalatenskap van kolonialisme wat nasies op soveel wyses verarm het, soos onder meer op onderwys- en ekonomiese gebied. Ryker, “ontwikkelde" lande kan op die verskaffing van onderrig van gehalte deur goed ontwikkelde en goed befondste onderwysstelsels fokus, maar “ontwikkelende" lande se hooffokus is steeds daarop om te verseker dat alle kinders toegang tot onderwys het. Talle skole op die vasteland word steeds deur uitdagings soos infrastruktuur en onvoldoende finansiële en menslike hulpbronne in die gesig gestaar.
Die huidige oplewing in die belang van kunsmatige intelligensie (KI) kan dalk weer eens te laat van waarde word vir die meerderheid in Afrika wat reeds met die koste van data en onbetroubare internettoegang sukkel. Ons het politieke wil en samewerking tussen sektore nodig om inklusiewe onderwys en steun vir hoë gehalte te verseker.
Watter raad het jy vir jong navorsers en studente wat in opvoedkundige sielkunde belang stel?
Ek sou vroeë-loopbaan-navorsers aanraai om hul eie onderrig en pedagogie vir hul navorsing en publikasies te gebruik.
Daar was nog altyd ʼn behoefte aan psigo-opvoedkundige dienste vir sosiale impak en navorsing in sielkundige opvoedkunde, maar die onlangse Covid-19-pandemie het hierdie behoefte aansienlik vergroot. Opvoedkundige sielkundiges moet opleiding en onderrig in die veld vir hul navorsing gebruik om as akademici te groei
Die behoefte aan opvoedkundige steun in ʼn inklusiewe onderwysstelsel is net so belangrik. Daar was nog altyd ʼn behoefte aan toepaslike onderwyssteun vir leerders, maar Covid-19 en die gedwonge sluiting van skole het die situasie vererger. Diegene met die nodige middele kon aanlyn voortgaan, maar die meeste leerders van swart (generiese term) gemeenskappe in Suid-Afrika het nog verder agter geraak . Dit is nie uniek aan Suid-Afrika nie en ʼn kollega in Botswana het genoem aanlyn onderwys was ʼn probleem weens toegang tot slimtoestelle en internetfasiliteite. Dit het ʼn “digitale kloof" veroorsaak.
Hoe lyk ʼn tipiese werkdag?
Ek dink nie ek het so iets nie. Maar ek funksioneer soggens die beste en verleen dan voorkeur aan my eie skryfwerk en my studente se tesisse. Dan is daar die nimmereindigende e-posse, asook koördinasie van modules en van die B.Ed. Hons-onderrigsteunprogram. Ek onderrig ook ʼn voorgraadse module en drie nagraadse programme. Bestuursverantwoordelikhede het die afgelope jare heelwat van my tyd in beslag geneem.
Voorts doen ek al my eie huiswerk, is ʼn vrou, ma, ouma, dogter van ʼn bejaarde pa en is betrokke by ʼn plaaslike maatskaplike diensteprogram en die kerk. Ek vervul dus verskillende rolle gedurende die dag. Ek noem hierdie nie-werkverwante rolle omdat dit ʼn impak op die akademie het.
Wat geniet jy die meeste van jou werk by die US?
Die ruim geleenthede wat geskep word om onderrig en navorsing te bevorder. Dit sluit indiensopleiding deur werksessies by die Sentrum vir Onderrig en Leer in, asook etlike finansieringsgeleenthede vir navorsing en samewerking, onder meer die Africa Collaboration Grant.
Vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat min mense sal verwag?
Ek is op hoërskool gekies om vir my provinsie tennis te speel en het later ook die UWK by Intervarsity verteenwoordig. Op skool en gedurende my eerste twee jaar op universiteit was ek ʼn 800 m-atleet.
Wat is jou doelwitte vir die komende jare?
Ek gaan oor ʼn paar jaar aftree. My doelwitte is om toesig oor my nagraadse studente te hou sodat hulle hul studies kan voltooi en aan die huidige samewerkende projekte te werk sodat dit gepubliseer kan word. Daarna sal ek my ervaring en kundigheid aan vroeëloopbaan-vroue in die akademie beskikbaar stel.
Foto: Stefan Els