Die storie wat aan Hana Gammon (20) die eerste prys in die 2023-Statebond-kortverhaalkompetsie vir die Afrika-streek besorg het, is aan ʼn baie spesiale mens opgedra: haar oupa, prof Christo Viljoen, voormalige Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) en President van die Konvokasie tot 2016. Viljoen, wat ʼn betekenisvolle plaaslike en internasionale impak as navorser en onderwyser gemaak het, is op 13 Januarie vanjaar oorlede.
Gammon is tans ʼn BA-student in haar derde jaar in taal en kultuur aan die US en sê sy was “verras en in die sewende hemel” toe sy gehoor het dat haar storie as ʼn streekswenner gekies is. Sy het die nuus via ʼn Zoom-oproep ontvang en het onmiddellik na haar pa, Donald, gehardloop om hom te vertel. “Hy kon dit eers nie glo nie. Ons het gewag vir my ma, Annakie, om huis toe te kom en toe dans ons sommer in die kombuis,” vertel Gammon.
Sy is die jongste streekswenner van die 2023-prys en die beoordelaars het Gammon geprys vir “sensitiewe waarneming, geduldige vertelling en ʼn voortreflik geskrewe storie oor die jeug en die maniere hoe ons volwassenheid deur die ervaring van verlies en die dood bereik”.
Haar wenverhaal, The Undertaker’s Apprentice, volg ʼn groep kinders se interaksie met ʼn klein dorpie se somber, dog gawe begrafnisondernemer. Soos wat die kinders grootword, word hulle gedwing om die kwessies van groei, aftakeling en die wisseling van verskillende liggaamlike toestande te bevraagteken.
“Ek het nie verwag dat dit so ver in die kompetisie sou vorder nie, veral omdat ek ʼn ongepubliseerde skrywer is,” sê Gammon. Sy beskryf The Undertaker’s Apprentice as “effens makaber”. “Die dood en alles wat daarmee verband hou, het my nog altyd gefassineer en dit blyk uit baie van my werk. Die storie is deels deur my navorsing verlede jaar oor die begrafnisbedryf geïnspireer, wat ek as loopbaan oorweeg het.”
Gammon hoop haar verhaal sal tot lesers spreek en ʼn “klein bydrae lewer” tot hoe mense die lewe, dood en verandering aanvaar. “Hierdie temas het my selfs meer geraak sedert my oupa aan die begin van die jaar gesterf het. Dit was die eerste keer dat iemand naby aan my dood is. Oupa was ʼn gerekende skrywer en akademikus en was een van die eerste mense wat my liefde vir skryf aangemoedig het.”
Sy het haar storie vir die Statebond-kompetisie voorgelê omdat sy gedink het dit is ʼn uitstekende geleentheid om by te dra tot ʼn kreatiewe samewerking wat skrywers van oor die wêreld heen byeenbring.
“Ek glo die vertel van stories was nog altyd ʼn baie belangrike deel van menswees en dat dit altyd sal wees, omdat dit die vermoë het om ons te verbind op maniere wat die grense van ruimte en tyd oorskry. Stories verbind ons aan mekaar, aan ons verlede, aan ons toekoms.”
Gammon is vlot in Afrikaans en Engels en het Duits tot op tweedejaarsvlak geneem. Vanjaar is haar vakke Engelse letterkunde, geskiedenis, antieke kulture en Latyn. Modernistiese letterkunde inspireer haar en sy vermeld die skryfwerk van Franz Kafka as ʼn spesifieke invloed.
“Die modules wat ek bestudeer, het my beslis gehelp om die wêreld uit verskillende perspektiewe te bekyk. Geskiedenis en antieke kulture het my gehelp om die verlede op ʼn nuwe manier te verstaan.”
Benewens skryf, geniet Gammon dit ook om te teken, te hekel, te brei en histories geïnspireerde klere te maak, asook om verskeie koddighede te versamel. Sy hou ook van die buitelewe. “Die sublimiteit van ons natuurlike landskappe inspireer my baie. Dit klink dalk soos ʼn cliché, maar ek put baie inspirasie uit wandelings in die berge, die woude en die strande. Kaapstad se winters is veral vir my mooi – daar is ʼn rede dat dit eens die Kaap van Storms genoem is.”
Gammon se ouers is albei ingenieurs, maar al is hulle volgens haar meer “linkerbrein-mense”, het hulle hul dogters se kreatiewe pogings ten volle ondersteun. Emma, haar jonger suster, is mal oor ballet, kook en bak.
Gammon het in Kaapstad grootgeword en het by die Ceder House School skoolgegaan. Die skuif na Stellenbosch vir haar studies was maklik, sê sy. “Vir my is Stellenbosch ʼn gelukkige plek. Ons het altyd my grootouers hier besoek en Sondae middagete saam met Ouma en Oupa geniet. Ek is so bevoorreg om nou die geleentheid te hê om hier te studeer.
Sy is nie seker oor ʼn toekomstige loopbaan nie, maar sy wil aanhou skryf. “Ek oorweeg om volgende jaar ʼn honneursgraad in antieke kulture te doen. Ek wil steeds aanhou skryf, al is dit nie noodwendig as ʼn heeltydse werk nie.”
Sy het reeds twee boeke geskryf en het onlangs een aan ʼn uitgewer voorgelê.
Gevra wat haar raad aan jong skrywers sou wees, sê Gammon sy het geleer dat goeie skryfwerk baie oefening verg. “Baie van die stories en gedigte wat ek aan tydskrifte gestuur het, is verwerp. Ek moes leer om verwerping te aanvaar. Die eerste stories wat ek geskryf het, was nie baie goed nie. Die enigste manier om te vorder is om aan te hou skryf en te oefen.”
Gammon het nog nie besluit wat om met haar prysgeld te doen nie. “My gesin wil volgende jaar Engeland besoek en dalk spaar ek dit daarvoor. Ek het nog nie juis baie daaroor gedink nie, want ek het regtig nie verwag om een van die streekswenners te wees nie!”
Gammon het vyf sterk mededingers op die kortlys vir die prys getroef: mede-Suid-Afrikaners Michael Boyd en Matshediso Radebe, die Keniaanse skrywers Buke Abduba en Josiah Mbote, asook H.B. Asari van Nigerië. Sy dring na die eindronde deur en die algehele wenner sal op 27 Junie aangekondig word.